Mentorskap netjies beskryf
Deur LOUW PRETORIUS
Mentorskap is die antwoord vir
die landbou in die Suid-Afrika
van môre, mits mentors en nuwelingboere
in die bedryf die
eise van só 'n verhouding ken en respekteer.
Mentorskap gaan inwese oor verhoudings,
is die slotsom waartoe dr. Fanie Terblanche
van die Universiteit van Pretoria gekom
het. Hy is 'n senior dosent in die departement
landbou-ekonomie, voorligting en
plattelandse ontwikkeling.
Hy het pas 'n navorsingsprojek oor die
aard en eise van mentorskap in die landbou
afgehandel. Interessante fokuspunte het
aan die lig gekom wat, as dit reg ontwikkel
en bestuur word, 'n groot bydrae tot die
Suid-Afrikaanse landbou kan lewer.
In die begin van grondhervorming was
daar meer mislukte projekte met opkomende
boere as suksesvolles. Juis dít het
volgens Terblanche die kollig op mentorskap
geplaas. Oor mislukkings is dikwels
gesê: "As ons maar net 'n goeie mentor gehad
het." Welslae is feitlik deurgaans deur
deelnemers aan die deur van 'n toegewyde
mentor gelê. Hoofsaaklik suksesverhale het
dus as fondament gedien vir sy navorsing
oor drie jaar. Sy oogmerk was om te bepaal:
Wat aan die wortel van welslae lê.
Wat die rol van mentorskap behels - nie
net ten opsigte van suksesverhale nie, maar
ook die breër ontwikkeling van die nuwelingboere.
Of daar maniere is om vooruit 'n aanduiding
te kry van die potensiaal vir welslae
by mense wat die landbou oorweeg. 'n Instrument
vir dié doel is reeds ontwikkel.
Inligting van dié aard kan goed gebruik
word om doelgerigte opleidingsprogramme
te ontwikkel, sê Terblanche. Met die
hulp van plaaslike betrokkenes het hy suksesvolle
projekte in feitlik ál die provinsies
besoek.
'n Ander belangrike aspek van die navorsing is die feit dat mentorskap net één van die fasette is om 'n nuweling in die boerdery aan die gang te kry. Hierdie bemagtiging
kan op twee maniere geskied: Óf die persoon moet gewillig wees
om homself vir mentorskap oop te stel, óf hy moet deur leer, luister,
kyk en self doen homself bemagtig.
Die één vereiste in albei gevalle is egter gewilligheid. Sonder
die wil om die boerdery te laat werk, is alle pogings gedoem tot
mislukking.
Terblanche sê om mentorskap te laat werk, moet die volgende
in ag geneem word:
Die mentor begelei die nuweling na sukses. Hy sal byvoorbeeld
aan die nuweling vra: "Hoe kan ek jou help sodat jý kan word wie
jy wil wees of kan kom waar jý wil wees." Wanneer dit gaan oor
wat die mentor dink die nuweling behoort na te streef, word 'n
afrigter benodig en is mentorskap nie meer ter sprake nie. Dit beteken
'n goeie mentor is 'n oplosser van probleme. Hy is 'n kundige
persoon, 'n goeie motiveerder wat ander mense respekteer en
iemand met goeie kommunikasievaardighede. Boonop moet hy
geduldig en eerlik wees, want dit verg tyd en energie.
Die nuweling moet sy mentor respekteer en vertrou. Hy moet
bereid en gewillig wees om aan die mentorskapprogram deel te
neem. Niemand kan in so 'n verhouding gedwing word nie. In gevalle
waar laasgenoemde wel die geval was, het dit deurgaans tot
mislukkings gelei. Gevalle is bekend van mislukkings van 'n paar
jaar gelede waar die nuwelinge later uit eie inisiatief opnuut omleiding
aangeklop het en dieselfde projek in 'n lewensvatbare sukses
omgeskep kon word. Nuwelinge moet dus luister na advies en dit
toepas. Daarvoor is geduld nodig.
Onderlinge respek en vertroue moet in stand gehou word. Hierdie
is die sement wat die hele struktuur van mentorskap met ál die
fasette daarvan in 'n hegte en suksesvolle eenheid saambind. Dis
egter nie altyd bloot die feit dat advies soms nie toegepas word
nie wat hierdie verhoudings versuur. Ander faktore van buite kan
dit ook veroorsaak. Vertraagde aksies op grondvlak skep sulke
frustrasies wanneer deelnemers van buite nie hul ondernemings of
beloftes gestand doen nie. Dit sluit in enige vorm van hulp, hetsy
finansieel, toerusting, produkte of enige ander vorm van diens wat
nie betyds beskikbaar is nie. Trouens, presies dieselfde instelling
soos vir 'n mentor vereis, is by hulpdeelnemers by mentorskapprojekte
nodig, verduidelik Terblanche.
Verskille in kultuur en agtergrond is 'n werklikheid. Sommige
mense is haastig en ander minder haastig. Nuwelingboere het by
geleentheid aan Terblanche gesê: "Ons weet hierdie man (mentor)
is 'n haastige man. As hy sy rug draai, roer die skoffelpikke. As
hy môre hier kom en ons het laat slap lê, skop hý die stof op. Op
hierdie plaas is daar gedurig 'n stoffie."Alles word egter in 'n goeie
gees aanvaar.
Dit is van kritieke belang dat 'n hegte verhouding tussen die
mentor en die nuweling ontwikkel en wat nie maklik deur iemand
anders gekaap kan word nie. Vennootskappe word gebou en nuwelinge
sê graag: "Ons verstaan mekaar en werk saam vir één oplossing
- ek moet suksesvol wees. Ek het 'n nuwe waarde ontwikkel
- trots op wie en wat ek is en wat ek doen. Dis lekker om by
die mark te kom en mý produkte daar te sien of om te kan sê hier
bottel ons die wyn met ons embleem daarop. Die geheim is ons het
vir mekaar tyd gemaak."
Die finale verslag van die navorsing behoort einde Mei gereed
te wees vir oorhandiging aan die universiteit en die georganiseerde
landbou. Terblanche hoop dat hierdie werk die fondament sal lê
vir 'n nuwe oorkoepelende struktuur vir mentors waarin ál die betrokkenes
by die breër konsep van mentorskap 'n gemeenskaplike
tuiste kan vind.
Landbouweekblad, 22 Februarie 2008