Sommige jagters geniet dit om hul vuurwapens ná die jagseisoen behoorlik skoon te maak. Baie jagters sien geweerskoonmaak egter as 'n noodsaaklike euwel, terwyl ander dit eenvoudig verpes. Of jy nou daarvan hou of nie, dit is nodig om jou geweer ná die jagseisoen goed skoon te maak.
Die jaarlikse inspeksie en versorging van jou jaggeweer, sal jou geweer in 'n uitstekende toestand hou en onverwagste uitgawes uitskakel. Die loop se buitekant, die magasynkas, die slot, die teleskoop en die houtwerk, verdien net soveel aandag as die loop se binnekant.
Die mees bruikbare hulpmiddels om die metaalwerk en die magasynkas skoon te maak, is 'n kwas, ou tandeborsel, tandestokkie en natuurlik 'n lekker sagte lap. Ek begin deur al die metaalwerk eers deur te kyk om te sien of daar nie iewers 'n plekkie is waar roes posgevat het nie. Indien wel, moet 'n mens baie versigtig werk anders kan jy die blouwerk beskadig en dit kos al 'n aardige bedrag om die geweer te herblou.
Die enigste metode wat werk is om baie fyn staalwol en olie te gebruik. Ek glo dit is die moeite werd om 000-graad staalwol by 'n winkel wat in houtwerkgereedskap en toebehore spesialiseer, te koop, want dit is ook die beste om jou kolf mee af te werk. Indien dit nie beskikbaar is nie, kan jy huishoudelike staalwol gebruik, maar wees ekstra versigtig.
'n Klein stukkie van die staalwol word letterlik in dun masjienolie soos 3 in 1 "versuip". Dit moet regtig dwarsdeur nat van die olie wees. Met hierdie stukkie staalwol word die roesplekkie dan baie versigtig gepoleer. As dit net oppervlakte roes is, sal dit maklik afkom en jy sal nie kan sien dat daar ooit roes was nie.
Vervolgens gebruik ek die tandeborsel en kwas om elke hoekie en gaatjie skoon te borsel. As daar hardnekkige stof of ander vuiligheid is, kan die tandestokkie gebruik word om dit los te maak. Ek gee veral aandag aan die binnekant van die aksie waar die slot moet inpas.
As jou geweer se magasynplaat kan oopmaak, is dit nou die tyd om dit te doen en ook alles daarbinne met die tandeborsel skoon te maak.
As jy natuurlik 'n lekker sterk kompressor besit of op goeie voet met die plaaslike "garageman" is, kan jy sommer die hele geweer 'n slag lekker skoon blaas en al die stof uit elke hoekie uitkry. Wanneer alles mooi skoon is, vee ek al die metaalwerk met 'n silikoon lap af. 'n Mens kry dit by geweerwinkels te koop.
Die beste raad wat ek rakende die slot kan gee, is dat as jy nie regtig weet wat jy doen nie, moet jy nie probeer om dit uitmekaar te haal nie. My eie metode is om in een van die 2 liter plastiek roomys bakke genoeg verfverdunner te gooi, die slot daarin te gooi en dit dan heen en weer te skommel. Dit was enige vuiligheid en ou olie uit die lot uit.
Dan gebruik ek weer die tandeborsel en tandestokkie om veral onder die uittrekker skoon te maak. Laat dit vir 'n uur of so lê om goed droog te word en gooi 'n paar druppels geweerolie (ek hou van Ballistol) in die werkende dele. Daarna sit ek die slot gewoonlik in die geweer en maak dit 'n paar keer oop en toe sodat die olie lekker kan deurwerk.
Ek olie nie graag die slot aan die buitekant nie omdat stof dan maklik in die veld daaraan vassit. 'n Veeg of twee met die silikoon lap is hier ook genoeg.
Die teleskoop se twee belangrikste dele is die metaaldele self en die lense. Die metaaldele kan net soos die geweer met die tandeborsel in elke hoekie en draaitjie skoongemaak word, maar die lense verg spesiale aandag.
