Landbou
Regering hét plig jeens opkomende boere
Deur JOHAN COETSEE (jcoetsee@landbou.com)

As Suid-Afrikaners dink dat die klein- of opkomende boer en sy probleme - soos die gebrek aan kapitaal, finansiering, opleiding en 'n toereikende afsetplek - beperk is tot Suid-Afrika, maak hulle 'n groot fout.

Die kleinboer-uitdaging strek veel verder oor baie grense heen en is veral groot in lande in die res van Afrika, die Midde- Ooste, Suid-Amerika en Asië, sê dr. Johan van Deventer, besturende direkteur van Freshmark, 'n Suid-Afrikaanse verskaffer van vars produkte.

Hy het onlangs op uitnodiging in Bejing, China, aan 'n internasionale werksessie oor klein- en opkomende boere in die landbou deelgeneem. Freshmark is nou betrokke by die landbou in veral Afrika, waar hy in 14 lande sake doen in die varsprodukbedryf as verskaffer aan Shoprite.

Van Deventer sê verreweg die meeste produsente van vars produkte in Afrika kan as kleinboere beskou word. En hoe gouer regerings - ook dié van Suid-Afrika - besef dat deur bloot geld vir grondhervorming daar te stel en grond beskikbaar te stel vir landbou aan opkomende boere nie die volle antwoord is nie, hoe beter.

Hy sê in die werksessie het dit na vore gekom dat drie uit elke vier armes in ontwikkelende lande in landelike gebiede leef.

Meer as 2,1 miljard van hulle maak 'n bestaan op minder as $2 per dag en 880 miljoen op minder as $1 per dag ($1 = R8,10).

En verreweg die meeste van hulle - sowat 86% - is by die landbou betrokke. Van die ontwikkelende wêreld se sowat 5,5 miljard inwoners woon sowat 3 miljard in landelike gebiede.

Sowat 98% landelike mense in Oos-Asië en 92% in die Midde-Ooste en Noord-Afrika woon in ontwikkelende lande. InAfrika suid van die Sahara maak 82% mense 'n bestaan uit landbou.

Daarom meen 'n internasionale instansie soos die Wêreldbank dat die landbou die beste uitkoms vir die meeste van hierdie mense is, want dit is waarmee hulle hulself aan die lewe hou en wat hulle dus die beste kan doen. 'n Gesonde landboubedryf is ook 'n teenvoeter vir verstedeliking en plakkerskampe wat soos paddastoele opspring.

In China alleen is 200 miljoen tot 300 miljoen kleinboere. As daar vyf afhanklikes per kleinboer is, is dit altesame sowat 1 miljard afhanklikes. Daardie kleinboere moet 'n bestaan maak op lappies grond van 4 mu tot 8 mu - sowat 'n 0,25 ha tot 0,5 ha (sowat 16 mu = 1 ha).

Indië se getalle verskil nie veel nie. Ook daar het kleinboere meestal minder as 1 ha grond per gesin en is hulle as onderhoudsboere vasgevang met uiters tradisionele boerderypraktyke waarin die moderne tegnologie en praktyke feitlik onbekend is. Hulle moet boonop dikwels met uiters swak saad 'n lewe probeer maak.

Die gevolg hiervan vir sulke lande is 'n stagnante landbouproduksie en miljoene mense wat in armoede vasgevang is. En daarmee saam gaan al die maatskaplike ellendes van armoede.

Van Deventer sê dit was in die werksessie duidelik dat Suid-Afrika by baie van hierdie lande kan gaan kers opsteek oor hoe kleinboere met groter welslae gehanteer behoort te word.

Veral in China en Indië word indrukwekkende vordering gemaak met die opheffing van arm kleinboere. Dit is bekend dat China sedert sy politieke koersverandering ná die Mao Zedong-era gemiddeld 20 miljoen mense, waaronder 'n groot persentasie kleinboere, jaarliks uit loutere armoede lig.

Ook in Indië word merkwaardige vordering gemaak, hoewel nie naastenby soos in China nie.

Elke land se kleinboer-uitdaging is uniek, maar Suid-Afrika het veel te leer ten opsigte van regeringsbeleid en begrotings, meen Van Deventer.

"Om net geld te gee vir grondhervorming gaan nie in Suid-Afrika spoedig 'n nuwe geslag kommersiele boere vestig nie - die teendeel is veel eerder waar." Dit is die kern van die waarskuwing wat hy in China tydens die werksessie ervaar het, sê hy onomwonde. Waaromis dit so belangrik dat die kleinboer onder die soeklig kom?

