Landbou
Diversifisering laat wildboerdery slaag
ANDRIES GOUWS

Deur 'n groot verskeidenheid wild op alle moontlike maniere te benut, slaag dié egpaar daarin om 'n wildboerdery só te bedryf dat dit 'n volhoubare, winsgewende onderneming bly.

Diversifisering is die wagwoord op die wildplaas Ubique Game Ranch digby Marble Hall wat deur die egpaar Gunther en Renée Andreka bedryf word. Dit is dié benadering en hul betrokkenheid by organisasies in die wildbedryf wat aan hulle die erkenning as Wildboer van die Jaar, 'n toekenning van Wildbedryf SA, besorg het.

Hulle bestuur die wildplaas van sowat 5 000 hektaar die afgelope nege jaar vir twee sakemanne van Pretoria, mnre. Lucian van Coller en Frits Brune.

Gunther hanteer die praktiese sy van die boerdery en Renée kyk na die ekologie, hou die boeke, bestuur die jagkampe en hanteer die administrasie.

Daar word met gesogte en gewone wild geboer. Trofee- en biltongjag asook die handel in lewende wild word gebruik om die diere te oes en ekotoerisme word verder ingespan om die plaas en die diere verder te benut.

Dié benadering maak dit moontlik om die plaas voortdurend verder te ontwikkel terwyl dit as 'n selfstandige, winsgewende eenheid bedryf word.

Die sowat 5 000 hektaar is as 'n eenheid met 'n wildwerende heining omhein. Binne dié omheining is die suurste gedeelte van die weiveld (sowat 1 000 ha) ook met 'n wildwerende heining afgekamp sodat die wild wat daarin gevestig word, verplig word om dié weiding, wat voorheen grootliks onaangeraak gelê het, te benut.

Verder is daar vier teelkampe op die plaas wat met wildwerende heinings afgekamp is. Daarin word met gesogte wildsoorte, naamlik buffels, swartwitpense en tsessebes (basterhartbeeste) geteel.

Die oorskot-bulle van dié gesogte wildsoorte word egter weer op die plaas vrygelaat en as teelbulle vir ander wildboere aangebied of as trofeediere gejag. Buitelandse jagters betaal sowat R70 000 vir 'n buffelbul en R45 000 vir 'n swartwitpensbul.

Die teelkampe beslaan elk sowat 200 hektaar. Die kampe is só uitgelê dat dit gedeeltelik uit bosse en ou landerye bestaan wat weer met gras toegegroei is sodat die diere goeie skuiling én weiding het.

Dit hou die voordeel in dat hulle net in die wintermaande voer hoef te kry en dat hulle ook natuurlik onder toesig aangehou word.

Die wild wat in dié semi-intensiewe toestande aangehou word, het aanvanklik los op die plaas geloop, maar sowat sewe jaar gelede het die Andrekas besluit om die kampe te maak ten einde die waardevoller diere beter te kan bestuur.

Daar was aanvanklik 'n troppie van ses siektevrye buffels op die plaas, wat sedertdien tot 43 aangegroei het. Geen buffels is bygekoop nie, maar van die bulle is vir ander geruil om inteling te voorkom.

In die wintermaande kry die buffels 'n gebalanseerde meelrantsoen wat aangepas is om in hul behoeftes te voorsien.

Swartwitpense is aangekoop en hul getalle het gegroei tot 65. Hulle word in twee troppe in twee kampe aangehou. In al twee die kampe loop njalas saam met die swartwitpense om die blaarkos in die kamp beter te benut. Die swartwitpense en njalas in die teelkampe kry wildpille in die winter as 'n aanvulling tot die natuurlike weiding.

Tsessebes het ook op die plaas voorgekom. 'n Proefneming om hulle in 'n teelkamp aan te hou, was nie baie geslaag nie omdat hulle daar nie veel beter presteer as op die plaas nie. Die tsessebe-bulle is ook geneig om mekaar vrek te maak, wat tot ekonomiese verliese lei. Daar is nou 14 tsessebes in die teelkamp.

Bosluisbestryding word met trapplaatdippe by die suipings gedoen.

Dié drie gesogte diersoorte sorg vir sowat 60% van die inkomste van al die wild wat lewend bemark word. Elke jaar word een of twee teelgroepe buffels en swartwitpense uit die hand verkoop en pryse word onderhandel aan die hand van heersende veilingpryse en die vraag wat bestaan.

Aangesien die buffels stadiger volgroeid raak, is dit voordeliger om hulle as teeldiere te verkoop. Die eerste buffels uit die projek wat gejag kan word, word nou beskikbaar en twee of drie kan jaarliks gejag word. Sowat vier tot ses swartwitpense kan jaarliks gejag word.

Probleemdiere rig nie groot skade aan onder die gesogte wild nie. Rooikatte en jakkalse vang weliswaar van die njala-aankomelinge, maar die verliese word nou nog as aanvaarbaar beskou. Probleemdiere word bekamp waar moontlik.

