Diamantmyne langs die Namakwalandse Weskus, wat jare lank werk aan duisende inwoners van dié streek verskaf het, is ook een van die grootste bedreigings vir die volhoubare voortbestaan van die gebied se unieke en kwesbare ekologie. Daarby is die myne se vermoë om werk aan baie mense te verskaf, aan't afneem.
Namakwaland is deel van die Sukkulente Karoo, een van slegs twee halfwoestynekostelsels wat as "biodiversiteit-brandpunte" erken word. Biodiversiteit-brandpunte is gebiede waar bewaringsaksies dringend nodig is omdat hulle 'n ryke en unieke biodiversiteit het wat erg bedreig word.
Dié kwesbaarheid van die streek se ekologie asook die noodsaaklikheid om gebiede wat deur mynbedrywighede beskadig is, te herstel én werk te skep, het dr. Peter Carrick, 'n ekoloog verbonde aan die plantbeskermingseenheid van die Universiteit van Kaapstad, aangespoor om in 2005 die Namaqualand Restoration Initiative (NRI) tot stand te bring.
Carrick sê hoewel mynoperateurs in die verlede geprobeer het om die uitgemynde dele te rehabiliteer, was die pogings onge- koördineerd en nie juis wetenskaplik nie.
"Die NRI stel kommunikasie met mynoperateurs, die behoud van bestaande kennis en die gebruik van wetenskaplike veldproewe om nuwe restourasiemetodes te ontwikkel, voorop."
Carrick en sy span, mnr. Raldo Kruger en me. Susan Botha, het die afgelope drie jaar veldproewe gedoen om die ekologiese vereistes vir die vestiging van 'n verskeidenheid meerjarige plantsoorte te bepaal.
Hulle het ook onderhoude met boere, mynoperateurs, landboukundiges en die eienaars van veldrehabilitasiemaatskappye in die streek gevoer om uit te vind hoe hul kundigheid gebruik kan word.
Botha sê hulle het besef dat mynoperateurs en boere reeds jare lank veldrestourasie doen en dat hulle dus heelwat kon leer.
"Al die werk is reeds gedoen. Daarom het ons nie probeer om die wiel te herontdek nie."
Botha, Carrick en dr. Nicky Allsop van die Landbounavorsingsraad se ondersoek na die kennis oor veldherstel wat reeds by mense in die gebied bestaan, het onder meer gevind dat wind een van die grootste bedreigings vir suksesvolle veldherstelpogings in die gebied is. Hierdie bevinding het die gebruik van skadunet as windbreke deurslaggewend vir die suksesvolle hervestiging van inheemse plante gemaak.
Gewapen met wetenskaplike en praktiese kennis, is veldherstelmetodes en 'n "pakket" vir veldherstel ontwikkel. Met skenkings van die Critical Ecosystem Partnership Fund (CEPF) en die De Beers-mynmaatskappy het die NRI 'n onderneming wat die rehabilitasie van uitgewerkte myne onderneem, NM Restoration, begin. Drie Namakwalanders, mnre. Neil MacDonald, Corneels Links en Dudley Wessels, besit en bedryf NM Restoration.
Carrick se NRI-span het verder mense van die gebied genooi om aansoek te doen om gekeur te word vir 'n intensiewe kursus oor veldherstel. Uit die 150 aansoeke wat ontvang is, is 47 kandidate gekeur. MacDonald, Links en Wessels het ook die kursus bygewoon. Gedurende die omvattende kursus het die suksesvolle kandidate geleer:
Kruger sê hy is geïnspireer deur die kursusdeelnemers se gretigheid om meer te leer. "Baie van hulle het ons bedank vir die nuwe wêreld waaraan ons hulle bekend gestel het. Hul passie en deelname was my grootste beloning vir die aanbieding van die kursus."
Altesaam 40 deelnemers het die kursus met welslae voltooi en 15 van hulle is deur die nuwe besigheid in sy eerste jaar in diens geneem. Carrick meen meer werksgeleenthede sal geskep word soos NM Restoration sy bedrywighede uitbrei.
"Dit was nog altyd een van my drome om die mense van Namakwaland te bemagtig deur vir hulle geleenthede te skep om eienaars te word van ondernemings wat noodsaaklike dienste verskaf en waardeur hulle 'n bestaan kan maak uit die biodiversiteit van die gebied se unieke ekostelsels."
Carrick sê hulle verwag dat NM Restoration jaarliks sowat 150 hektaar kan herstel en mynhope vervang met die plantverskeidenheid wat voorheen daar gegroei het.
"Ons is trots op die welslae wat die eienaars van die onderneming en die deelnemers aan die projek reeds met restourasie behaal het. Nog 'n saadjie vir die herstel en ekonomiese opheffing van Namakwaland het in vrugbare grond geval."
Die NRI se werksaamhede word vanjaar afgesluit, maar Carrick sal steeds deur die maatskappy Ecosolutions as raadgewer by rehabilitasie betrokke wees.
Landbouweekblad, 8 Februarie 2008