Suid-Afrika moet onmiddellik 'n dinamiese, aksie-gedrewe vennootskap tot stand bring wat die land se grondhervormingsproses weer op koers kan kry.
Dit moet nie alleen die lewe van bevoordeeldes van grondhervorming op lang termyn verbeter nie, maar terselfdertyd verseker dat die landboubedryf sal groei.
Dit is die kernbevinding van die Centre for Development and Enterprise (CDE) se jongste verslag oor grondhervorming in Suid-Afrika.
Die CDE-verslag, wat pas vrygestel is, sê onomwonde die Regering ondervind nou ernstige implementeringsprobleme in al sy grondhervormingsprogramme, terwyl daar ook geen oortuigende planne op die tafel is om die kapasiteitsbeperkinge in die Departement van Grondsake op te los nie.
Die CDE, wat ook in 2005 'n verslag oor grondhervorming gepubliseer het, sê die situasie is nou selfs meer kommerwekkend as toe.
"Baie mense - binne en buite die regerende party - word toenemend ongelukkig oor die vordering met grondhervorming en die vermoë van die Departement van Grondsake om dit doeltreffend uit te voer. Hierdie verstaanbare ontevredenheid word na die CDE se mening ongelukkig uitgespreek in die vorm van eise vir meer populistiese, radikale en 'n nie-markgedrewe benadering tot grondhervorming."
Die departement hanteer sy onvermoë om sy teikens te behaal op drie maniere. Hy vra vir meer geld, terwyl hy terselfdertyd grondpryse probeer afdruk deur te dreig met onteiening, en voorspraak te maak vir nuwe grondbelastings asook munisipale eiendomsheffings op landbougrond.
Tweedens bepleit sommige Grondsake-amptenare persoonlik meer radikale oplosings, wat 'n wegbeweeg van vraag-gedrewe grondhervorming na direkte staatsinmenging voorstaan. 'n Verdere teken van 'n beduidend meer populistiese benadering lê opgesluit in die inhoud en trant van verlede jaar se verslag oor buitelandse grondbesit, asook oproepe vir baie meer genadelose optrede teen boere wat na bewering plaaswerkers onwettig afsit.
"Doeltreffende grondhervorming vereis spesialisasie, ervaring en kennis van plaaslike omstandighede. Baie meer van hierdie eienskappe word in die private sektor aangetref as in die staatsiens," sê die verslag.
"Daar is 'n glashelder behoefte om grondhervorming weer dringend op koers te kry. Ons moet 'n pad na 'n meer optimistiese toekoms vir grond en landbou vind as wat tans die geval is. Dit is duidelik dat hierdie toekoms op 'n verbeeldingryke plan sal moet berus. Leierskap, moed en visie is nodig om die huidige hoogs kommerwekkende situasie om te swaai, en skeptici te oortuig dat grondhervorming doeltreffend bestuur word en tot 'n beter lewe vir almal sal lei."
Vandaar die CDE se wekroep vir 'n nuwe venootskap vir grondhervorming. Dit moet bestaan uit senior regeringsleiers, die regerende party, en die private sektor, by uitstek die landbou-besigheidsektor.
Die CDE spel in sy verslag in detail uit op watter vyf kernfaktore só 'n vennootskap sal moet fokus. Dit is kortliks om die restitusie-proses spoedeisend af te handel, die herverspreiding van grond op die regte koers te kry, die kommersiële sektor se rassesamestelling te verbeter, landelike armoede te takel en om meer geld doeltreffender op grondhervorming te bestee. Die CDE bepleit ook 'n totaal nuwe "idioom" vir grondhervorming in Suid-Afrika.
"Die openbare/private vennootskap wat hierdie inisiatief moet bestuur, sal die toenemende problematiese taal moet verander waarin grondhervorming tans bespreek word. Ons moet wegbeweeg van misleidende Zimbabwe-tipe terme; weg van skadelike en swak ingeligte debatte oor die rol van die mark en die beginsel van gewillige koper/verkope. Ons moet aanbeweeg na begrippe soos koöperatiewe verhoudinge tussen die staat en die mark, volhoubare ontwikkeling, die ontsnap van landelike armoede en die verbreding van die opleidings- en ekonomiese geleenthede in landelike Suid-Afrika.
"Die vennootskap moet die leierskap bied wat Suid-Afrika nou nodig het om te toon dat hy 'n problematiese situasie uit ons verlede op so 'n manier kan oplos dat almal by die proses sal baat vind."
Die toekoms van Suid-Afrika se kommersiële landbou is nou op die spel. Op sy beurt beteken dit weer dat die ekonomiese lewensvatbaarheid van baie landelike gebiede bedreig word. Dit kan ernstige newe-effekte vir die breër ekonomie en die samelewing hê.
"Ons kan dit voorkom. Nasionale eenstemmigheid oor grondhervorming is steeds binne ons bereik. Groot suksesse is steeds moontlik. Die enigste vraag is of die leierskap in die private en openbare sektore die wil het om grondhervorming weer op koers te kry.
"Verbeeldingryke leierskap is nou nodig," sê die CDE.
8 Mei 2008