
In die sestigerjare op Prieska waar ek grootgeword het, het mnr. Org van Wyk met 'n stewige plankie wat baie seer kon slaan die wet en orde in die houtwerkklas van ons ou skool gehandhaaf. Hy was absoluut perfeksionisties wanneer dit by houtwerk kom. Omdat die tappe en voeë van my modelletjies meestal met lym en selfs 'n versteekte spykertjie aanmekaar gehou moes word, het ek ná ses maande besluit om liewers 'n ander vak te neem. By mnr. Van Wyk het ek egter twee uiters belangrike lesse geleer. Eerstens het hy my geleer om altyd die regte gereedskap vir 'n spesifieke taak te kies, en tweedens dat 'n mens nooit met stomp gereedskap werk nie.
Dié lesse het nie maklik gekom nie, maar bogenoemde plankie het sy glad nie beskeie deel bygedra en ek probeer steeds die twee baie belangrike beginsels handhaaf. Dit was altyd 'n plesier om te kyk hoe hy 'n houtbeitel vlymskerp slyp of 'n saag se tande set en skerpmaak. Toe ek in die sewentigerjare vir die eerste keer ernstig begin jag het, het skoonpa Willie de Klerk van Bethanie in Namibië my 'n ander belangrike les geleer. Ek het altyd by hom die indruk gekry dat hy die dier bly respekteer het, selfs nadat hy doodgeskiet is en daarom het hy altyd die karkas en die vleis baie netjies bewerk. Die biltonge wat hy gemaak het was nie net lekker nie, maar ook netjies en aantreklik. Elke los stukkie is afgesny en elke seninkie verwyder. Ek maak ná al die jare nog steeds my biltong op sy manier. Om saam met hom vleis te werk was altyd 'n plesier omdat sy messe vlymskerp was. 'n Mes wat net effens stomp is, word gou op die blou klip, wat altyd byderhand gelê het, gefloerts-flarts en dan kon jy die hare op jou arm daarmee skeer.
Om 'n mes skerp te kry beteken eenvoudig om die lem weerskante teen 'n sekere hoek te slyp. Die groot geheim is om hierdie hoek met elke beweging oor die slypmedium presies dieselfde te hou. Die kuns om 'n mes op die ou boeremanier soos skoonpa te slyp, kon ek nooit bemeester nie. My pogings het telkens op 'n stomper mes as waarmee ek begin het afgeloop. Hierdie metode beteken dat die mes teen 'n baie plat hoek gehou word wat meebring dat die lem nie net op die snykant nie, maar prakties oor sy hele oppervlakte aan die slypproses onderwerp word en dus al die skrape en skuurplekke wys. Om 'n duur handgemaakte mes só te slyp, sal duidelik nie deug nie. 'n Mes waarvan die lem sogenaamd holgeslyp is, kan nog minder op dié metode geslyp word.

Byskrif: Só lyk mes wat reg geslyp is.
In my soeke na 'n metode om my messe skerp te kry, het ek alles uitgetoets, en uiteindelik nie een nie, maar drie maniere gevind wat aan my behoeftes voldoen.
Jare gelede het ek 'n Lansky-stelletjie gekoop. Daar is verskillende soortgelyke slypstelle op die mark, maar die beginsel waarop hulle werk is presies dieselfde. Dit bestaan basies uit olie-steentjies van verskillende grofheid wat in 'n houer vasgesit is. Die steentjies is beskikbaar vanaf grof vir die gewone werksmes tot baie fyn om die finale skerpte aan 'n goeie lem te gee. Aan hierdie houer word 'n metaalgids vasgeskroef. Die sentrale deel waarin die mes vasgeknyp word bestaan uit twee dele wat met 'n skroef en verstelskroef aanmekaar vasgehou word. Die mes word gewoon in die "bek" wat gevorm word vasgeknyp. In die agterkant van die apparaatjie is vier gaatjies waarin die metaalgidse gly. Elkeen van die gaatjies verteenwoordig 'n bepaalde hoek waarteen die slypsteentjie dan teen die lem verbybeweeg. Die hoek waarteen 'n bepaalde mes geslyp word, word bepaal deur die doel waarvoor dit gebruik word. So is 'n 20° hoek geskik vir hoë kwaliteit messe terwyl 25° veral geskik is vir jagmesse.
Ek gebruik deesdae die Lansky net vir die skerpmaak van my knipmesse en daarvoor werk hy baie goed. Vanaf my holgeslypte Puma tot by die gewone klein Victorinox wat ek daagliks hier in die stad in my sak dra, slyp hy vlymskerp.
Die tweede metode het ek altyd vir my drie topgehalte "groot" messe gebruik. Die sin is nie verniet in die verlede tyd nie, want ons misdadige land het my ook ingehaal. Tydens 'n onlangse inbraak is al drie gesteel. Die Buck was dié mes wat 'n sny die langste gehou het van alle messe waarmee ek ooit gewerk het. Die ander was 'n handgemaakte mes met gemsbokhoring hef wat 'n mesmaker spesiaal vir my gemaak het volgens 'n patroon van Piet Grey se Kisu. Die laaste een was 'n Trophy Line Eye Witness wat ek in die sewentigerjare by De Wet se sportwinkel in die Kaap gekoop het en waarvoor ek maande lank uit my karige studente-inkomste gespaar het.

Byskrif: Verskillende apparate om 'n mes mee te slyp.
Hierdie drie het ek altyd op 'n egte oliesteen geslyp. Dit is nie so 'n groot kuns om te bemeester nie. Die groot geheim is om die mes só te hou dat die hoek altyd dieselfde bly en dan moet jy nooit heen en weer slyp nie, maar altyd die mes weg van jou af oor die steen stoot. Genoeg van die spesiale dun olie hou die "porieë" van die steen oop. Ek was gereeld my oliesteen (ook die van die Lansky) in paraffien om die fyn slypstof en metaaldeeltjies af te was, anders slyp hy later nie meer goed nie. Jy kan natuurlik ook die groot messe op die Lansky slyp, maar ek het gevind dat die redelik dik lemme nie altyd so lekker styf in die Lansky se bek pas nie.
Die laaste metode hou ek vir die goedkoper messe waarmee ek slag en die vleis bewerk. Hiervoor gebruik ek 'n apparaatjie wat met twee karbied-lemmetjies werk en wat jy in een rigting oor die lem trek. Hulle word deur verskillende maatskappye gemaak. As jy 'n halwe bees moet bewerk en daar lê nog 'n paar wildsbokke ook en wag, kan jy nie elke keer na die Lansky of oliesteen toe hardloop nie. Dr. Lucas Potgieter noem hierdie apparaatjie 'n mesmoordenaar en hy is dit inderdaad op enige goeie mes. Op die gewone goedkoper mes waarmee 'n mens maar gewoonlik vleis werk, is hy egter onverbeterlik. Gou-gou het jy weer 'n skerp mes en kan die werk voortgaan. 'n Nog beter opsie is die sogenaamde Knife Buddy. Dit is 'n miniatuur-bandslyper wat korte mette met enige stomp mes maak. Vir my hoeveelheid gebruik is hy te duur, maar vir iemand soos my swaer Koot waar daar in jagtyd soms agt gemsbokke op 'n slag bewerk word, is dit nét die ding om te sorg dat elke slagter altyd 'n skerp mes byderhand het.
Bogenoemde is maar enkele van die talle apparate op die mark om jou te help om jou mes vlymskerp te hou. Kies die wat by jou behoeftes pas en jy sal nie allerhande "groot" woorde gebruik omdat jy met 'n stomp mes moet werk nie.
6 November 2006