Landbou

Die klein voorlaaier-seinkanonnetjie wat ook op skepe gebruik is om die vyand se takelwerk flenters te skiet, het die kranse laat antwoord gee.
Soortgelyk
Buskruit: Gister en vandag
Deur BEN FOURIE

Die oorsprong van die "vuur wat donder" het in die vergetelheid verdwyn. Geen navorsing kon nog regtig uitwys wie buskruit ontdek het nie. Die ontdekking daarvan word soms aan 'n Duitse monnik met die naam van Berthold die Swarte toegedig, maar niemand kon nog enige feite vind dat so 'n persoon bestaan het nie, wat nog te sê die ontdekker van buskruit was. Van die oudste resepte vir buskruit kom egter wel uit Duitsland omstreeks 1330 tot 1350 nC. Sommige navorsers beweer dat buskruit lank voordat dit aan die Weste bekend geword het, reeds in China bestaan het, selfs so vroeg as 1100 nC, maar dat die Chinese nie die werklike krag daarvan besef het nie en dit grootliks vir vuurwerk gebruik het.

Buskruit of swartkruit is saamgestel uit salpeter, swael en houtskool en 'n mens sou dit self kon maak, maar dit is 'n uiters gevaarlike onderneming en dit is in elk geval hoogs onwettig om jou eie buskruit te vervaardig, omdat dit deur die wet op plofstowwe beheer word. Buskruit verskil juis van die moderne rooklose kruit in der mate dat dit 'n plofstof is terwyl rooklose kruit nie werklik ontplof nie, maar die gasse wat die projektiel aandryf deur verbranding vrygestel word. Voordat dinamiet uitgevind is, is buskruit ook gebruik om dié rol te vervul.

Die heel eerste aanwending van buskruit was om projektiele soos pyle en ronde klippe uit primitiewe kanonne te skiet. Dit het ontwikkel tot 'n handkanonnetjie wat op sy beurt ontwikkel het tot die eerste lontgeweer waar die skut 'n brandende lont gebruik het om die kruit in die pan aan brand te steek. Die volgende groot stap in die ontwikkeling was die vuursteengeweer waarvan die snaphaan, soos wat deur die Voortrekkers gebruik is, een vorm was. Tussen 1815 en 1820 is die volgende belangrike deurbraak gemaak met die ontwikkeling van 'n slagdoppie wat aanleiding gegee het tot die ontwikkeling van die doppieslotgeweer. Bogenoemde was nog almal voorlaaiers, maar die slagdoppie het ook die uiteindelike ontwikkeling van die agterlaaier moontlik gemaak. In die 1850's word die eerste randslagpatroon met 'n koperdop ontwikkel en dit is die vader van die moderne patrone waarmee ons vandag skiet.

Vir baie skuts is die romantiek of nostalgie of wat jy dit ook al wil noem van die ou swartkruit wapens, 'n magnetiese aantrekkingskrag. Daarom kry jy oral in die land groepe mense wat met dié antieke wapens skiet. In Amerika is swartkruit-wapens 'n reuse-industrie en daar is spesiale vergunnings en seisoene vir jagters wat met hulle skiet. Hier in Suid Afrika is voorlaaiers tans ook volgens die nuwe wapenwet van 'n lisensie vrygestel. Dit mag beteken dat daar nog skuts tot die sport toetree. 'n Mens kan maar net hoop dat alle gewere wat met swartkruit werk, mettertyd vrygestel sal word.

'n Ruk gelede was dit vir my 'n groot vreugde om 'n dag by te woon waar daar net een reël gegeld het nl. jy mag net met swartkruit skiet. Dié "laer" is op 'n plaas naby Port Elizabeth gehou. Sommige manne en hulle vroue en kinders het reeds Vrydag van sover as Grahamstad gekom en op die plaas kamp opgeslaan vir 'n naweek se skiet en kuier en gesels. Die Setlaar bloed loop nog dik hier in Oos-Kaapland en 'n groot gros van die "boere" was Engelssprekend.

Om nege uur het die eerste "vuur wat donder" gebrand en boeta hét hy gedonder. Die klein voorlaaier seinkanonnetjie wat ook op skepe gebruik is om die vyand se takelwerk flenters te skiet, het die kranse laat antwoord gee. Ongelukkig net een skoot, want buskruit kos geld en die klein kalant verorber 'n aardige hoeveelheid om sy stem te kan dik maak. Met die eggo's wat nog teen die kranse weerklink, het die baanoffisier die eerste vyf man nader geroep. Ek was onder dié groep, want eers het diegene geskiet wat roers het wat patrone vuur. Op 100 treë het ons losgebrand. Ek het lanklaas met my ou Martini-Henry geskiet en al vergeet hoe sensitief sy sneller is. Die eerste skoot het geklap voordat ek nog op die teiken was en ek kon deur die rookwolk sien dat die koeël onder die teiken vasslaan. Die volgende twee skote was hoog op die teiken, maar toe het ek weer die gevoel vir die ou roer gekry en die laaste twee skote sou elkeen 'n bok huis toe bring. 'n Jongman wat as toeskouer gekom het, het met sulke verlangende oë na die pret staan en kyk dat ek aangebied het hy kan my laaste vyf patrone skiet. Wat 'n openbaring. Hy het uit die lê posisie al vyf die skote binne 'n groepering van vyf duim (125 mm) geplaas.

