Landbou
Keer vir te veel geweer
WILLEM ODENDAAL

Te veel bosveldjagters gebruik nog onnodig "baie geweer" en wonder dan waarom hul biltong nie lekker is nie. Met die regte geweer en ammunisie kan jy verseker dat 'n bok doeltreffend platgetrek word en dat jy met goeie vleis by die huis aankom.

Daar is geen ballistiese plaasvervangers vir 'n goeie skoot nie. Die voorwaarde is egter die regte kaliber en ammunisie om 'n doodskoot met een skoot te verseker. Niemand hoef in die bos met 'n jaggeweer in enige van die moderne kalibers wat op 100 meter ingestel is, hoër of laer te mik om toe te gee vir die kromming van die koeëlbaan nie.

Die kuns lê daarin om 'n kaliber geweer en ammunisie te kies wat 'n "stadige" koeël met genoeg momentum kan afvuur om die werk te doen wat gedoen moet word.

Jagters wens altyd daar was 'n eenvoudige, betroubare metode om die "doodmaakvermoë" van hul ammunisie te voorspel en sodoende die keuse te vergemaklik. Hieronder is van die verskeie formules wat sekere aspekte van die werkverrigting van 'n koeël omskryf.

  • Energie dui aan hoe groot die bok is wat met die spesifieke koeël gejag kan word. As die sleurtraagheid daarvan nie bekend is nie, kan die maksimum doeltreffende afstand nie voorspel word nie. As die inligting oor die konstruksie van 'n koeël of die materiaal waarvan dit gemaak is, nie bekend is nie, kan ook nie voorspel word of die koeël sal opbreek of diep genoeg sal penetreer as dit die bok tref nie.
  • Die momentum van 'n koeël gee 'n aanduiding van hoe diep die koeël kan penetreer. Dit kan egter nie, veral in geval van die ligte kalibers, voorspel of die koeël genoeg sal omklink of sal opbreek nie.
  • Seksionele digtheid voorspel die penetrasievermoë van 'n koeël. Die gewig en deursnit van die koeël word eenvoudig met mekaar vermenigvuldig. Seksionele digtheid neem nie die bouvorm en konstruksie in ag nie. Dit kan derhalwe nie die terminale werkverrigting van 'n koeël (dit wat gebeur wanneer die koeël tref) betroubaar voorspel nie.
  • Ballistiese koëffisiënt is 'n formule waarin die seksionele digtheid en die bouvorm van 'n koeël gebruik word om die sleurtraagheid, en gevolglik ook die energieretensie en gevoeligheid vir dwarswinde, daarvan te voorspel. Hoe hoër die ballistiese koëffisiënt, hoe beter klief 'n koeël deur die lug. Die ballistiese koëffisient hou nie rekening met die konstruksie en materiaal waarvan die koeël vervaardig is nie en kan nie voorspel wat gaan gebeur wanneer daardie koeël vleisweefsel binnedring nie.
  • Talle jagsportskrywers het al geprobeer om meer ingewikkelde, meervoudige kombinasies van ballistiese eienskappe, soos die koeël se gewig, deursnit, puntkonfigurasie, bouvorm, impaksnelheid, energie, momentum, gewigsverlies en vele meer, in formules te gebruik om die doodmaakvermoë te voorspel. Nie een het tot dusver geloofwaardigheidstatus verwerf nie. Onwetenskaplike aannames word gemaak om die formules te dokter.

    Die terminale werkverrigting (doodmaakvermoë) van koeëls is 'n produk van 'n hele aantal ballistiese eienskappe wat afsonderlik en gesamentlik in harmonie met mekaar saamwerk. Jagters mag hulle nie laat verlei om aan die hand van slegs een eienskap of formule af te lei watter ammunisie doeltreffend op 'n spesifieke soort bok gebruik sal kan word nie. Die inligting in die tabelle hieronder bevat 'n wye reeks ballistiese eienskappe, juis om te wys hoe misleidend te min inligting kan wees. (Dit is ongelukkig nie moontlik om die tabel waarna verwys word, op die internet te laai nie - webredakteur.)