Jare gelede het ek 'n baie humoristiese storie gelees van 'n jagter en geweerliefhebber wat in die Kalahari met 'n oom se 6 mm Musgrave geweer moes skiet. Die kaliber het toe net op die mark gekom en almal was baie beïndruk. Toe hy deur die Weaver K4-teleskoop kyk het hy egter net 'n Kalahari-stofstorm gesien so vuil was die lense. Toe hy vir 'n lap vra om dit skoon te maak het die oom kombuis se kant toe geskree dat hulle 'n vadoek moes bring.
So 'n vetterige en growwe doek is natuurlik fataal vir jou lense. Self maak ek gebruik van 'n spesiale apparaatjie wat by kamera winkels te koop is (sien foto). Dit werk soos 'n blaasbalkie. Wanneer jy op die sy druk, word lug deur die baie sagte borselhare uitgeblaas en kan jy die meeste stof van die lense afstof en blaas. Verder gebruik ek die spesiale lensskoonmaak papier wat ook by goeie kamera winkels te koop is.
Vir die van die lesers wat 'n bril dra, is die geel houertjie en sagte lappie op die foto sekerlik bekend. Dit bevat politoer waarmee jy jou bril se lense skoonmaak en opvryf. Ek gebruik dit baie spaarsamig op die lense en vind dat dit hulle pragtig skoonmaak.
Hoe jy die houtwerk gaan skoonmaak, hang alles af van watter afwerking daar op jou kolf is. Daar is basies drie soorte afwerkings, naamlik 'n egte olie-afwerking (London oil finish), een of ander vernis of poli-uteraanverseëlaar en lakpolitoer (French polish). Laasgenoemde sien 'n mens deesdae nie baie nie en daarom kan ons op die eerste twee konsentreer.
Hoewel 'n mens natuurlik fabrieksgewere met 'n olie afwerking kry, is dit die grootste meerderheid met 'n vernis of verseëlaar afgewerk, sy dit 'n glans afwerking of 'n mat afwerking. Hierdie kolwe is maklik om skoon te maak, want al wat hulle vra is 'n sagte lap wat baie effentjies klam gemaak is om stof en sweet af te vee. Daarna kan jy hulle ook met die silikoon lap oorgaan of met 'n bietjie meubelwaks opvryf.
My gewere het almal 'n olie-afwerking. Dit het my baie tyd geneem om hulle te doen, maar dit is beslis die moeite werd. Eers vee ek ook die kolf met 'n effens klam lap af, en dan vryf ek 'n bietjie Londen-olie met die hand in. Dit is 'n spesiale olie wat by geweerwinkels te koop is en moet nie met gewone geweerolie of meubelolie verwar word nie.
'n Verdere voordeel van die soort afwerking is dat as daar fyn skrapies op die kolf is, kan jy dit met 000-graad staalwol uitskuur en weer die olie invryf. Dit is ongelukkig nie met 'n vernis afwerking moontlik nie. By beide soorte afwerking kan die ruitwerk liggies met die tandeborsel skoongemaak word om stof en ander vuiligheid te verwyder.
Een keer elke drie jaar haal ek die geweer uit die hout sodat ek die metaal ook aan die onderkant goed kan skoonmaak. Dit is ook goed vir 'n geweer waarvan net die eerste stukkie van die loop gepak is en die res vry lê. Stof en selfs fyn stukkies blare het die neiging om by die dun skrefie tussen metaal en hout in te gaan. Wanneer 'n mens dit doen, moet jy die regte soort holgeslype skroewedraaier wat presies in die aksieskroewe se gleuwe pas, gebruik.
Nadat die geweer so uitmekaar gehaal is, moet jy hom natuurlik weer gaan inskiet. Na 'n paar skote moet die aksieskroewe ook weer so effentjies stywer gedraai word. As jy onseker is oor die operasie, laat 'n geweersmid dit liewers vir jou doen.
21 November 2003