Hierna het die verskillende voorlaaiers en agterlaaiers met papierpatrone aan die beurt gekom. Een van die mooiste was 'n ou Westley Richards "Monkeytail" agterlaaier. Uiteindelik het die regte ou gladdeloop voorlaaiers uit die jare toet aangetree. Vir my is hulle die mees fassinerende van almal. Die laaiproses is net soos 'n mens dit uit die geskiedenisboeke oor die Voortrekkers lees. Eers 'n klomp kruit in die loop af en dan die ronde koeël wat in 'n vetlappie gesit word en dan met die laaistok in die loop afgedruk en vasgestamp is. Die enigste verskil met die ou Voortrekker-gewere is dat dit nie vuursteenslotte is nie, maar doppieslotte. Die slagdoppie is dan opgedruk, die haan voluit gespan en die berge het gedreun met die magtige stemme uit die verlede. Hierna het selfs die handwapens 'n beurt gekry.

Om met dié ou wapens te skiet is werklik 'n unieke ondervinding. Die meeste van die wapens wat die dag gebruik is, is oorspronklike wapens, maar daar is talle goeie replikas van baie van die ou wapens by geweerwinkels beskikbaar. As jy dalk 'n goeie oorspronklike geweer het, kan jy gerus maar met hom skiet, behalwe natuurlik as dit van baie groot historiese belang is of groot versamelaarswaarde het. Dan is dit veel beter om vir jou 'n replika aan te skaf. Enige van die ou vuurwapens moet eers deur 'n goeie geweersmid ondersoek word om te sien of dit veilig is om daarmee te skiet.

'n Skut trek los met sy roer!

Om met die ou swartkruit-roers te skiet, moet jy nie 'n te haastige en ongeduldige mens wees nie. Hoewel beide ronde en silindriese koeëls in die handel beskikbaar is, is dit die bevredigendste om 'n koeëlvorm aan te skaf en jou eie te giet. Daarna moet jy bereid wees om dikwels ure te spandeer om die geskikste lading vir jou roer uit te werk. As jy egter kans sien om dit te doen, is die akkuraatheid wat jy kan verkry dikwels verstommend.

Om kruit te bekom is ook so 'n bietjie meer omslagtig as om 'n blik rooklose kruit te gaan koop. Kry die adres van die inspekteur van plofstowwe in jou omgewing. Die SAPD sal vir jou hiermee help. Indien jy hiermee probleme het kan jy na die Hoofinspekteur van Ontplofbare Stowwe, Privaatsak X624, Pretoria, 0001 skryf. Die inspekteur benodig gewaarmerkte afskrifte van jou wapenlisensie en identiteitsboekie. Verder moet jy in jou aansoekbrief vra om geregistreer te word as swartkruit verbruiker. Meld ook jou fisiese adres, asook hoe jy die kruit gaan stoor, bv. in 'n kluis of toesluitbare staalkabinet. Verder moet ook gemeld word wie die verskaffer gaan wees, bv. City Guns, Kaapstad. Die inspekteur vir plofstof in jou omgewing behoort vir jou te kan sê watter geweerhandelaars wel swartkruit verskaf.

'n Paar laaste waarskuwings en wenke. Buskruit is hoogs ontvlambaar. Die ou matrose wat met die skeepskanonne geskiet het, het nie vir die grap kaalvoet op die seilskepe gewerk nie. Hulle was bang dat die skoenspykers letterlik 'n vonk in die kruitvat kon veroorsaak wanneer 'n spyker teen 'n ander ystervoorwerp skuur. Behandel dit met respek. Dit moet agter slot en grendel gehou word omdat dit 'n plofstof is. Wanneer jy daarmee herlaai, moet jy nooit 'n kruitvloeimeter gebruik nie, omdat selfs die wrywing wat veroorsaak word die kruit kan laat ontvlam. As jy dalk rook, moet jy asseblief al jou rookgereedskap in 'n ander vertrek los sodat jy nie ingedagte 'n vuurhoutjie trek nie. Selfs wanneer jy op die skietbaan is, is dit beter om liewers nie te rook nie. As jy belangstel om met die ou roers deurmekaar te raak, is dit goed om eers 'n skietdag by te woon waar hulle gebruik word. Dan kan jy sien hoe dit werk en by die mense wat weet uitvind waar om te begin. Om met die ou voorlaaiers te werk is meer gespesialiseerd, maar die baie agterlaaiers soos Martini-Henri's, Nommer 2 Muskets en .577 Sniders kan nog geredelik te koop gekry word en is werklik nie moeilik om te herlaai nie.

Om met die ou swartkruit-vuurmonde te werk, gee werklik 'n heel nuwe dimensie aan skiet. As jy dalk ook al so 'n bietjie moeg is vir die gewone roer, probeer gerus hierdie uitdaging. Dit is baie goedkoper as om met gewone ammunisie te skiet en dit is 'n lekker uitdaging om met oopvisier te skiet. As jy soos baie swartkruit skuts ook met die gewere wil jag, bied dit die verdere uitdaging om baie naby aan jou prooi te moet kom voordat jy skiet. Daar is selfs vir die voëljagter die geleentheid om hulle sport met die ou voorlaaiers haelgewere te beoefen en as jy een van die ou gladdeloop gewere het, kan jy hom selfs as 'n haelgeweer aanwend.

Moet jou nie laat afsit deur die stories van hoe moeilik dit is om die ou gewere skoon te maak nie. Dit vra wel 'n bietjie meer werk as die gewone geweer, want jy moet hom verkieslik dieselfde dag skoonmaak as wat die hom gebruik het, maar daar is baie nuwe skoonmaak middels op die mark wat spesiaal vir swartkruit bedoel is. Jy hoef selfs nie meer die loop met kookwater uit te was nie.

Net 'n laaste waarskuwing. As jy een keer met dié roers geskiet het, is jy gewoonlik 'n lewenslange verslaafde.

  • Ben Fourie is 'n geweer- en jagentoesias van Port Elizabeth. Kontak hom by tel. 041 364 1138 (w) of e-pos: fourie@biblesociety.co.za

    23 Augustus 2006