Landbou
Boere wil verkoop, maar Regering slaap
Deur LUCILLE BOTHA (lbotha@landbou.com)

Mnr. Theo en mev. Naomi Fraserhet in 1999 hul aftree-pakette gebruik en 'n stuk grond naby Lutzville gekoop. Hulle het die lewe in die stad verruil vir 'n plattelandse bestaan en 'n soetrissie-boerdery.

Hul droom was van korte duur, want minder as vyf jaar later kom die skoknuus: Die Ebenhaeser-gemeenskap eis die Frasers en 34 ander boere langs die Olifantsrivier, se grond.

Die Ebenhaeser-eis op boerderygrond naby Lutzville is vroeg in 2005 erken en die Regering het R100 miljoen daarvoor bewillig.

Die Ebenhaeser (Vanrhynsdorp) Wet op die Ruil van Grond (Wet 14 van 1925) het destyds die gemeenskap van Ebenhaeser gedwing om3 458 hektaar grond op die oewer van die Olifanstrivier te ruil vir 11 045 hektaar weigrond. Die eertydse gemeenskap van Ebenhaeser kry nou weer die geleentheid om die grond terug te koop.

Sowat 29 grondeienaars het hulle saam met die eisers en die georganiseerde landbou in die Lutzvillese Grondforum gegroepeer om konstruktief met mekaar te onderhandel.

Die Frasers en vyf ander grondeienaars het egter besluit om die Regering se aanbod te aanvaar.

"Jy kom maak 'n lewe hier en het al jou geld hier ingesit. Toe hulle vir ons kom meedeel hulle gaan ons grond koop - amper sê ek kom vat - is jy kwaad, ontstoke, histeries. Hier kom ruk hulle 'n mat onder jou voete uit," sê mev. Fraser.

"My man het gesê die grondeis gaan nie verdwyn nie, ons moet verkoop en 'n lewe op 'n ander plek gaan begin. Ons het 'n brief vir die grondeisekantoor geskryf waarin ons aandui dat ons bereid is om te onderhandel," sê mev. Fraser.

Dit was op 18 November 2004. Vandag, presies drie jaar later, het hulle een tree vorentoe en twee agteruit gegee met die onderhandelings.

Op 1 Desember 2004 het die grondeisekantoor laat weet hulle gaan 'n waardeerder aanstel, maar versoek solank 'n aanduiding oor die koopbedrag wat ons in gedagte het.

"Ons het 'n plaaslike waardeerder gekry om 'n waardasie te doen en het dit as riglyn gebruik. Op 3 Desember 2004 het ons die uiteensetting aan die grondeisekantoor gefaks. Met verloop van tyd het nog vyf boere ons voorbeeld gevolg," sê die Frasers.

Die boere wat ook besluit het om hul grond aan die Regering te verkoop, is: Mnre. De Waal Scholtz van die plaas Môreson (21 ha wingerd), Hennie Rust van Grootgewaagd (31 ha wingerd en groente), Koela Smit van Twee Palms (2 ha met geboue,groentetonnels en perde), Braam van Zyl van Greengold en Robert Jonck van die plaas Sonskyn.

Die grond word teen 'n gesamentlike bedrag van net meer as R12 miljoen verkoop.

Ses maande lank het die boere niks gehoor nie. Die enigste antwoord wat hulle op navrae gekry het,was dat die grondeisekantoor in die proses is om 'n waardeerder aan te stel.

"Alle pogings wat ons aangewend het om met die grondeisekommissaris van die Wes-Kaap (me. Beverley Jansen) in aanraking te kom, het misluk."

Dit het hulle aangevuur. Op 21 Junie 2005 het hulle 'n brief aan die hoofommissaris van grondeise, mnr. Tozi Gwanya, in Pretoria gestuur. Dit was egter soos water op 'n eend se rug en daar het niks van gekom nie.

Op 21 November 2005 het daar wel 'n waardeerder op Lutzville opgedaag - presies 'n jaar nadat die Regering dit die eerste keer aangedui het. Sy verslae het die Grondeisekantoor eers in Februarie verlede jaar bereik.Twee maande later ( in April) het die grondeienaars 'n aanbodbrief vir hul grond en geboue gekry.

"Ons is ook meegedeel dat ons om 'n tafelmoet onderhandel met die Grondeisekantoor en waardeerder ten opsigte van die lopende saak." (Voorheen is aan hulle gesê die Regering wil 'n lopende saak koop, en nie onbewerkte grond nie.)

Die aanbodbrief vir die grond, geboue en lopende saak het op 8 November 2006 opgedaag. Die Frasers het dit nog dieselfde dagaanvaar en vier maande later is 'n afskrif van die koopkontrak by hulle afgelewer.

Maar nog is dit nie die einde nie. "Op 9 Mei 2007 het ons 'n brief van die Wes-Kaapse Grondeisekantoor ontvang waarin hulle ons verwittig dat die hoofommissaris (Gwanya) die aankoop van die eiendom heroorweeg en dat hy 'n herondersoek gelas het na die waardasieverslag waarop die kommissie se aanbod gebaseer was.

"Nou, dertig maande later, is ons nog steeds waar ons was. Ons het al verskeie mense gebel wat die grondeise-vergaderings bygewoon het asook vir die department van landbou in die Wes-Kaap, maar nie een kon ons help of 'n goeie antwoord gee nie," sê die Frasers.

In Junie verlede jaar het nog 'n waardeerder hulle gaan besoek om 'n tweede waardasie te doen.