    Seksionele digtheid word in die tabel gebruik om die betrokke kalibers, toegerus met die spesifieke ammunisie, in stygende volgorde van "doodmaakvermoë" te rangskik. Dit wys dat seksionele digtheid wel die penetrasievermoë van die ligter kalibers kan voorspel, maar dat dit die bal in die geval van die swaarder koeëls heeltemal misslaan.

    Die 7 mm Magnum Sako-koeël van 11 gram (170 grein) het byvoorbeeld amper dieselfde seksionele digtheid as die SABI 500 Jeffery-volmantelkoeël. In die praktyk veroorsaak die Jeffery 'n wondkanaal van meer as 1,5 meter lank - genoeg om 'n olifant met een skoot plat te skiet. Die 7 mm Magnum met sy wondkanaal van 25 cm behoort net op boksoorte tot die grootte van 'n swartwildebees gebruik te word.

    Gepubliseerde inligting van die betrokke ammunisievervaardigers is in die tabel gebruik. Waar die seksionele digtheid en ballistiese koëffisiënt nie beskikbaar was nie, is inligting van Hornady en/of Woodleigh (vir soortgelyke koeëls) gebruik. Ammunisie van dieselfde vervaardiger is gebruik om koeëls wat in dieselfde kaliberklas van gewig verskil, met mekaar te vergelyk.

    Die riglyn is dat wondkanale vir alle wildsoorte in die praktyk minstens 13 mm in deursnit moet wees. Vir bokke wat tot 50 kg weeg, is die vereiste minimum diepte 24 sentimeter, vir bokke tot 150 kg, 36 sentimeter en vir diere tot 350 kg, 48 sentimeter. Meer spesifieke inligting word in die tabel vervat.

    Die lengte van die onderskeie wondkanale in die tabel is bepaal deur deurweekte telefoongidse as teikens te gebruik. Dit verteenwoordig nie noodwendig die resultate wat in vleisweefsel behaal sal word nie, maar verskaf 'n eenvormige basis waarop koeëls met mekaar vergelyk kan word. Daar kan verwag word dat koeëls waarskynlik dieper wondkanale in sagte vleisweefsel sal veroorsaak, dat dit sagtevelbokke dieper sal binnedring as taaivelwildsoorte en dat halfmantelkoeëls met sagte punte moontlik sal opbreek as dit been tref.

    Die belangrikste waarneming uit dié inligting is dat piekpenetrasie met alle koe-els teen impaksnelhede van ongeveer 730 m/sek. (2 400vt./sek.) behaal word. Die diepte van die wondkanaal neem af namate die impaksnelheid van 'n koeël bokant hierdie kerf toeneem. Selfs versterkte koeëls veroorsaak vlakker wondkanale teen té hoë snelhede. Koeëls met baie lae impaksnelhede het natuurlik ook nie genoeg momentum vir goeie penetrasie nie.

    Die impaksnelheid van 730 m/sek. op 100 meter is in die tabel as grenswaarde gekies om die boskalibers van die vlaktekalibers te skei.

    Dit is geen toeval dat die 30-06, toegerus met 'n koeël van 11,7 gram (180 grein), in die algemeen as 'n veelsydige kaliber beskou word nie. Dit kan volgens die inligting in die tabel vir bosveld- én vir Kalahari-jag tot op afstande van 200 meter gebruik word. Met 'n koeël van 14,3 g (220 gr) is die impaksnelheid daarvan laer as 670 m/sek. (2 200 vt./sek.), terwyl die wondkanaal amper 'n halwe meter diep is - wat daarvan die ideale bosveldkaliber maak. Selflaaiers verander hul magnumkalibers in bosveldkalibers deur minder kruit te laai.

