Die druk "van onder af" vir grondhervorming in Suid-Afrika is betreklik laag.
Dié belangwekkende bevinding is vervat in 'n regeringsdokument oor 'n beplande nuwe grondstrategie wat pas bekend gestel is.
Die nuutste plan, in die omgangstaal nou reeds bekend as SIS (Settlement and Implementation Support Strategy), is grootliks daarop gemik om die klaaglike mislukkings met nuweboervestiging in die land om te swaai.
Die strategie is laat verlede jaar deur 'n konsortium van ses nie-regeringsinstansies vir die staat voltooi. Die volledige verslag is pas deur die Minister van Landbou en Grondsake, me. Lulu Xingwana, op 'n gesamentlike perskonferensie met die Belgiese ambassadeur bekend gestel.
Dit het onmiddellik skerp reaksie uit die georganiseerde landbou ontlok, grootliks omdat die kommersiële landbousektor hoegenaamd nie in die beplanning daarvan betrek is nie, en andersins omdat daar ernstige bedenkinge is oor die vermoë van die staat om die plan te laat werk.
Want die lywige SIS-dokument vervat ook verdoemende getuienis van diepgewortelde probleme in die Departement van Grondsake.
Die konsortium maak insiggewende bevindings wat vraagtekens laat oor die rol wat landbou inderdaad in armoedeverligting kan speel. Die dokument sê hoewel Suid-Afrika 'n beduidende landelike bevolking van digby 50% het, is dit lankal nie meer 'n landelike samelewing nie. Die meerderheid van die bevolking, selfs op die platteland, sien landelike aktiwiteite nie meer as hul primêre bron van inkomste nie, "nie nou nie, en ook nie in die toekoms nie".
"Dit verklaar die betreklike lae druk vir grondhervorming 'van onder af'."
In haar voorwoord tot die dokument bestempel Xingwana SIS as 'n omdraai-strategie, en gee sy toe dat suksesvolle grondhervorming "baie meer behels as die blote herstel en herverspreiding van grond".
Die inleiding tot die dokument meld ook onomwonde dat daar wydlopende probleme is wat tans die doeltreffendheid van grondhervorming ondermyn.
Hieronder tel 'n onvermoë by personeel in die Departement van Grondsake en verwante ministeries; groot getalle vakante poste in die departement, 'n tekort aan die toepaslike vaardighede, gekoppel aan 'n hoë personeel-omset en 'n verlies aan kennis; gebrekkige bestuursvaardigheid in die departement; asook baie munisipaliteite wat nie hul rol in grondhervorming kan vervul nie.
Nêrens in die dokument word vermeld dat blanke boere onwillig is om grondhervorming te steun, of dat buitensporige hoë grondpryse die proses beduiwel nie.
Die konsortium wat die navorsing gedoen en die aanbevelings vir die nuwe strategie saamgestel het, het bestaan uit Phuhlisani Solutions, Rick de Satgé Development Services, Knowledge Crucible, Plaas (Programme for Land and Agrarian Studies), Legal Resources Centre en Ciber Communications. Hulle is bygestaan deur verskeie staatsdepartemente.
27 Februarie 2008