As die loop, teleskoop of ammunisie nie die oorsaak van 'n geweer se onakkuraatheid is nie, moet gekyk word hoe die loop in die hout "gepak" is. Elkeen wat 'n bietjie handvaardig is, kan self sy geweer vir groter akkuraatheid pak.
In Prieska, waar ek grootgeword het, was gewere deel van die alledaagse lewe. Ons kannetjies het oral met windbukse rondgeloop en geen grootmens het 'n oog daaroor geknip nie. Naas windbukse was daar ook kleingewere en grootgewere. Kleingewere was .22's en grootgewere die .303's.
In 'n wêreld waar skyfskiet- én jaggewere meerendeels .303's was, was 'n man wat 'n geweer goed kon pak hoog in aansien. Elke dorp het gewoonlik een of twee mense gehad wat 'n geweer kón pak.
Om 'n geweer te pak, of soos dit ietwat Anglisisties ook bekend is, te bed, beteken doodgewoon om seker te maak dat die loop só in die hout of ander materiaal van die kolf lê dat die beste akkuraatheid verkry word.
In die vorige artikel het ek genoem dat die beste akkuraatheid verkry word wanneer die koeëls die loop op min of meer op dieselfde plek in die vibrasiesiklus verlaat. Dink nou aan die loop van die geweer soos dit in die kolf lê. As die kanaal, vanweë watter rede ook al, nie presies reguit is nie, maar iewers harder teen die loop druk as op 'n ander plek, sal die akkuraatheid beïnvloed word omdat die loop met elke skoot teen die ongelykheid sal "stamp". Die loop sal dus nie presies op dieselfde plek wees elke keer wanneer 'n koeël die loop verlaat nie.
Dit is waarom 'n geweer wat in die vogtige klimaat by die kus perfek skiet, ná 'n paar dae in die binneland heeltemal onakkuraat raak. Die kolf droog uit en vertrek 'n bietjie. Dit druk die loop iewers skeef.
Om die loop te pak, moet jy dit dus só in die loopkanaal laat lê dat dit òf nêrens raak nie òf oral ewe veel raak.
In my kinderdae is die militêre .303's waarmee skyfgeskiet en gejag is, dikwels met strokies kurk gepak. Vandag is daar talle metodes en elkeen het sy voor- en teenstanders.
Om 'n geweer wat vir besonder akkurate skietwerk gebruik word, te pak, vereis heelwat kennis en is nie die doel van hierdie artikel nie. Wat ek hier weergee, is wat ek proefondervindelik geleer het en wat elkeen wat 'n bietjie handvaardig is, self kan aanpak om 'n alledaagse geweer akkurater te maak.
Daar is twee maniere wat gewoonlik goeie resultate lewer. Die eerste is om net die aksie self en die eerste paar sentimeter van die loop waar dit in die aksie ingaan (die "Knox Form") te pak en die res van die loop vry te laat lê sodat dit nêrens aan die kolf raak nie. Op Engels word dit 'n "free floating barrel" genoem.
Vir my is die grootste nadeel van dié metode dat die gapings tussen die loop en die kolf onooglik is en blare en takkies 'n manier het om juis in daardie gapings in te gaan. Tog was van die heel akkuraatste gewere waarmee ek ooit geskiet het op dié manier gepak.
Die tweede metode is om die aksie en die volle lengte van die loop te pak sodat die loop oral presies ewe styf teen die loopkanaal in die kolf druk. Daar is kolfbouers wat die loopkanaal só netjies uithaal dat die loop werklik perfek in die kanaal lê, maar vir ons gewone sterflinge is daar 'n makliker en goedkoper manier.
My heel eerste poging om 'n geweer só te pak, was amper dertig jaar gelede en ek het Pratley Putty gebruik. Dit het goed gewerk. Deesdae is daar egter materiale wat hiervoor ontwerp is en waarvan die bekendste seker Acraglas is.
Laat ek eers 'n belangrike waarskuwing rig: Moet nooit jou duur Rigby of Holland & Holland-versamelstuk self probeer pak nie. Hierdie manier is vir jou gewone jaggeweer.
Daar is volledige aanwysings in die Acraglas-verpakking. Ek gaan dit nie alles herhaal nie, maar liewer probeer om 'n paar wenke te gee wat ek deur die jare geleer het.
Om net die aksie te pak en die loop vry te laat lê, vereis dieselfde prosedure, maar die Acraglas word net by die aksie in die kolf gesmeer en die res van die loopkanaal net so gelaat.
Wanneer jy by dié metode die loopkanaal vergroot om die loop te laat vry lê, moet jy versigtig wees om nie te veel hout weg te skuur nie, want dan sit jy met 'n onooglike gaping langs die loop.
Dit is natuurlik die beste as jy eers op 'n ou of baie goedkoop geweer kan oefen, maar as jy regtig versigtig werk en die instruksies honderd persent volg, sal jy die vrugte pluk.
22 April 2005