Landbou
Grondplanne: Só lyk dit nou
Deur JEAN-MARIE DE WAAL (jdewaal@landbou.com)

Dit is verstaanbaar dat daar dikwels verwarring bestaan oor watter planne nou vir grondhervorming gebruik word. Hoewel die ANC op sy laaste konferensie in Polokwane besluit het die proses moet versnel, meen kommentators dat weer oor die rigting van grondhervorming besluit moet word omdat die ANC 'n nuwe leierskorps gekry het.

Na raming het meer as 50% van die projekte sedert die begin van die grondhervormingsprogram in 1997 misluk. Suid-Afrika staan dus by 'n kruispad. Finansiering, vaardigheid en kundigheid bly struikelblokke.

Sedert 2007 is 'n denkskuif by politici en die staat sigbaar, veral wat betref ondersteuning van nuwe boere, grondverkryging, sentralisering van gronddienste en vennootskappe tussen die staat en die private sektor.

Ekwiteit, waar belanghebbendes, soos banke, gevestigde kommersiële mentors en staatsinstellings, 'n belang in die uiteindelike sukses van projekte behou, behoort verder 'n belangrike uitwerking op die toekomstige volhoubaarheid van grondhervorming te hê.

Teen 2009 moet die witskrif oor die landbou (van 2002) én die witskrif oor grondhervorming (van 1997) hersien word. Die belangrikste aspekte van die witskrif van 1997 is die hersiening van die beginsel van 'n gewillige koper en gewillige verkoper, asook onteiening.

Suid-Afrika kan nie 'n grondhervormingsbeleid hê sonder 'n ware agrariese beleid nie, meen me. Ruth Hall, navorser by die program vir grond en landelike studies (Plaas) aan die Universiteit van die Wes-Kaap.

Wat nou sigbaar gaan raak, is die dringende behoefte van die staat om projekte op groot skaal aan te pak,meen sy. "Die Regering wil sien dat grond werklik oorgedra word. Ongeag leierskapveranderinge bly dit 'n Regering wat deur mikpunte gedryf word."

Volgens Hall is die duidelikste strategie vir die toekoms in die Polokwane-resolusies vervat. "Die volgende groot stap vir die staat is om dié besluite deur te voer: Dit is nou werklik 'n politieke plan en nie meer 'n staatsplan nie."

Tans speel dié planne en beleide 'n rol by grondhervorming:
SIS (die Regering se ooreenkoms en toepassingstrategie)
Dit is die Regering se nuutste oorhoofse plan vir grondhervorming. Dit fokus op ondersteuning ná die vestiging van begunstigdes.

Klem word ook gelê om dienste van die departemente van Landbou en Grondsake in ooreenstemming met mekaar te bring. Die Belgiese regering ondersteun die plan met sowat R50 miljoen. Dit word geskoei op sterk betrokkenheid van plaaslike owerhede en koöperasies, soos van ouds. Dit lê klem op marktoegang, toegang tot finansiering en die insluiting van grondhervormingsplanne in munisipaliteite se geïntegreerde ontwikkelingsplanne.

Die SIS gaan grootliks uitgebrei word om die rol van die Regering se eendoelinstelling (SPV) wat verlede jaar opgestel is, te vervang. Nadat die staat dit ontwikkel het, is agtergekom die nodige wetgewende prosesse ontbreek. Die SIS is al in 2006 op plaaslike vlak bespreek, maar nou eers ernstig as 'n alternatief geopper weens die probleme met die SPV en danksy sy status as 'n presidensiële voorrangsaak.

Die SPV
Hoewel dit verlede jaar afgeskaf is, sê mnr. Tozi Gwanya, waarnemende direkteur-generaal van die Departement van Grondsake en hoofgrondeisekommissaris, daar word steeds daaraan geskaaf. Dit kan minstens drie jaar duur voordat alles afgehandel en al die beleid en wetgewing volledig in werking is. Die opdrag vanuit Polokwane het weer die behoefte beklemtoon aan 'n agentskap wat grond- en agrariese hervorming bestuur.

Die model steun op 'n vennootskap tussen die Regering en die private sektor. Dit sou deur die oprigting van die Agentskap vir Grond- en Landbou-ontwikkeling geskied.

Die staat sou grond aankoop voordat begunstigdes uitgeken is (of aansoek gedoen het) en dit hou deur middel van die SPV totdat die begunstigdes die nodige vaardighede het.

Benewens die groot wetgewende struikelblok om so 'n sentrale grondagentskap op die been te bring, is kritiek dikwels gelewer op die uitwerking van só 'n agentskap wat 'n hele nuwe staatsfunksie sou skep.

Larp (Grond-en-landbouhervormingsprogram)
Die plan gaan oor spoed en is kort termyn van aard. Dit is in November 2007 bekend gestel en word as deel van die SIS beskou, maar behels nie net ondersteuning ná vestiging nie: Dit fokus sterk op grondverkryging.

Die Polokwane-resolusies het grondverkryging uitgeken as dié wyse, naas ondersteuning van nuwe boere, wat grondhervorming suksesvol sal afhandel.

Larp se doel is om 2,2 miljoen hektaar teen die boekjaar 2010/'11 aan sowat 65 000 nuwe boere oor te dra.

Vir die Regering om sy oordragmikpunt van 30% grond van wit na swart hande teen 2014 te bereik, word geraam tot die spertyd moet 3,5 miljoen hektaar jaarliks oorgedra word. Larp word ook op die presidensiële voorrangsake geskoei, naamlik om verblyfsekerheid te bring, om toegang tot grond en bates te vergroot deur meer vennootskappe tussen voorheen benadeeldes in die landbousektor tot stand te bring en swart entrepreneurs in landbouvervaardiging met 10% te verhoog.

