Landbou
Vraagtekens oor grondverkope
Deur ISABEL STOLTZ en AINSLEY MOOS

Ál meer vraagtekens duik op oor die bedrywighede van 'n onderneming wat voorgee hy het 'n mandaat van die Regering om plase vir 'n "grondkoop-veldtog" van die staat te bekom.

Landbouweekblad het op 21 Desember berig mnr. Tozi Gwanya, waarnemende direkteur-generaal van Grondsake, het ontken dat daar só 'n mandaat of 'n ooreenkoms is. Daarna het verskeie eiendomsagente Landbouweekblad gekontak. Die agente is nou onseker oor die ooreenkoms tussen mnr. Roux Shabangu van Roux Property Development Africa en African Dune Investments en die Regering.

Gwanya het verlede week op navraag van Landbouweekblad gesê hy herbevestig sy vroeëre kommentaar dat "die Departement van Grondsake nie 'n ooreenkoms met enige agent het om grond namens hom te koop nie". Gwanya sê hy staan by sy vorige kommentaar dat mense wat voorgee dat só 'n ooreenkoms wel bestaan, "besig is met bedrog en hulle moet aan die kaak gestel word".

Gideon Pretorius Ingelyf, Shabangu se prokureurs, het voor die publikasie van die vorige berig 'n brief aan Landbouweekblad geskryf en geëis dat die publikasie van die berig gekeer word.

Een van die agente wat Landbouweekblad genader het, sê wat hom bekommer, is dat plase wat deur die maatskappy opgekoop word op dié manier "doeltreffend uit die mark gehaal word".

  • Meer hieroor in Landbouweekblad, 18 Januarie 2008