Landbou
Net akkurate geweer is interessant
Deur BEN FOURIE

'n Onakkurate geweer is een van die grootste probleme vir 'n jagter, veral as hy in die jagveld opdaag en hy vasstel sy geweer skiet bont. Faktore wat hiertoe kan bydra, is die toestand van die loop, vuiligheid in die loop, 'n foutiewe teleskoop en die gebruik van verskillende soorte patrone.

'nGeweerskrywer het eenmaal gesê dat die enigste interessante geweer 'n akkurate geweer is. As 'n geweer bont skiet, het jy gewis groot probleme. Of jy 'n jagter of 'n sportskut is, die heel belangrikste is dat die koeël elke slag tref so naby moontlik aan die plek waar jy gekorrel het.

Die algemeenste manier hoe ons bepaal of 'n geweer akkuraat is, is om 'n groepering te skiet, dit wil sê 'n aantal skote kort ná mekaar na dieselfde punt op 'n papierteiken.

Hoeveel skote in só 'n groepering hoort, hang af van waarom jy skiet. Vir diegene wie se sport suiwer is om die beste groeperings moontlik te skiet, is drie skote hopeloos te min, maar vir die jagter met 'n gewone jaggeweer is drie skote weer voldoende.

Watter grootte groepering voldoende is, hang natuurlik óók af van watter skietsport jy beoefen. Die manne en vroue ('n Pro-Amm-groeperingkompetisie is al deur 'n vrou gewen) wie se sport dit is om groeperings te skiet, skiet tien skote deur omtrent dieselfde gat. Só akkuraat is die gewere en skuts dat, omdat 'n groepering vanaf die middel van die twee gate wat die verste van mekaar af lê, gemeet word, hulle groeperings selfs kleiner meet as die kaliber waarmee hulle skiet.

Vir 'n gewone jaggeweer is 'n groepering van 25 mm op 100 meter egter uitstekend en vir die bosveldjagter wat op korter afstande skiet, is selfs 50 mm goed genoeg. Enigiets beter as dit is 'n bonus. Met my ou Martini-Henry met 'n oop visier waarmee ek selde verder as 100 meter skiet, is 75 mm uitsonderlik en stel selfs 'n 100 mm-groep my nie teleur nie.

Die groot lollery begin as jy skielik in die veld agterkom jy skiet meer mis as raak. Ons veronderstel dat dit hier nie die skut self is wat swak skiet nie. As jy dalk bekommerd is dat jy self die skuldige is, skiet 'n groepering met die betrokke geweer asook 'n ander geweer, of laat iemand wat 'n goeie skut is met jou geweer 'n groepering skiet. As dit die geweer is wat bont skiet, moet jy nou na die oorsaak begin soek.

So 'n klein bietjie teorie is dalk hier van pas. Wanneer 'n koeël afgevuur word, beweeg dit deur die loop en vanweë die groefdraai van die loop, word dit teen baie hoë omwentelings gedraai. Hierdie beweging deur die loop veroorsaak dat die loop self vibreer.

As 'n tuinslang op die grond lê en die kraan word oopgedraai, spring die tuinslang heen en weer en swaai selfs in sirkels, na gelang van die waterdruk. Dit is min of meer wat ook met 'n geweerloop gebeur.

Die ideaal is om die vibrasies tot 'n minimum te beperk, en om te probeer verseker dat elke koeël die loop sal verlaat wanneer die loop op 'n spesifieke plek in die vibrasiesiklus is. Daarom is dit belangrik dat die snelheid van die koeëls so konstant moontlik moet bly. Een baie vinnige koeël en een stadiger een sal nie die loop op dieselfde plek in die siklus verlaat nie en dan ook nie die teiken op dieselfde plek tref nie.

'n Kort, dik en swaar loop sal natuurlik baie minder vibreer as 'n lang, dun, ligte loop. As jy vanaf sandsakke by 'n skiettafel sit en skiet, maak die gewig van 'n dik loop natuurlik nie saak nie, maar in 'n jaggeweer wat in die veld en berge rondgedra word, moet jy 'n kompromis aangaan. Daarom is die ligter jaggeweer inherent minder akkuraat as die skyfskietgeweer.

Die volgende dinge is almal moontlike oorsake van swak akkuraatheid. Ek noem hulle nie noodwendig in volgorde van belangrikheid nie.

Ondersoek die loop. As die loop uitgeskiet is, kan die geweer nie meer akkuraat skiet nie. Druk 'n koeël voor in - as dit styf pas, is die loop waarskynlik nog goed.

