Landbou
Mentorskap netjies beskryf
Deur LOUW PRETORIUS

Mentorskap is die antwoord vir die landbou in die Suid-Afrika van môre, mits mentors en nuwelingboere in die bedryf die eise van só 'n verhouding ken en respekteer. Mentorskap gaan inwese oor verhoudings, is die slotsom waartoe dr. Fanie Terblanche van die Universiteit van Pretoria gekom het. Hy is 'n senior dosent in die departement landbou-ekonomie, voorligting en plattelandse ontwikkeling.

Hy het pas 'n navorsingsprojek oor die aard en eise van mentorskap in die landbou afgehandel. Interessante fokuspunte het aan die lig gekom wat, as dit reg ontwikkel en bestuur word, 'n groot bydrae tot die Suid-Afrikaanse landbou kan lewer.

In die begin van grondhervorming was daar meer mislukte projekte met opkomende boere as suksesvolles. Juis dít het volgens Terblanche die kollig op mentorskap geplaas. Oor mislukkings is dikwels gesê: "As ons maar net 'n goeie mentor gehad het." Welslae is feitlik deurgaans deur deelnemers aan die deur van 'n toegewyde mentor gelê. Hoofsaaklik suksesverhale het dus as fondament gedien vir sy navorsing oor drie jaar. Sy oogmerk was om te bepaal:

  • Wat aan die wortel van welslae lê.
  • Wat die rol van mentorskap behels - nie net ten opsigte van suksesverhale nie, maar ook die breër ontwikkeling van die nuwelingboere.
  • Of daar maniere is om vooruit 'n aanduiding te kry van die potensiaal vir welslae by mense wat die landbou oorweeg. 'n Instrument vir dié doel is reeds ontwikkel.

    Inligting van dié aard kan goed gebruik word om doelgerigte opleidingsprogramme te ontwikkel, sê Terblanche. Met die hulp van plaaslike betrokkenes het hy suksesvolle projekte in feitlik ál die provinsies besoek.

    'n Ander belangrike aspek van die navorsing is die feit dat mentorskap net één van die fasette is om 'n nuweling in die boerdery aan die gang te kry. Hierdie bemagtiging kan op twee maniere geskied: Óf die persoon moet gewillig wees om homself vir mentorskap oop te stel, óf hy moet deur leer, luister, kyk en self doen homself bemagtig.

    Die één vereiste in albei gevalle is egter gewilligheid. Sonder die wil om die boerdery te laat werk, is alle pogings gedoem tot mislukking. Terblanche sê om mentorskap te laat werk, moet die volgende in ag geneem word:

  • Die mentor begelei die nuweling na sukses. Hy sal byvoorbeeld aan die nuweling vra: "Hoe kan ek jou help sodat jý kan word wie jy wil wees of kan kom waar jý wil wees." Wanneer dit gaan oor wat die mentor dink die nuweling behoort na te streef, word 'n afrigter benodig en is mentorskap nie meer ter sprake nie. Dit beteken 'n goeie mentor is 'n oplosser van probleme. Hy is 'n kundige persoon, 'n goeie motiveerder wat ander mense respekteer en iemand met goeie kommunikasievaardighede. Boonop moet hy geduldig en eerlik wees, want dit verg tyd en energie.
  • Die nuweling moet sy mentor respekteer en vertrou. Hy moet bereid en gewillig wees om aan die mentorskapprogram deel te neem. Niemand kan in so 'n verhouding gedwing word nie. In gevalle waar laasgenoemde wel die geval was, het dit deurgaans tot mislukkings gelei. Gevalle is bekend van mislukkings van 'n paar jaar gelede waar die nuwelinge later uit eie inisiatief opnuut omleiding aangeklop het en dieselfde projek in 'n lewensvatbare sukses omgeskep kon word. Nuwelinge moet dus luister na advies en dit toepas. Daarvoor is geduld nodig.
  • Onderlinge respek en vertroue moet in stand gehou word. Hierdie is die sement wat die hele struktuur van mentorskap met ál die fasette daarvan in 'n hegte en suksesvolle eenheid saambind. Dis egter nie altyd bloot die feit dat advies soms nie toegepas word nie wat hierdie verhoudings versuur. Ander faktore van buite kan dit ook veroorsaak. Vertraagde aksies op grondvlak skep sulke frustrasies wanneer deelnemers van buite nie hul ondernemings of beloftes gestand doen nie. Dit sluit in enige vorm van hulp, hetsy finansieel, toerusting, produkte of enige ander vorm van diens wat nie betyds beskikbaar is nie. Trouens, presies dieselfde instelling soos vir 'n mentor vereis, is by hulpdeelnemers by mentorskapprojekte nodig, verduidelik Terblanche.
  • Verskille in kultuur en agtergrond is 'n werklikheid. Sommige mense is haastig en ander minder haastig. Nuwelingboere het by geleentheid aan Terblanche gesê: "Ons weet hierdie man (mentor) is 'n haastige man. As hy sy rug draai, roer die skoffelpikke. As hy môre hier kom en ons het laat slap lê, skop hý die stof op. Op hierdie plaas is daar gedurig 'n stoffie."Alles word egter in 'n goeie gees aanvaar.

    Dit is van kritieke belang dat 'n hegte verhouding tussen die mentor en die nuweling ontwikkel en wat nie maklik deur iemand anders gekaap kan word nie. Vennootskappe word gebou en nuwelinge sê graag: "Ons verstaan mekaar en werk saam vir één oplossing - ek moet suksesvol wees. Ek het 'n nuwe waarde ontwikkel - trots op wie en wat ek is en wat ek doen. Dis lekker om by die mark te kom en mý produkte daar te sien of om te kan sê hier bottel ons die wyn met ons embleem daarop. Die geheim is ons het vir mekaar tyd gemaak."

    Die finale verslag van die navorsing behoort einde Mei gereed te wees vir oorhandiging aan die universiteit en die georganiseerde landbou. Terblanche hoop dat hierdie werk die fondament sal lê vir 'n nuwe oorkoepelende struktuur vir mentors waarin ál die betrokkenes by die breër konsep van mentorskap 'n gemeenskaplike tuiste kan vind.

    Landbouweekblad, 22 Februarie 2008