Raakskiet en die regte geweer vir die verskillende soorte vlaktewild is nodig vir 'n suksesvolle jagtog. Die jagter moet weet wat sy geweer se doodmaakvermoë oor verskillende afstande is om te verseker dat hy die bok met een skoot plattrek.
Die belangrikste voorwaarde vir 'n geslaagde springbokjag is 'n skut wat kan raakskiet. Raakskiet kom met oefening. Jagters wat voor die jagseisoen op die skietbaan oefen, is minder skootsku wanneer hulle in die jagveld kom. Skootskuheid kom meestal van gewere wat té hard skop.
Skootsku is nie bokkoors nie dit is die skuheid wat 'n skut het vir die skop van sy geweer net voor hy die skoot aftrek. 'n Skootsku jagter skiet mis en oorkom eers sy vrees ná 'n paar misskote. Teen daardie tyd is die jagtog dalk al verby.
Die probleem met sommige van die swaarder kalibers soos die 375-H&H, en selfs die 300-Winchester Magnum, is dat hulle só hard terugskop dat die geweer, wanneer die skoot afgaan, opwip sonder dat die jagter dit kan verhoed.
Skootskuheid word ten beste teengewerk deur 'n geweer te gebruik wat nie hard skop nie. Die aanvaarde norm in jagtersgeledere is dat 'n skut redelik gemaklik met 'n geweer skiet wat minder as 20 joule terugskop. Kalibers wat harder skop, maak dit moeilik om 'n dag lank te jag én goeie skote te skiet, en nie die aand met 'n seer skouer te sit nie.
Die tabel dui die skop- en slaankrag van verskillende kalibers aan. Die 22-250 skop teen sowat 6 joule terug wanneer dit met genoeg dryfmiddel gelaai is om 'n koeël van 3,58 gram teen 'n trompsnelheid van 1 100 m/sek. af te vuur. Die 375-H&H skop 10 maal harder om 'n 19,5 gram-projektiel teen 735 m/sek. te lanseer. Dít sal die meeste mense skootsku maak.
Klein kalibers tot by die klas van die 243-Winchester skop só min terug dat jagters gereeld daarmee goeie doodskote oor lang afstande sal kan skiet. Selfs die 25-06, wat 'n 6,5 gram koeël teen meer as 1 000 m/sek. afvuur, skop net teen 15 joule terug.
Die 375-H&H, wat teen 57 joule terugskop, is duidelik nie 'n springbokgeweer nie. Dit is 'n kaliber waarmee elande en buffels oor kort afstande geskiet word.
Die 270-Winchester oorskry die drumpelwaarde vir terugskop marginaal. In Suid-Afrika is dit 'n gewilde kaliber, veral onder eengeweer-jagters wat gereeld vlaktewild jag. Met die koeël van 8,45 gram is die geweer geskik om springbokke en blesbokke te skiet.
Gemsbokjagters gebruik graag die 300-Winchester Magnum met 'n koeël van 11,7 gram, of selfs 14,3 gram, om hierdie taai bok oor lang afstande te skiet. Hulle gebruik dieselfde geweer met 'n koeël van 9,75 gram om op dieselfde jagtog ook 'n paar springbokkies te skiet. Met die ligter koeël skop die 300-Winchester Magnum nie so hard nie. Dit het 'n besonder plat koeëlbaan en is nie baie gevoelig vir wind nie. Die skut moet net nie vergeet om die teleskoop 'n raps af te stel nie, anders skiet die geweer baie hoog.
Die belangrike vraag wat nou ontstaan, is of die springbokkalibers wat minder as die aanvaarde drumpelwaarde van 20 joule terugskop, die nodige slaankrag het om die wildsoorte waarna geskiet gaan word, met een skoot dood te maak.
Die energie en momentum van die koeël op trompafstand word hoofsaaklik bepaal deur die verhouding tussen die hoeveelheid dryfmiddel en die gewig van die koeël. Die energie- en momentumretensie van die koeël op skootafstand word deur die sleurtraagheid daarvan bepaal.
Die energie en momentum kan vir alle kalibers bereken word. Dié inligting vir die kalibers wat vir hierdie bespreking gekies is, word in die tabel getoon. Die koeël van die 375-H&H beskik oor byna vier maal soveel energie en momentum as dié van die 22-250 wanneer die koeëls die loop verlaat. Nadat dit 200 m afgelê het, behou dit vier keer meer energie en momentum.
Die slaankrag van die koeël nadat dit die afstand na die teiken afgelê het, bepaal die doodmaakvermoë van die betrokke kaliber. Die tabel toon dat die 375-H&H, nadat dit 200 m deur die lug getrek het, amper die helfte van sy energie verloor het. Die 22-250 met sy ligte koeëltjie verloor net soveel energie oor dieselfde skootafstand. Die energieretensie van die ander kalibers is heelwat beter.
Die tabel toon ook dat die 4,86 gram-holpuntkoeël van die 243-Winchester 36 % van sy momentum oor 200 m verloor meer as enige van die ander kalibers. Die rede hiervoor is die konstruksie van die koeël. Wanneer 'n 5,2 gram (80 grein) spitspuntkoeëltjie gebruik word, beweeg dit steeds oor 'n baie plat koeëlbaan, maar die momentumretensie is veel beter as met die holpuntkoeël.
Die slaankrag word in die grafiek op bl. 36 uitgebeeld deur die vermoë van die geweer om oor 'n skootafstand van 200 m genoeg energie te behou om 'n doodskoot te skiet.
