Landbou
Lê sit-sit aan
THEUNS BOTHA (landbou@mweb.co.za)

'n Afgetrede boer het 'n skietstoel ontwerp om sy jaguitstappies makliker te maak. Dié draagbare jagstoel kan ook gebruik word om 'n geweer in te stel of om sommer net in die veld te rus.

Dit was sy voorliefde vir jag en sy hande wat nie meer so stewig wou vat nie wat mnr. Edmund Parker (76), voorheen van die plaas De Hoop, in die distrik Hofmeyr, 'n plan laat maak het.

Parker, wat nog altyd graag sweiswerk gedoen het (hy het van hekke tot sleepwaens gemaak), sê omdat hy erg bewe, het hy besluit om 'n jagstoel te ontwerp waarin hy gemaklik kon sit en aanlê.

"Die eerste stoel was maar 'n swak poging, daarmee kon ek beter aanlê, maar dit was nie baie gemaklik nie en die korrel het steeds effens gebewe as ek na die teiken gemik het." Hy het dit verbeter deur twee verstelbare elmboëstutte aan te bring wat verseker dat die arms van die jagter stewig daarin pas en die sneller sekuur afgetrek kan word.

Die jongste weergawe van sy skietstoel het sowat veertien verskillende verstellings en kan dus volgens elke jagter se voorkeur verstel word. "Of jy nou breed of maer is, dit kan gestel word totdat jy gemaklik daarin voel."

Parker vertel dat die eerste persoon wat een van die stoele aangeskaf het, die gespot van sy vriende moes verduur toe hy vir 'n springbokjag in die Vrystaat opgedaag het. "Ses skote en ses bokke later het dié vriende 'n ander deuntjie daaroor gesing."

Hoewel die stoel ontwerp is om in 'n sittende posisie op grondhoogte te skiet, kan dit ook op 'n platform vasgebout en agterop 'n voertuig geplaas word vir gebruik in, byvoorbeeld, 'n beboste gebied. Hy maak die stoel van buisstaal van 12 mm en 16 mm. Dit kan ook 360 grade beweeg.

Mense wat gereeld jakkalse skiet, meen die stoel se beweeglikheid maak dit besonder nuttig. Die stoel weeg 7,5 kg en word met behulp van twee breë leerbande gemaklik op die rug gedra. Die jagter se hande is dus los om die geweer veilig te hanteer.

Parker sê hoewel dit moontlik sou wees om die stoel van 'n ligter metaal, soos aluminium, te vervaardig, dit heelwat duurder sal kos. Hy het al daaraan gedink om die ontwerp te patenteer, maar het verneem dat dit 'n duur en omslagtige proses is. "Vir my is die maak van die jagskietstoele sommer net 'n tydverdryf om my hier in die stad (Port Elizabeth) mee besig te hou."

Mense van oor die land heen wat van die stoel gehoor het, het al van die stoele teen R1 000 stuk bestel. Hy het onlangs ook 'n houer ontwerp wat teen die stam van 'n boom vasgebout kan word om te keer dat die honde vullissakke bykom.

Navrae: Mnr Edmund Parker, tel. 041 581 7566l.

20 Februarie 2004