
Die skrywer pols 'n bekende taksidermis oor skietwenke om te verseker dat 'n wildsbok opgestop kan word ná die doodskoot.
Die sprinbokram het wyd gestaan, maar ná 'n halwe dag se gesoek op een van die uitgestrekte plase in die suide van die toe nog Suidwes-Afrika, het ek besluit om die kans te waag. My geweer was 'n .303 P14 wat na 'n 30-06 omgebou is. Die militêre kolf is behou en dit het maar gesukkel om gemaklik agter die ou 4X Weaver teleskoop in te kom. Saam met die 180 grein rondeneus PMP patrone waarmee ek 30 jaar gelede geskiet het, was dit nie die beste kombinasie vir 'n langafstand skoot nie. Die resultaat was voorspelbaar. Die skoot het te laag en te ver terug getref, maar die bok het tog geval.
Toe ons nader stap het hy egter opgestaan. My skoonpa het gesê ek moet hom deur die kop skiet, maar ek het gelukkig nie genoeg selfvertroue gehad om so 'n skoot te probeer nie. Toe die bok op sy pote kom, het ek hom agter die blad geskiet. Die horings van 43cm hang nou nog in my studeerkamer. 'n Kopskoot sou die beste trofee wat ek besit, waarskynlik totaal vernietig het.
Onlangs was dit my baie groot voorreg om 'n oggend saam met Roy Hayes van Tarkastad deur te bring om uit hierdie welbekende taksidermis se eie mond 'n aantal wenke te kry oor hoe om te verseker dat jy die dier wat geskiet is só hanteer dat die taksidermis jou trofee mooi kan opstop. Ek is self nie 'n trofeejagter nie, maar hou tog daarvan om ten minste 'n paar verteenwoordigende horings van elke spesie wat ek jag, te bewaar. Verder wil 'n mens soms die vel bewaar en laat bewerk om as mat of muurbehangsel te gebruik.
Wat hier volg is nie bedoel om 'n wetenskaplike verhandeling oor opstopkuns of die tegniek daarvan te wees nie, maar doodgewoon 'n klompie wenke van 'n kenner om ons as gewone jagters te help. Die dik velle van sommige grootwild vra blykbaar nog meer gespesialiseerde behandeling, maar weereens is die fokus van hierdie artikel gerig op die gewone jagter wat dalk selfs wanneer hy vir biltong jag, 'n mooi vel of paar horings wil hou of dalk is jy gelukkig om 'n groot rooikat te skiet wat 'n baie mooi volle montering sal maak.
Die eerste wenk is eintlik baie logies. Moet nie kopskote skiet nie. Die kans dat jy die horings kan raakskiet of dat 'n koeël wat teen 'n hoë snelheid tref kan bars en die kop omtrent heeltemal vernietig, is baie groot. Alhoewel 'n goeie taksidermis meer toorkunsies as Harry Potter ken om 'n flenters vel weer aanmekaar te las, is sy of haar taak net soveel makliker as alles nie tot niet geskiet is nie. Alhoewel die skedel deur 'n gietstuk vervang word, is dit goed indien die taksidermis dit kan hê om die mate te neem. Wanneer dit by die groot en gevaarlike wildsoorte kom, sal die reël sekerlik gewysig word volgens omstandighede.
Nadat die dier geskiet is, is daar dadelik 'n paar moets en moenies waarna opgelet moet word. Die belangrikste is om dit so gou moontlik af te slag, verkieslik binne 'n uur. Wanneer enige lewende wese doodgaan, begin verrotting dadelik plaasvind. Dit is hierdie verrotting wat veroorsaak dat die hare later uitval. Volgens Roy Hayes word die proses versnel deur hitte en adrenalien. 'n Gekweste bok moet selfs nog vinniger bewerk word omdat die ekstra adrenalien wat 'n kwesbok afskei, hierdie proses versnel. Verkieslik moet die dier na 'n skaduweeplek vervoer word en daar afgeslag word. Hierdie vervoer proses moet baie versigtig gedoen word. As die karkas gesleep word, kan die vel baie beskadig word. Indien dit op 'n voertuig gelaai word, moet ook gesorg word dat metaal uitsteeksels nie die vel skeur nie. Enige skade maak die taksidermis se werk baie moeiliker.
Wanneer dit by die afslag self kom, is dit lonend om nie haastig te wees nie. Elke plekkie waar die mes geglip het, maak die trofee 'n bietjie minder mooi. Die manier waarop die dier afgeslag word, hang af van wat jy met die vel wil doen. As jy bloot die vel wil gebruik as 'n vloerbedekking of as muurbehangsel, slag jy dit soos wat ons maar gewoond is, beginnende by die pens. Alhoewel elkeen seker sy beproefde metode het, beveel Roy aan dat jy nie eers die pens uithaal nie, want jy slag makliker en netjieser met die pens in. Dit kan jy natuurlik net doen as jy gou begin afslag, anders moet jy maar soos gebruiklik liewer die pens uithaal.