Van Deventer sê dit gaan daaroor dat die kleinboer 'n reuse-impak op die ekonomie en maatskaplike omstandighede van enige land maak. Die regerings in lande soos China en Indië besef terdeë dat die probleemvan armoede en al die maatskaplike ellendes wat daarmee saamgaan, net sal verbeter as hul kleinboere se posisie verbeter word. En daarvoor is regstreekse en sterk regeringsbetrokkenheid nodig in die vorm van beleid, finansiële hulp, termynplanne, goeie opleiding en toeganklikheid tot markte - om maar enkeles te noem.

In Suid-Afrika sien ons hoe die jaarlikse begroting vir die landbou kwyn asook noodsaaklike ondersteuningsdienste, soos navorsing en landbouvoorligting.

Daarom kan die Suid-Afrikaanse Regering nie bloot redeneer dat die geld wat vir grondhervorming bewillig word, noodwendig die kleinboer bevoordeel nie. Die huidige grondhervormingsbeleid gee kleinboere toegang tot grond,maar wat dan?

Sonder die gepaardgaande hulp, waaronder opleiding, infrastruktuur, landboutoerusting en toegang tot markte, is grondhervorming eenvoudig tot mislukking gedoem.

Die land sal nuwe grondeienaars hê wat hoogstens onderhoudsboerdery kan bedryf en nie 'n kans sal staan om werklik kommersiële boere te word nie. Daarmee kom die land se voedselsekuriteit en vermoë om selfvoorsienend te wees ernstig in gedrang. Armoede sal min verlig word, maatskaplike probleme sal steeds voortduur en die agteruitgang met bewaring en die benutting van landbougrond sal op groot skaal intree of bloot voortgaan.

'n Interessante debat is tydens die werksessie in China hieroor gevoer. Daar is tereg opgemerk dat die vorige (blanke) Regering in baie opsigte met dieselfde uitdagings te doene gehad het. Ná die groot depressie van die 1930's en die Tweede Wêreldoorlog het dit nie goed gegaan met die landbou in Suid-Afrika nie. Die destydse Regering het boere toe mettertyd met beleid én begroting bemagtig om op die been te kom en om só werklik kommersieel te boer.

Dat dit baie geslaag was, is vandag oral in Suid-Afrika te sien "en mag ons daarom ook nooit vergeet waar ons vandaan kom en hoe ons daar gekom het nie," meen Van Deventer.

Daar is in die werksessie opreg gevra of bemarkingsrade, hulp van die Land Bank, subsidies, eenkanaalskemas, vaste pryse en die hele koöperasie-beweging werklik so "boos en verkeerd" was om Suid-Afrika se boere en die landbou op die been te bring.

Is deregulering en privatisering in die 1990's dalk te ver gedryf aan die vooraand van al die politieke en ander veranderinge ná 1994? Is die kind nie saam met die badwater uitgegooi nie?

Selfs van die swart afgevaardigdes uit Suid-Afrika na die werksessie het dié vrae gevra, sê Van Deventer.

Dit was baie duidelik uit al die voorleggings by die werksessie dat die vrye mark alleen nie die kleinboer se lot gaan verbeter nie, sê hy. Daarom vra hy ook: "Hoekom kan elemente van die vorige Regering se landboubeleid nie weer benut word om die opkomende boer en/of die kleinboer te help nie?"

Kleinboere het nie 'n kans om noemenswaardig te vorder as hulle nie 'n "helpende hand" gaan kry nie, was die duidelike afleiding van al die deelnemers van die 32 lande wat die werksessie bygewoon het.

Jaloesie en venyn sal ook altyd aanwesig wees tussen vooruitstrewende kommersiele boere wat histories in Suid-Afrika wit boere is, en sukkelende, arm kleinboere wat swart is. Só 'n scenario kan nie opbouend bydra tot die groter landbouprentjie van enige land nie.

"En die beleidmakers moet bewus wees hiervan sodat die stappe wat nou gedoen word, ons nie onherroeplik op die verkeerde pad plaas nie," meen Van Deventer.

Want die landbou kan, as dit reg bestuur word, 'n uitkoms aan miljoene mense in Afrika - insluitend Suid-Afrika - uit totale armoede en hopeloosheid bied.

Landbouweekblad, 25 April 2008