Vir biltongjagters is 'n kop- en nekskoot die ideale skote omdat dit die minste vleisskade veroorsaak. Dié skote is egter ook die moeilikste skote en as dit nie op die regte plek geplaas word nie, kan dit tot lelike kwesskote en redelik baie vleisskade lei.
Jagters wat wild vir die uitvoerbedryf of vir eie gebruik skiet, kry 'n bonus vir "skoon" skote wat nie die wild se vleis beskadig het nie. Jagters wat vir die mark skiet, klassifiseer die kopskoot as 'n A-skoot en dit dra die grootste bonus. Jagters wat deurlopend kopskote kon skiet, het in die verlede goed geld gemaak.
Nek- en lyfskote word as B- en C-skote geklassifiseer en dra 'n "boete", omdat sulke karkasse beskadigde vleis aan het. Die biltongjagter word "beboet" met minder vleis en die jagters wat vir die mark skiet, met 'n laer veilingprys.
'n Aantal jare gelede, voordat die Oos-Europese jagvelde vir Wes-Europa oopgegaan het, was verwerkte en bevrore wildsvleis uit Suid-Afrika 'n gesogte uitvoerproduk. Met die gunstige wisselkoers van die rand mag dit weer gebeur.
Die kopskoot is 'n seker doodskoot as die brein in die skedelkas agter die oë getref word. Dit sal onmiddellike dood veroorsaak en geen vleisskade aan die res van die karkas aanrig nie.
Wanneer die bok reguit vir die jagter staan en kyk, soos die rooibok op foto 1, is die regte plek om die skoot te plaas tussen die oë van die rooibok, een sentimeter bokant die ooglyn, en omdat die bok effens skeef staan ('n mens sien die linkerwang van die bok beter as die regterwang), effens nader aan die linkeroog, sodat die skoot die skedelkas agter die oë reg in die middel tref.
Gewere word vir die doeleindes van bosveldjag gewoonlik op 100 m of op die verste 150 m ingestel. Dit verleen 'n plat trajek, wat beteken dat die koeël tot op 150 m ignoreerbaar min van die siglyn van die teleskoop afwyk. In die praktyk beteken dit dat die koeël die rooibok in die foto op die kolletjie sal tref wat denkbeeldig deur die kruishaar van die teleskoop op die skedel van die bok geteken word. Die jagter hoef nie vir elevasie toe te laat nie.
Omdat 'n kopskoot moeilik is om te skiet, word dit selde oor lang afstande gewaag. Die afstande waaroor ervare jagters met redelike gemak kopskote skiet, wissel gewoonlik van 50 m tot 150 m.
Dit beteken dat 'n geweer wat op 200 m ingestel is, soos vir springbokjag in die Karoo, op die tussen-afstande van die trajek van die koeël te hoog skiet - selfs meer as 20 mm op 120 m. Dit is duidelik uit die figuur wat die koeëlbaan van 'n 300-Winchester Magnum met 'n koeëlpunt van 220 grein teen 'n snelheid van 2 600 voet per sekonde (792,5 m/sek.) toon.
Wanneer die teleskoop se horisontale kruishaar dus, soos op foto 2, 'n bietjie meer as 20 mm onder die regteroog van die rooibok geplaas word, sal die koeël die skedel in die rooi kolletjie tref - reguit op pad na die brein in die skedelkamer. Dit is as die geweer op 200 m ingestel is en die bok sowat 100 m van die skut is.
Indien 'n mens se geweer dus op 150 m ingestel is, hoef jy nie toe te gee vir enige skoot nader as 150 m nie. As 'n mens se geweer egter op 200 m ingestel is, moet jy vir die tussenafstande laer korrel om presies op die regte plek te kan skiet. Hoe verder die geweer ingestel is, hoe meer moet jy toelaat.
Wanneer die bok dwars en naby genoeg aan die jagter staan, kan die kopskoot tussen die oog en die oor geplaas word - in die breinkas. Die jagter moet weer eens in ag neem hoe sy teleskoop ingestel is: Vir bos- of vir vlaktejag.
As die geweer op nie verder as 150 m ingestel is nie, moet die kruishaar van die teleskoop presies op die plekkie geplaas word waar die skoot die rooibok moet tref, soos op foto 3 aangedui word. As die geweer egter op 200 m of verder ingestel is, en die bok sowat 100 m van die jagter is, moet die kruishaar 20 mm tot 30 mm onderkant die trefpunt geplaas word voor die skoot afgetrek word (foto 4).
'n Mens sal natuurlik nooit 'n trofeebok in die kop skiet nie, omdat die koeël op die nader afstande nog teen baie hoë snelhede beweeg en by impak met die kopbeen soveel skade sal aanrig dat die taksidermis sal sukkel om die trofee netjies te monteer.
As die bok se kop in die posisie soos op foto 5 en foto 6 is, moet die jagter met die aanlê vir 'n kopskoot baie versigtig wees om die skote nie voor of onder die oog te plaas nie. Dit het 'n bekskoot tot gevolg en 'n bok waarvan die kakebeen afgeskiet is, staan nie weer stil nie. Hy skud gedurig sy kop en verplig die jagter om die regstellende skoot in die lyf te plaas - met gevolglike vleisskade.
Die gevaar vir 'n bekskoot weens wind of ander faktore bestaan altyd. 'n Jagter kan vir wind toelaat of met 'n swaarder kaliber skiet waarvan die koeël nie so erg deur wind geaffekteer word nie.
Die beste plek om die skoot op foto 5 te plaas, is in die rooibok se oog - dit is as die bok nie vir trofeedoeleindes gejag word nie. Dit sal die breinkas tref wat agter die oog, voor die oor en onder die basis van die horing waar dit aan die skedel heg, geleë is, en 'n onmiddellike breindood veroorsaak.
As die geweer op 200 m en verder ingestel is, moet die jagter onthou om by bokke wat nader staan, soos by die rooibok op foto 6, ongeveer 20 mm tot 30 mm onder die oog te korrel. Dit sal weer eens 'n oogskoot gee, wat onmiddellike dood beteken.
Die laaste van die kopskote waarna verwys word, is die een agter die oor reguit in die breinkas, net waar die eerste nekwerwel en die kopbeen in mekaar skarnier (foto 7). Dié skoot word geskiet as 'n bok skuins van die jagter af weg staan en nie na die jagter kyk nie.
As die bok reguit van die jagter af weg staan, is die kop van die bok meestal agter ander liggaamsdele verskuil, of deur die teleskoop só gevaarlik naby en net bo die die bok se boude sigbaar, dat dit nie raadsaam is om só 'n riskante skoot te waag nie.
Koedoes, rooihartbeeste en ander blaarvreters het egter langer nekke en mag by geleentheid 'n veilige skoot reg van agter af in die kop bied. Die skoot moet reg in die agterkop geplaas word, direk in die breinkas.
Dr. Willem Odendaal is 'n lid van die Nasionale Vergadering en 'n geesdriftige jagter. 17 Mei 2002