Die volgende is eintlik 'n baie gespesialiseerde taak wat verkieslik deur 'n geoefende hand gedoen moet word, maar soms is 'n mens in die veld en daar is niemand anders wat dit kan doen nie. Dan kan 'n mens die volgende wenke nuttig wees. Vir 'n volle montering slag jy ook soos hierbo, maar met die verskil dat die vel anders gekloof word. Gewoonlik kloof 'n mens die vel van die bene in die middel langs sodat wanneer die vel oopgesprei word soos vir 'n mat, dit mooi glad lê. Vir 'n volle montering word die vel aan die agterkant van die bene gekloof sodat wanneer dit weer vasgewerk word, die sny en garing nie sigbaar is nie. Uiters belangrik is ook om nie die vel tot by die kop te kloof nie, maar met die snit wat oor die pens en bors gaan, te stop wanneer jy die kuiltjie bereik. Hierna maak jy 'n snit aan die agterkant van die kop en slag dié deel af soos wat vir 'n skouer montering benodig word.
Vir 'n skouer montering begin jy 'n entjie agter die blaaie en maak 'n snit tot agter die kop. Vir gehoringde wild maak jy hierna snitte in 'n Y vorm tot by die basis van die horings en dan al om die horings. Die kop self is blykbaar maar moeilik om reg af te slag en hier moet die uiterste versigtigheid aan die dag gelê word. Jy begin om die oë te sny, dan af na die lippe toe en uiteindelik word die neus met kraakbeen en al losgesny. Vir die ore moet jy maar so goed moontlik jou vinger of 'n lepel se agterkant gebruik om die vel en die kraakbeen van mekaar los te maak. Met kleiner wildsoorte kan jy natuurlik die hele kop en vel net so in die vrieskas sit en later na die taksidermis neem om die afslagwerk te doen. Die vel word verder vanaf die punt waar jy die snit agter die blaaie begin het reg rondom die borskas gekloof , aan die agterkant van die voorbene en dan kort bo die knieë in die rondte afgeslag.
Met die vel van die karkas af, begin die volgende belangrike proses. Verwyder alle oortollige vleis en vet aan die binnekant van die vel. Dit kan ook verrotting by die wortels van die hare veroorsaak wat weer beteken die hare val een of ander tyd uit. Die vel moet hierna baie goed met skoon koue water gewas word totdat alle bloed en vuiligheid verwyder is. Hang dit nou in die lengte oor 'n houtpaal sodat dit kan droogdrup. 'n Metaal paal of draad is nie geskik nie omdat dit chemies met die vel reageer en dit kan bederf.
Hierna word dit haarkant na onder op 'n vloer oopgesprei. In die veld is dit natuurlik nie moontlik nie, maar by die plaashuis kan dit op 'n sementvloer oopgesprei word en gesout word. Die proses is uiters belangrik, want die sout trek vog uit die vel uit en verhoed dat die hare later uitval. Daarom is dit goed om na drie dae die sout wat nou nat is van die vog wat dit onttrek het, weg te gooi en die vel weer met nuwe sout te bestrooi. Hang weer die soutvel oor die hout dwarspaal met die hare aan die bokant totdat dit winddroog is en rol dan op met die hare aan die binnekant. Dit is beter om dit op te rol as om dit te vou, maar as dit vanweë vervoerbeperkings gevou moet word, moet die voue so min moontlik wees.

Byskrif: Helpers doen afronding in mnr. Hayes se werkswinkel.
Hierna bly nog net die skoonmaak van die skedel oor. Roy beveel aan dat die vleis afgekook word, maar dat 'n handjievol sodium perboraat wat by enige apteek te kry is by die water gevoeg word. Dit maak dat die vleis gouer sag kook en van die bene afgehaal kan word. Hierdie proses verhoed dat die skedel te lank gekook word, wat skynbaar ook nadelig is. Die horings moet nie in die kookwater kom nie. Indien jy net 'n skedelmontering wil maak, kan die skedel nou in water met 'n bietjie bleikmiddel (JIK) gesit word, maar wees versigtig dat die horings nie daarin kom nie, want die bleikmiddel sal hulle lelik wit maak. As die buite deel van die horing van die kern afgehaal kan word, des te beter.
'n Laaste wenk van Roy is om die velle, horings en wat nog so goed moontlik te verpak vir versending na die taksidermis of plek waar jy die vel wil laat brei. Plastieksakke of stukke plastiek is blykbaar nie baie goeie pakmateriaal vir velle en horings nie omdat dit in die plastiek kan begin sweet en vrot word. Gebruik liewers seil of ander natuurlike materiaal. 'n Houtkrat wat alles goed beskerm, is natuurlik ideaal, maar nie altyd prakties nie.
Jy kan letterlik alles laat opstop . Voëls, visse, ongedierte of wat ook al. Klein diere kan nadat die binnegoed uitgehaal is net so in 'n vrieskas gesit word om dan in 'n yssak of soortgelyke houer na die taksidermis vervoer te word.
Wanneer die trofee teen die muur hang of die mooi gebreide vel op die vloer lê, is dit baie belangrik om dit goed te versorg. Roy beveel aan dat 'n mens dit gereeld moet stofsuig om huismyte en die eiers wat deur motte gelê word te verwyder sodat hulle nie later die vel beskadig nie.
Doen 'n bietjie ekstra moeite met die afslag en bewerking van die vel en horings en die beloning sal groot wees in die vorm van 'n baie mooi trofee.