Landbou
Geweer verdien aandag en tyd
BEN FOURIE

Sommige jagters geniet dit om hul vuurwapens ná die jagseisoen behoorlik skoon te maak. Baie ander sien geweerskoonmaak egter as 'n noodsaaklike euwel, terwyl daar mense is wat dit eenvoudig verpes. Of jy nou daarvan hou of nie, dit is nodig om jou geweer ná die jagseisoen goed skoon te maak.

Vandag se mooi roers moet regtig ten minste een keer per jaar goed skoongemaak word. Die regte toerusting en skoonmaakmiddels kan dié proses vergemaklik.

Op Pronksberg in Namibië was daar 'n ou .303-geweer wat altyd oral in die bakkie saamgery het. Toe ek hom eendag wou skoonmaak, het skoonpa Willie vir my twee patrone gegee en gesê ek moet hom sommer gaan skoon skiet, want hy ken geen ander manier van skoonmaak nie.

Daardie ou kanniedoodgewere het dikwels 'n leeftyd deurgegaan sonder veel skoongemakery, maar vandag se mooi roers verdien regtig ten minste een keer per jaar tyd en aandag. Vir my was die versorging van my wapens nog altyd 'n baie aangename takie en gewoonlik sit ek 'n hele Saterdagoggend opsy om dit te doen.

Wanneer ek 'n geweer behoorlik skoonmaak, dink ek aan hom as bestaande uit drie verskillende dele wat elkeen afsonderlik aandag moet kry. Dit is die metaalwerk, die teleskoop en die houtwerk.

Die metaalwerk deel ek ook weer in drie komponente, naamlik die loop se binne- en buitekant, die aksie, die magasynkas en laastens die slot.

Die loop is onderhewig aan twee vorme van neerslag wat skoongemaak moet word. Dié wat deur die verbranding van die nitro-sellulose kruit veroorsaak word en dié wat deur die kopermantel van 'n koeël of die lood van 'n loodkoeël veroorsaak word.

Dié artikel het nie ten doel om produkte te toets of om 'n bepaalde handelsmerk te bevorder nie en daarom noem ek nie enige produkte by die naam nie. Hoewel die bekende handelsname selde teleurstel en dit een gebied is waar ek nie te suinig is nie, kry 'n mens van die meer onbekende goedkoper produkte wat ook goed werk. Elkeen moet maar self van die talle produkte op die mark uittoets en self kies waarvan hy of sy hou.

Watter handelsnaam jy ook al kies, die een sal 'n nitro-oplosmiddel móét wees en die ander 'n produk wat die koperneerslag uit die loop kan verwyder. Deesdae kry 'n mens goeie middels wat 'n kombinasie van bogenoemde twee is en dit is jou keuse of jy die kombinasie of twee aparte middels wil gebruik. Loodneerslag in 'n loop kom grootliks in rewolwers, pistole, haelgewere en ouer wapens soos die Martini Henry voor en is 'n onderwerp op sy eie.

Om behoorlike skoonmaakwerk te kan doen, moet die geweer stewig vas wees sodat albei jou hande los is om lekker te kan werk. Daar is verskeie apparate op die mark beskikbaar, maar soos op die foto gesien kan word, knyp ek my gewere sommer in die bankskroef op my werkbank vas. Dit plaas die geweer op 'n lekker hoogte om daarmee te werk en hy is so stewig as kan kom.

Om skade aan die kolf te voorkom, het ek twee plankies gevat en 'n stukkie leer daaraan vasgekap met die spykertjies aan die bokant. Dit vorm 'n U waarin die geweer dan lekker pas. Verder het ek 'n los stukkie baie sagte leer wat binne die U inpas voordat die geweer vasgedraai word. Ná baie jare se gebruik het ek nog geen skade aan die kolf veroorsaak nie.

Die skroef moet natuurlik nie te styf gedraai word nie, want dan kan jy die kolf kraak. Net so liggies draai dat die geweer nie kan beweeg wanneer jy daarmee werk nie.

Die geweer word met 'n effense hoek ingesit sodat die loop skuins afwaarts wys. Dit help dat die skoonmaakmiddel uitloop en nie in die aksie terugloop nie. Ek werk natuurlik altyd van die slot se kant af en nooit van die voorkant van die loop af nie omdat die kroon van die loop beskadig kan word.

As jy nie 'n bankskroef het nie, kan jy soos op die ander foto twee planke in 'n L-vorm aan mekaar skroef en die kolf met 'n G-klamp aan die een kant vasskroef en die plank self met nog 2 G-klampe aan jou kombuistafel — dit is nou as die "huisbaas" jou toelaat. Weer moet die kolf beskerm word met 'n stukkie dik leer of vilt. 'n Stelletjie goedkoop G-klampe kan vir R50 gekoop word.