"Die Minister van Landbou (me. Lulu Xingwana) het al verskeie kere melding gemaak van die erns en spoed waarvolgens hulle die grondeise gaan afhandel. Sy het gesê dat daar slegs ses maande grasie gegee gaan word aan boere om met hulle te onderhandel oor die koopsom. Indien daar nie in ses maande ooreengekom kan word oor 'n prys nie, sal hulle eenvoudig net die grond onteien. Hulle gee ook gereeld die boere die skuld vir al die vertragings.

"Ons is ses boere wat gewillig was om met die staat te onderhandel en hulle sukkel al drie jaar om'n koopkontrak vir ons te gee. Hoe lank gaan hulle met die res sukkel? Die Grondeisekantoor het ook vir ons gesê hulle gaan kantore toemaak en hulle moet klaar wees teen Maart 2008."

Op 11 Julie verlede jaar het die eienaars wel 'n koopkontrak gekry - die koopprys was weliswaar minder as die eerste aanbod. Al die boere het die kontrakte binne drie weke aanvaar en onderteken.

Vandag weet hulle steeds nie hoe die projek vorder nie, en kon hulle ook nie agterkom of die Regering al die kontrakte geteken het nie. Diegene - soos Jansen - wat veronderstel is om die antwoorde te gee, antwoord baie keer nie hul fone nie. Daar word ook nie op boodskappe gereageer nie. Ook mnr. Ben Mars, die projekleier, weet nie wat om vir hulle te sê nie, want hy word duidelik nie ingelig oor die vordering van die projek nie.

Die ironie van die saak is dat die grondeisekantoor van die sestal verwag om elke keer binne 14 dae te reageer op enige skrywe wat aan hulle gerig word.

Mev. Fraser lees 'n paragraaf voor uit een van die briewe wat hulle van die Grondeisekantoor ontvang het: "The parties will do all in their power to insure the speedy transfer of property within a reasonable time." "Klink dit vir jou redelik" vra sy.

"Hoekom handel hulle nie dié ses af en begin solank met projekte hier nie? Dan weet die ander (die grondforum)mos of dit werk of nie?" Mnr. Fraser stem saam: "Ons hoor elke dag die boere wil nie saamwerk nie, maar óns wil."Die ander boere vertel hoe onmoontlik dit is om planne vir die toekoms te maak."Dit strem 'n man. Jy weet nie of jy 'n blok wingerd moet uithaal of nie. As jy weet jy gaan volgende week jou kar verkoop, gaan jy mos nie dié week vir hom vier splinternuwe buitebande koop nie," sê Rust.

"Daar kom opsies los (om vorentoe aan te pak), maar dit gaan weer by ons verby. Ons wil graag met ons lewens aangaan. Ons raak net ouer, nie jonger nie, en hoeveel tyd het ons nog omnuwe besighede te begin?"

Volgens Smit is dit "die nutteloosste besigheid op aarde".

"Hulle speel kat en muis en wil ons sielkundig uitmergel. Ek sukkel om 'n ander plek te koop, want dit moet op skuld gekoop word en die rente is hoog." Volgens Rust het boere van die grondforum ook al aan hulle te kenne gegee dat hulle bereid sal wees om die grond te verkoop, maar wag eers om te sien of dié ses hul geld gaan kry.

Me.AnnelizeCrosby,Agri SAse beleidsraadgewer vir grondsake, sê hulle gaan van die standpunt dat dit altyd beter is om as 'n groep (soos die Lutzvillese Grondforum) te beding, ongeag of daar mense binne die groep is wat wil verkoop al dan nie. Sy het gesê niemand kan egter gedwing word om tot 'n groep te behoort nie.

Die ses boere se saak is egter op 'n onlangse Grondforum-vergader geopper.

"Die grondeienaars het gesê dit is onaanvaarbaar (dat daar nie sekerheid aan die proses is nie).Dit is net nie goed genoeg nie, en kan samewerking tussen die Regering en die grondeienaars bemoeilik.

"Dit plaas die boere in 'n verskriklike moeilike finansiële posisie. En 'n mens gaan nie so met mense om nie, as jy kontrakteer, moet jy daarby hou."

Me. Beverley Jansen, kommissaris van grondeise in die Wes-Kaap, sê egter sy het pas 'n verslag ontvang oor die goeie vordering wat met die onderhandelings gemaak word. "Ons is baie bly daaroor. Die tekening van die S 42ds-dokument is onderweg. Die dokument is al op die hoofommissaris (mnr. Tozi Gwanya) se tafel. Sodra hy sy handtekening daarop sit en die kwaliteitbeheerspan oor alles gegaan het, kan ons 50% van die koopprys uitbetaal."

Jansen wou nie 'n tydstip aan die afhandeling of uitbetaling koppel nie.

"Dit is ongelukkig so dat prosedure nie in een dag klaar kry nie. Ek glo ook dat daar groot ontevredenheid sal wees as daar sleg met staatsgeld gewerk word.

"Restitusie is 'n stadige,moeilike proses, met geen voorbeelde wat ons kan navolg nie. Elkeen is verskillend met verskillende uitdagings."Ons weet dat daar baie ongeduld was, want almal wil die proses agter die rug kry en aangaan met die lewe.

"Ek is bewus van die feit dat die boere planne moet beraam vir die toekoms en het begrip vir die probleme wat die stadige prosesse skep,maar ek kan nie bekostig dat daar foute opduik nie. So, ons volg die reels stiptelik."

"Ons sal dan die samesprekings met ander boere begin met die wete dat die eisers opleiding gaan kry en die grond in die hande van die staat is totdat die nuwe boere opgewasse is."

Landbouweekblad, 18 Januarie 2008