Die 375-H&H se slaankrag verminder van 5 254 joule wanneer die koeël die loop verlaat tot 2 802 joule op 200 m en 1 997 joule op 300 m. Die 300-Winchester Magnum behou sy slaankrag beter: Op 200 m is dit 3 101 joule en op 300 m nog 2 502 joule. Selfs die 270-Winchester het ná 300 m meer slaankrag as die 375-H&H.
Die 270-Winchester en 300-Winchester Magnum het die bloubloedeienskappe van 'n vlaktekaliber en dit kan vir groter vlaktewildsoorte gebruik word. Die ligter kalibers verloor meer energie en momentum oor langer afstande en is net goed vir kleiner diere.
Die doodmaakvermoë van 'n koeël hou, afgesien van energie en momentum, ook regstreeks verband met sy penetrasievermoë. Penetrasievermoë word deur die koeëlpunt se konstruksie bepaal. 'n Goeie jagpatroon moet ontwerp wees om, nadat die koeël die liggaam van die bok binnegedring het, beheerd oop te gaan sodat dit genoeg skade kan aanrig om 'n vinnige dood te veroorsaak. Koeëlpunte wat in stukke opbreek, rig te veel vleisskade aan.
Die grafiek toon ook watter van die kalibers geskik is vir die jag van die vlaktewildspesies. 'n Koeël wat op skootafstand nog meer as 1 200 joule aan slaankrag oor het, sal 'n springbok doodmaak. àl die kalibers voldoen aan die vereistes, buiten die 22-250 met 'n 3,5 gram spitspuntkoeël wat nie oor die nodige slaankrag beskik om 'n springbok op 200 m met 'n lyfskoot dood te maak nie. Die energieretensie van die 243-Winchester met 'n 4,86 gram-koeël is op 300 m beswaarlik voldoende om 'n springbok met 'n lyfskoot dood te maak. Vir die jagter wat regtig sy skiet ken, het die 25-06, die 270-Winchester en die 300-Winchester Magnum nog genoeg energie oor om selfs verdere skote te waag.
'n Doodskoot word op 'n blesbok geskiet met 'n koeël wat nog 1 600 joule aan energie oor het wanneer dit die bok tref. Die 243 en die 25-06 is geskik vir die jag van blesbokke. Hoewel die ammunisievervaardiger Hornady die 243-Winchester met 'n 4,86 gram (75 grein) spitspuntkoeëltjie geskik ag vir die jag van wildsoorte van medium grootte, verkies baie jagters die 6,5 gram (100 grein) koeëlpunt vir hierdie kaliber om bladskote op die blesbokke te skiet, al word aan spoed ingeboet.
Volgens die grafiek is die 243-koeëltjie van 4,86 gram se verlies aan energie oor 200 m sodanig dat dit kwalik nog 'n blesbok sal doodskiet. Die 25-06 se 6,5 gram-spitspuntkoeëltjie het nog genoeg energie oor om blesbokke suksesvol tot op 300 m te jag. Die 270-Winchester en 300-Winchester Magnum kan vir nog lan-ger skote op blesbokke aangewend word.
'n Doodskoot op 'n gemsbok benodig 'n koeël wat nog 2 600 joule slaankrag op skootafstand oor het. Die 270-Winchester en die 300-Winchester Magnum is geskik hiervoor. Die 25-06, 270-Winchester, 300-Winchester Magnum en die 375-H&H beskik almal tot op 100 m oor genoeg energie om 'n gemsbok dood te maak. Op 200 m het die 300-Winchester Magnum nog genoeg energie om 'n seker doodskoot op 'n gemsbok te plant. Die 270-Winchester en die 375-H&H het op 200 m net genoeg energie oor om 'n gemsbok plat te trek.
Die 300-Winchester Magnum is 'n ware gemsbokkaliber. Op 300 m kan dit, selfs met 'n 9,75 gram spitspuntkoeël, steeds 'n gemsbok doodmaak. Die 375-H&H kan dit teoreties nie meer doen nie, hoewel die koeël se momentum-retensie oor 200 m nog redelik goed is.
'n Koeël wat oor 3 200 joule aan energie op skootafstand oor het, kan 'n eland doodskiet. Onder die kalibers wat ter sprake is, kan net die 300-Winchester Magnum en die 375-H&H dit tot op 100 m doen. Nie een van die kalibers kan 'n eland op skootafstande verder as 100 m doodskiet nie.
Jagters wat elande in die bosveld jag, kan dit met die 375-H&H doen. Jagters wat elande in die Kalahari- of in die grasveldstreke jag, moet afgesien van die kaliber waarmee hulle jag in alle gevalle sorg dat hulle nader as 100 m aan die diere kom om seker te maak van 'n doodskoot.
Die snelheid van die koeël wanneer dit die teiken tref, veral oor die korter skoot-afstande, het ook 'n invloed op slaankrag. Praktiese ervaring leer dat alle vlaktekalibers wat teen trompsnelhede van meer as 1 000 m/sek. afgevuur word, oor skootafstande van so ver as 200 m tussenspierse bloeding in verskeie liggaamsdele van die dier kan veroorsaak. Dit is nie vreemd om bloedswamme tussen die boudspiere van 'n gemsbok te kry wat op 150 m agter die blad geskiet is met 'n koeël van 11,7 gram wat teen 750 m/sek. getrek het nie.
Hoe hoër die snelheid van die koeël, afgesien van die gewig daarvan, hoe groter is die skade wat aangerig word. As die koeëlpunt ontwerp is om op impak te disintegreer, rig dit nóg groter skade aan.
In die volgende artikel word die skat van skootafstand en die lees van windsterkte en -rigting bespreek.
Ken reëls van raakskiet
Elke jagter wat in 'n goeie skut wil ontwikkel, moet die reëls vir raakskiet deeglik onder die knie kry. Die belangrikste hiervan is die volgende:
23 Mei 2003