Soos op die foto gesien kan word, het ek ook 'n verdere hulpmiddel in die vorm van 'n spesiale plastiekbuis wat by die slotopening inpas en waardeur die skoonmaakstok gaan. Sy doel is om te verhinder dat die stok teen die kante van die kamer skuur en moontlik slytasie veroorsaak.

Die stokke wat met plastiek oorgetrek is, sal nie sommer slytasie aan die geweer veroorsaak nie, maar omdat ek soms met 'n stok van vlekvrye staal werk, gebruik ek dit. Verder voorkom dit ook dat die plastiek van die ander soort stokke teen die kamerwande beskadig word.

Die apparaat kos ongeveer R120. Die enigste nadeel is dat as jou gewere verskillende aksies het, moet jy vir elkeen 'n afsonderlike een koop. Verder gooi ek 'n stuk plastiek oor die kolf sodat as daar van die skoonmaakmiddel afdrup, dit nie die afwerking op die hout beskadig nie.

Deesdae gebruik ek een van die kombinasie skoonmaakmiddels. Gooi 'n bietjie van die vloeistof in 'n ou piering en doop die lappie daarin voordat dit om die getande koper apparaatjie of "jag" gedraai word. Sommige mense draai dit eers om en doop sommer die hele kaboedel direk in die botteltjie skoonmaakmiddel, maar dit veroorsaak gewoonlik 'n morsery en buitendien kom daar dan maklik vuiligheid in die vloeistof wat sy werking kan benadeel.

Hierdie eerste lappie knip ek kleiner omdat dit lossies in die loop moet pas sodat die vloeistof die hele binnekant van die loop kan natmaak. Die geweer word nou 'n uur lank gelos sodat die middel sy werk kan doen. Dan word weer 'n lappie natgemaak en deur die loop gesit om die ergste van die neerslag uit te vee.

In hierdie stadium gebruik ek soms die koperborseltjie om die loop te skrop, maar as 'n mens jou geweer gereeld skoonmaak, is dit dikwels nie nodig nie. Wanneer ek wel die borseltjie gebruik, sorg ek dat hy nie voor by die loop uitglip nie, want ek glo dat as dit te veel kere gebeur, 'n mens ook die kroon van die geweer kan beskadig en dit is fataal vir goeie akkuraatheid.

Voordat ek die loop nou met droë lappies deurstoot, gee ek aandag aan die kamer en die plek waar die sluitnokke van die slot ingaan. Vir die kamer draai ek 'n dikker lappie op sodat die wande goed natgemaak word. Kyk maar na die dikte van byvoorbeeld 'n .308-geweer se dop teenoor die punt en 'n mens kan sien dat 'n lappie wat deur die loop moet kan gaan, nie die wande van die kamer sal raak nie.

Die sluitnokke se opening is 'n ongemaklike plek om skoon te kry. Soos op die foto gesien, het ek `n gewone ronde houtjie (dowel) gevat en 'n gleufie daarin gesaag. 'n Lappie word dubbeld gevou en in die gleufie ingetrek. Met hierdie lappie word die opening dan so goed moontlik skoongemaak.

Hierna is dit maar net die een na die ander droë lappies deursteek totdat daar 'n skoon lappie anderkant uitkom. Omdat die lappies relatief goedkoop is, stoot ek hom van agter af deur die loop en dan dwarsdeur sodat ek hom aan die voorkant kan afhaal. Ek trek hom nooit deur die loop terug nie, want dan trek jy maar net die vuiligheid deur die loop terug. Onthou ook om die kamer weer met 'n dikker lappie skoon te maak.

As dit aan die einde van die jagseisoen is en die geweer gaan vir 'n lang tyd nie gebruik word nie, begin ek die proses weer van voor af. 'n Mens staan verbaas om te sien dat as jy die lappie met vloeistof weer deursteek, kom hy dikwels weer blou anderkant uit. Blou of groen op die lappie is 'n teken dat die koperneerslag nog nie heeltemal verwyder is nie.

Ek olie glad nie my gewere se lope wanneer ek hulle bêre nie, maar bére hulle net so droog in die kluis. Ek bly nou al tien jaar by die see en het nog nooit 'n loop gehad wat roes nie, maar ek inspekteer hulle gereeld om baie seker te maak dat geen roes ontwikkel nie en verder plaas ek silika-kristalle in die kluis om die lug so droog moontlik te hou.

  • Ds. Ben Fourie is 'n jag- en geweerentoesias van Port Elizabeth.

    14 November 2003