Dit wil ook meer landbou-ondersteuning bied en voedselproduksie met 10% tot 15% laat styg - nie net op produktiewe plase nie, maar ook in gebiede waar grond onderbenut bly, soos die kommunale gebiede. Met die program wil die Regering landbouhandel met 10% tot 15% laat toeneem en toegang tot markte verseker. Gwanya sê elemente van Lada gaan reeds hier gesien word. Larp plaas ook groot klem op vennootskappe tussen die staat en die private sektor.

PMU (nasionale projekbestuurseenheid)
Die nasionale projekbestuurseenheid (Project Management Unit, PMU) is die pilaar waarop Larp rus - as't ware sy uitvoerende arm. Die PMU ken grond in konsultasie met belanghebbendes, soos boere en eiendomsagente, in 'n streek uit. Begunstigdes, wat plaaswerkers, plaasbewoners, swart entrepreneurs en opkomende boere insluit, word volgens hul eiesoortige behoeftes uit 'n databasis gekies. Die grond sal eers onder beheer van die PMU val, terwyl die begunstigdes 'n tyd lank ondersteun word.

Die PMU het eenhede in elke provinsie. Dit is egter onseker of die eenhede intussen weggeval het. Volgens Gwanya is dit ontbind en sal die funksie van die verskeie eenhede in die Departement van Landbou vestig, aangesien vermoë met 1 222 poste in die departement aangevul word. Die Minister van Grondsake, me. Lulu Xingwana, sê egter die eenhede val nie weg nie.

Plas (pro-aktiewe grondaankope) en ABP (gebiedsgebonde grondhervorming)
Ál die bogenoemde planne pas in 'n mate in by die staat se oorkoepelende benadering van pro-aktiewe grondaankope en grondhervorming wat sterk gebiedsgebonde is. Hiermee wil die staat grond vir 'n spesifieke doel verkry of dit koop voordat spesifieke aansoekers geïdentifiseer word.

Dié benadering vereis die hulp van die provinsiale grondhervormingskantore en ander belanghebbendes ombegunstigdes se behoeftes te identifiseer.Dit behels landbou-ontwikkelings-"gange" in dorpe langs die nasionale roetes. Dit bevorder ook die onderverdeling van grond. Voor dit is 'n reaktiewe, behoeftegedrewe benadering tot grond gebruik: Die staat het slegs op vraag gekonsentreer daar waar dit ontstaan het. Gebiedsgebonde hervorming sluit die teiken van 30% vir grondhervorming in elke provinsie, streek en distrik in. Vir dié doel speel grondforums in elke distrik 'n belangrike rol.

LRAD (program vir die herverdeling van grond vir landbou-ontwikkeling)
Die program bly deurlopend en van die staanspoor die gesig van grondhervorming. Dit behels toelaes vir die koop van grond en werktuie. Die struktuur van toelaes word nou hersien. Dit werk saam met Casp-fondse (die staat se omvattende program vir die landbou). Pogings word aangewend om die twee programme nader aan mekaar te bring sodat sake vinniger kan verloop. In die boekjaar 2008/'09 is meer as R1,2 miljard meer vir grondtoelaes begroot.

Dit verhoog tot R2,7 miljard in die boekjaar 2010/'11.

Teen die boekjaar 2010/'11 skiet die Departement van Grondsake se begroting op tot R4,1 miljard. Dit is grootliks vir die koop van grond en die oorblywende restitusie-eise. Restitusie kom in Maart ten einde, maar eise waarmee probleme ondervind word, sal eers teen 2010/'11 afgehandel word.

Onteiening en gewillige koper, gewillige verkoper
Die verkryging van grond moet aangehelp word deur die wysiging van die Onteieningswet van 1975 wat voor Junie vanjaar afgehandel behoort te wees. Saam met die hersiening van die beginsel van gewillige koper en gewillige verkoper, wat na verwagting eersdaags voor die Kabinet sal dien, behoort dit die gesig van grondhervorming aansienlik te verander. Tot dusver het Suid-Afrika 'n neoliberale benadering tot die grondmark gevolg wat kommersiële produksie bevoordeel het. In hierdie stadium lyk dit asof wegbeweeg gaan word van markwaarde as 'n bepaling van vergoeding ná onteiening. Volgens die voorgestelde wysigings kan die Minister van Landbou en Grondsake in die tussentyd vergoeding bepaal, onderhewig aan hersiening deur die howe.

Ander invloede
Die halvering van armoede teen 2014 bly die Regering se belangrikste mikpunt met grondhervorming. Die Land Bank behoort 'n kernrol te speel tot tyd en wyl die SPV op die been gebring word, asook met die toepassing van Larp. Volgens die bank se nuwe finansieringsmodel wil hy teen 2010 sowat R3,3 miljard aan ontwikkelingsboere leen. Die bank se vermoë om sy mandaat te vervul, lyk egter wankelrig. Uit die Polokwane-resolusies word beklemtoon dat Suid-Afrika nog nie 'n werklike strategie vir landelike ontwikkeling gehad het nie - een wat verblyfreg en hervorming bring, produksie en entrepreneurskap bevorder.

  • Bykomende bronne: "Land Demand, Targeting and Acquisition in South Africa's Land Reform"; konferensie-artikel deur me. Ruth Hall; "Tenure Arrangements and Support for Land rights"; konferensie-artikel deur dr. Edward Lahi; www.nda.agric.za en www.anc.arg.za

    Landbouweekblad, 7 Maart 2008