Op die res van die plaas word geboer met 'n groot verskeidenheid gewone wild wat in die omgewing aangepas is. Die soorte sluit in sowat 450 rooibokke, 100 koedoes, 80 elande, 130 waterbokke, 70 rooihartbeeste, 40 gemsbokke, 250 blouwildebeeste, 28 kameelperde, 50 njalas, 70 sebras en 5 witrenosters.

'n Drakrag van een grootvee-eenheid op tien hektaar word as 'n maatstaf gebruik. Die wild word elke jaar in September uit 'n helikopter getel en met bykans tien jaar se syfers wat beskikbaar is, is die wildgetalle betreklik akkuraat.

Renée doen ook elke jaar 'n ekologiese evaluering van die beskikbare weiding, die reënval en alle faktore wat die drakrag kan beïnvloed. Dan besluit die Andrekas hoeveel wild aangehou kan word en hoeveel van elke soort verwyder moet word.

Hoewel die manier van benutting ook aangepas word volgens die vraag en heersende pryse vir wild, word gemiddeld 25% deur biltongjagters geoes en die res lewend gevang. Die trofeejag word afsonderlik hanteer.

Trofeejag is tans die belangrikste manier om die oorskotwild te benut. Betreklik min wild word só geoes, maar dit sorg vir 'n relatief groot inkomste. Gunther is 'n opgeleide professionele jagter en jagondernemer wat die buitelanders vergesel wat trofeë kom skiet.

Met die wildtelling en ook deur persoonlike waarneming deur die jaar maak hy 'n opname van die beskikbare trofeediere en probeer om nie meer as die helfte daarvan elke jaar te laat jag nie.

Die oogmerk is om selfvoorsienend te wees en self in ál die jagters se behoeftes te voorsien eerder as om hulle op ander plase ook te laat jag. Dit word in uitsonderlike gevalle gedoen as trofeejagters, wat op die plaas jag, 'n trofee wil hê wat nie daar be-skikbaar is nie.

Vier of vyf groot groepe biltongjagters skiet oor kort tydperke wild sodat die diere nie in die hele jagtyd versteur word nie. Deur die hoeveelheid jagdae in 'n jaar te beperk, is die doel om die wild nog mak genoeg te hou vir besigtiging deur ekotoeriste. Die jagters jag te voet en word deur 'n opgeleide gids vergesel.

Die twee gastekomplekse op die plaas het elk 'n vierstergradering by die Tourism Grading Council of South Africa verwerf. Jagters word meestal in die Ubique Safari-gastekompleks gehuisves en Sekelbos-gastekompleks word gebruik vir werksessies en konferensies. Laasgenoemde kompleks is gekoppel aan ekotoerisme deurdat die besoekers op wildbesigtigingsritte en staptogte geneem word. Twaalf en 16 mense kan onderskeidelik in die komplekse op 'n selfsorg-grondslag of met volle versorging oornag.

Vangspanne en helikopters word elke jaar gehuur om die gewone wild te vang en na kopers te vervoer. Hulle bemark en verkoop die meeste van die wild self. Die gesogte soorte word met die hulp van veeartse gevang en in die bomas op die plaas gehuisves tot kopers gevind word. Die bomas is spesiaal ontwerp vir die aanhou van buffels op lang termyn in een kompleks en alle ander boksoorte in die ander. Hulle beoog om in die toekoms meer van passiewe vangmetodes gebruik te maak.

Die wild op die plaas word ekstensief aangehou en net in droogtes gevoer. Dit is dan gewoonlik die blaarvreters wat eerste swaarkry omdat die blare in die gebied vinnig afval.

Die Andrekas se benadering is om vroegtydig te begin voer voordat die wild noemenswaardig kondisie verloor. Veral koedoes is baie kwesbaar in droogtetye en 'n mens kan groot verliese ly as daar te lank gedraai word voordat voer uitgesit word.

Dié verliese kan maklik heelwat groter wees as die koste daaraan verbonde om eerder 'n bietjie té vroeg met die voerdery te begin. Hulle gebruik lusern- en grashooi, maar die oogmerk is om die wildgetalle só te beheer dat die voerdery tot die minimum beperk word. Lekblokke vir wild word benut waar nodig en soutblokke word deur die jaar uitgesit.

Die onderneming bied werkgeleenthede aan elf permanente werkers en daar is ook deurgaans sowat ses geleentheidswerkers in diens. Die personeel is veelsydig. Hulle kan met ál die plaaswerk en jag help en ook by die konferensiesentrum instaan om daar take te verrig.

In die afgelope nege jaar wat die Andrekas die onderneming bestuur, is baie ontwikkelingswerk gedoen wat steeds voortgaan. Hulle het die vryheid om die onderneming binne riglyne volgens hul oortuiging te bestuur. Hul oogmerk is om ál die wild en die infrastruktuur op soveel maniere moontlik te benut ten einde die wildboerdery volhoubaar en bestendig te hou.

7 Julie 2006