Landbou
Regering aangevat oor grondtaks
Deur ISABEL STOLTZ

Die TLU SA gaan "onwettige" grondbelastings wat deur munisipaliteite gehef word, op die hoogste regeringsvlak beveg.

Die organisasie hoop om vroeg in Januarie 2008 met mnr. Tito Mboweni, Goewerneur van die Reserwebank, asook verskeie ministers oor die saak te vergader, sê me. Marie Helm, hoofbestuurder van die TLU SA Noord.

Die streekliggaam het 'n mandaat daarvoor van die Warmbad Landelike Belastingstrust en die Waterberg Distrik Landbou-unie gekry nadat die Bela-Bela (Warmbad) munisipaliteit heffingsverhogings van tot 900% in eiendomsbelasting aangekondig het.

Belastingweerhouding word in dié stadium as 'n opsie oorweeg.

Mboweni gaan versoek word om dringend te kyk na die invloed wat plaaslike owerhede op inflasieteikens en ander nasionale beleid het, sê Helm.

"Munisipliteite steur hulle nie aan ekonomiese realiteite óf wetgewing nie en dit hou dramatiese bedreigings in vir die volhoubaarheid van landelike ekonomieë."

Feitlik geen munisipaliteit het nog aan wetgewing gehoor gegee wat 'n impakstudie vereis oor die ekonomiese uitwerking van heffings nie, sê sy.

Volgens die nuut uitgereikte Monetêre Beleid oorsig van die Reserwe Bank, is dit duidelik dat die regering weens swak beheer direk verantwoordelik is vir die feit dat inflasieteikens nie bereik word nie, sê die TLU SA in 'n verklaring.

"Die drie items wat 47% bygedra het tot die administrerende prysinflasie, naamlik grondbelasting, water en elektrisiteit word deur die regering beheer met wetgewing."

Die bydraende faktore van verhogings in grondbelasting is 60%, dié van water 33% en elektrisiteit, 36%.

Dié tendens is strydig met statistieke wat wys dat munisipaliteite 93% wins op waterverkope en 70% op elektrisiteitverkope maak.

Dienslewering deur plaaslike owerhede het nie dienooreenkomstig gestyg nie en boonop word tot 45% van die inkomste vir personeeluitgawes gebruik.

Sou verhogings met inflasieteikens ooreengestem het, sou die indeks 0.6 punte laer gewees het.

Ingevolge die Grondwet mag belasting nie so ingestel word dat dit die regering se monetêre beleid sleg beïnvloed nie, sê Helm.

30 November 2007