'n Plaas van meer as 2 350 ha in Limpopo wat op 11 Januarie deur me. Lulu Xingwana, Minister van Landbou en Grondsake, onteien gaan word, was drie jaar gelede 'n vrywillige verkooptransaksie.
Nadat die eienaars die staat se aanbod daarvoor in 2004 aanvaar het, het die Grondeisekommissie egter nooit weer van hom laat hoor nie. Talle navrae oor die transaksie is bloot geïgnoreer, sê dr. Theo de Jager, voorsitter van Agri SA se grondsakekomitee.
Die Regering gaan die uitvoer- sitrusplaas Callais onteien waarvoor die eienaars drie jaar gelede 'n aanbod van R13 361 000 aanvaar het. Sedertdien het egter niks gebeur nie en nou wil die staat nie in ag neem dat grondpryse intussen met rasse skrede gestyg het nie.
Die grond lê wes van Hoedspruit en is reeds in April 2004 vir 'n restitusie-eis gewaardeer. Die grondeienaars het teen einde 2004 'n aanbod van net meer as R13,3 miljoen van die Regering gekry en dit in Desember 2004 aanvaar. "Daarna het hulle niks weer van die Grondeisekommissie gehoor nie," het De Jager gesê.
Nou, drie jaar later, weier die Regering om in ag te neem dat grondpryse intussen gestyg het en gaan hy die grond onteien omdat 'n "dooiepunt" bereik is oor die prys vir Callais. Die likwidateurs eis R19 miljoen. Die boerdery is intussen bankrot omdat geen ontwikkeling kon plaasvind nie.
Om die boedel afgehandel te kry, sou 'n veiling van die grond in Oktober verlede jaar gehou word. Daar was groot belangstelling en die grond sou na verwagting meer as R19 miljoen behaal. Op die vooraand van die veiling is dit met 'n interdik deur die Grondeisekommissie gekeer.
Landbouweekblad, 11 Januarie 2008