'n Internasionale studie het getoon dat markgedrewe programme wat daarop gemik is om grond te herverdeel, baie beter gevaar het as dié wat uitsluitlik deur die staat aangevoer word, sê mnr. Johan Pienaar, adjunk-uitvoerende direkteur van Agri SA.
Pienaar het grondherverdeling in verskeie wêrelddele verwys. 'n Voorbeeld is die groot landgoedere in Mexiko wat ná die 1917 revolusie in stukkies van 12 hektaar opgedeel is en aan die kommunale boere oorhandig is. " 'n Groot deel (tweederdes) van die bewerkbare grond in dié land word nog hoofsaaklik met 'n os en ploeg bewerk. Omdat die grond nie verkoop mag word en boere dus nie kan uitbrei nie, kan die land nie genoeg kos vir sy eie bevolking produseer nie. Koring van sowat R6 400 miljoen ($850 miljoen) word jaarliks van Amerika ingevoer. Mexiko is ook die grootste invoerder van poeiermelk ter wêreld.
"In Kenia is wit mense se grond in 1963 aan swart boere verdeel. Dié plase ook te klein om noemenswaardige voordeel uit die landbou-ontwikkeling te trek. In Botswana word die landbou as 'n onaantreklike beroep gesien. Die regering se standpunt is dat dit grootskaalse transformasie sal verg om boere van dieselfde inkomste as die laagste besoldigde staatsamptenaar te verseker.
"Ook In Malawi is 90% van land se uitvoerverdienste afkomstig van landgoedere waarop hoofsaaklik tabak, tee en suiker geproduseer word. Sowat 35 % van die plasies in die land kan nie 'n familie onderhou nie aangesien dit slegs 0,7 ha groot is," het Pienaar gesê.
Hy het verwys na Tanzanië waar die staat in 1976 al die grond genasionaliseer het. "Slegs 8% van die grond word tans in die land bewerk en inwoners is van buitelandse hulp afhanklik."
Pienaar sê mnr. Tozi Gwanya, waarnemende direkteur-generaal van Grondsake, het erken dat die helfte van die grondhervormingsprogramme in Suid-Afrika misluk het.
"Ongelukkig word die rol wat die private sektor kan speel om sake te verbeter, steeds onderskat. Hoewel die private sektor soms deur politici beskuldig word dat hy louwarm jeens grondhervorming is, kan 'n oordeel nie gevel word voor daar nie 'n volledige databasis beskikbaar is wat ook aandui watter plase op suiwer markbeginsels van eienaar verwissel het nie."
Pienaar meen die grootste behoefte is om boere wat hervestig is, finansieel by te staan en met kennis te bemagtig. Die bedryfsorganisasies speel 'n belangrike rol in die verband en hulle gesamentlike bydrae tot opheffingsprojekte die afgelope vyf jaar beloop reeds meer as R150 miljoen.
Landbouweekblad, 16 Mei 2008