    Die tabel wys dat die boskalibers 'n nouer verhouding tussen die energie en momentum het as die vlaktekalibers. Die twee groot kanonne in die tabel, die 500 Jeffery en die 458 Winchester Magnum, het op 100 meter meer as 250 eenhede energie (J) vir elke eenheid momentum (kg-m/sek.). Die ander uiterste is die twee "wilde" magnums, die 338 Lapua Magnum en die 7 mm Remington Magnum, wat meer as 400 eenhede energie vir elke eenheid momentum het.

    Harde skop is ongewens
    Geweerskop veroorsaak dat 'n jagter terugdeins vir die terugslag van die geweer. Dit affekteer veral jagters wat nie gereeld jag nie. 'n Rooibok kan byvoorbeeld ewe suksesvol met 'n 7 x 57 Mauser en 'n 458 Winchester Magnum gejag word. Die haakplek is net dat die 458 meer as dubbel so hard skop as die 7 x 57.

    Die maksimum aanvaarbare geweerskop vir gewone jagters word op 10 kg-m/s gestel. Weereens word die drumpelwaarde vir geweerskop volgens die tabel verteenwoordig deur die 30-06, gelaai met 'n koeël van 11,7 g (180 gr). Die jagter wat meer as twee skote ná mekaar met die 500 Jeffery kan skiet sonder om sku te word vir die geweer se skop, moet 'n superskietskouer hê. Met die 22-250 kan enige jagter heeldag lank skiet sonder om die volgende oggend 'n seer skouer te hê.

    Geweerskop kan verlig, maar nie uitgeskakel word nie. Verskeie metodes kan aangewend word om terugskop te vertraag of te versag. Gewere kan byvoorbeeld met swaarder kolwe en lope toegerus word of die skok kan gebreek word deur 'n dikker kussing aan die agterkant van die kolf of in die jagter se skietbaadjie aan te bring.

    Dit is deesdae ook mode om 'n buis met titaankorrels (of kwik) in die kolf te laat inbou. Ál hierdie metodes help om die terugslag van die geweer vir die jagter meer aanvaarbaar te maak

    Die gevolgtrekking waartoe 'n mens met reg kan kom, is dat 'n boskaliber 'n geweer is wat maklik heel dag lank in die bos oor die skouer gedra kan word, wat nie onnodig hard skop nie, maar wat die betrokke dier met een skoot buite aksie kan stel. Só 'n geweer is een wat sal verseker dat daar ná die jagseisoen lekker biltong en geurige wildsvleis in die spens of vrieskas sal wees.

    Elkeen het sy redes
    Elke man soen sy vrou op sy eie manier. Só glo elke jagter ook aan die geweer waarmee hy spesifieke soorte bokke jag. Die syfers in die tabelle op bl. 37 gee die redes vir die volgende:

  • Meer en meer jagters verkies die 7 x 57 Mauser vir die jag van rooibokke.
  • Die 9,3 x 62 word weer gewild as eland- en selfs buffelkaliber.
  • Die besluit om wildbewaarders van die SAN-parke, wat dikwels met gevaarlike wildsoorte te kampe kry, met 458 Winchester Magnums en ammunisie met soliede punte van 32 gram (500 grein) toe te rus, berus op goeie redes.
  • Die asemrowende vermoë van die 500 Jeffery dwing as olifantgeweer baie agting onder gesoute jagters af.
  • Die 30-06 en die 375 H&H se veelsydighede in die klasse vir ligter en swaarder kalibers.

    Die ballistieke in die tabelle ondersteun verder die gesonde ballistiese beginsels waarop die ontwikkeling van die SABI-reeks bosveldkalibers berus. Hierdie kalibers skop nie besonder hard nie, hulle skiet nie bokke flenters nie, hulle is nie te swaar nie en die bekostigbare ammunisie, toegerus met konvensionele koeëlpunte, penetreer uitstekend.

    Daar is geen fout te vind met die nuwe neiging in Suid-Afrika om eerder swaarder, vetter, stadiger rondepuntkoeëls vir bosveldjag te gebruik nie. Daar is ook geen fout met die Suid-Afrikaans vervaardigde ammunisie wat vir die plaaslike jagomgewing ontwikkel is nie.

    17 Junie 2005