Dit gee egter nie altyd 'n akkurate aanduiding nie. Die enigste mens wat regtig kan vasstel of 'n geweerloop nog goed is, is 'n gekwalifiseerde geweersmid wat die nodige toerusting het. Die loop kan byvoorbeeld by die bek nog goed lyk, maar die eerste deel ná die kamer kan vanweë die baie hoë temperatuur van die ontbrandingsgasse erg verweer wees.

Dit gebeur veral met die baie vinnige kalibers. Ek het 'n .220 Swift met 'n loop van vlekvrye staal gehad waarmee ek nooit watwonderse groeperings gekry het nie omdat selfs die vlekvrye staal deur die warm gasse beskadig is.

As die loop voor by die bek selfs net 'n klein stampie gekry en die kroon beskadig is, sal die akkuraatheid aangetas word. 'n Goeie geweersmid kan 'n nuwe kroon insny, maar as die kamerdeel verweer is, is die loop daarmee heen.

Glo dit as jy wil, maar een van die algemeenste oorsake van onakkuraatheid is 'n loop wat baie vuil is. 'n Baie mooi Sako .375-H&H wat ek jare gelede besit het, was, ten spyte van die groot kaliber, een van die akkuraatste gewere wat ek ooit gehad het. Hy het met die regte ladings konstant minder as 25 mm gegroepeer. Om hierdie akkuraatheid te behou, moes ek die loop egter ná elke vyftien skote baie goed skoonmaak, want hy was geneig om veral koperaanpaksels te vorm.

'n Baie goeie skoonmaak, en veral die verwydering van die koperaanpaksel, is dikwels ál wat nodig is om die akkuraatheid te herstel.

As die aksieskroewe los is, spring die aksie en loop rond in die hout. Dit kan die kolf laat kraak. Gebruik 'n skroewedraaier wat perfek in die skroef se gleuf pas en draai vas. Moet dit nooit oormatig styf draai nie, want dit kan die aksie verwring en die geweer nog onakkurater laat skiet.

Die volgende sondaar kan die teleskoop wees: Kyk eers of daar nie los skroewe is nie. Hier moet jy nie net na die skroewe kyk wat die teleskoop in die monterings vashou nie, maar ook dié wat die monteerblokke op die aksie vashou. Wees versigtig met die vasdraai, die skroefies draai maklik af. 'n Bietjie Lock Tite aan die skroefdraad help dat dit nie vanself gou weer losdraai nie.

Die teleskoop kan vanweë 'n harde stamp of iets anders beskadig wees. Die enigste oplossing is om by iemand 'n teleskoop te leen en te kyk of jou geweer dan beter groepeer of om jou teleskoop op 'n ander geweer te monteer.

Dit is ook moontlik dat die korrel of visier 'n bietjie losgekom het. Selfs 'n millimeter-verskuiwing elke slag wat jy skiet, kan jou geweer onakkuraat maak. My eerste geweer was 'n .303 ("sporting") waarmee ek uiters vrot geskiet het totdat ek agtergekom het die visier is los.

Die ammunisie speel natuurlik ook 'n rol in akkuraatheid. As jy onlangs 'n ander vervaardiger se patrone begin gebruik het of 'n nuwe lot van dieselfde vervaardiger gekoop het of 'n ander koeëlgewig begin gebruik het, kan dit jou probleem wees. Sommige gewere is baie fyngevoelig vir ammunisie.

'n Geweer wat netjies met byvoorbeeld PMP se punte van 180 grein geskiet het, wil glad nie met dieselfde vervaardiger se punte van 150 grein dieselfde groepering lewer nie. Selfs herlaaiers vind dat 'n geweer wat netjies met een vervaardiger se punte van 100 grein groepeer, dit nie met 'n ander vervaardiger se punte van 100 grein regkry nie.

Ek het 'n .243 wat konstant groepe van so klein as 12 mm skiet met verskillende vervaardigers se punte van 100 grein, maar ek kon nog nooit 'n goeie groepering met Nosler Partitions kry nie. My 30-06 skiet weer gereeld 25 mm-groepe met Nosler Partitions van 165 grein.

Hoewel ammunisie duur is en 'n mens dikwels nie groot hoeveelhede op 'n slag kan koop nie (die nuwe vuurwapenwetgewing beperk jou in elk geval tot 200) is dit 'n goeie idee om, as jy 'n lot kry wat goeie groeperings met jou geweer lewer, soveel moontlik daarvan te koop.

As niks van bogenoemde wil help nie, is die volgende stap om te kyk na hoe die loop in die hout "gepak" is. Hierna kyk ons in 'n volgende artikel.

15 April 2005