Landbou

'n Museum-pop met een van die lontslotgewere. Die algemene naam was muskette, maar soms word hulle ook roers of haakbusse genoem.
Soortgelyk
Wapens van die Ou Kaap
Deur BEN FOURIE

Aprilis anno 1652. 6en do. "Gaven desen avont noch ordre aen onsen schipper, davith Coninck, omme morgen heel vroeg met een vande schaloepen, nevens 6 g'armeerde soldaten, behalven de roijers voor aff nae lant te varen." Toe daardie ses gewapende soldate saam met skipper Coninck vanaf die sloep of bootjie op 7 April 1652 voet aan wal sit, het die vuurwapen finaal in die verre Suidland aangekom en sou hier in die Cabo de Boä Esperance soos Jan van Riebeeck die Kaap op 5 April 1652 in sy Dagregister noem, 'n reuse invloed uitoefen op die verloop van die geskiedenis.

Die gewere wat die soldate op hierdie geskiedkundige dag gedra het, was lontslotgewere. Die algemene naam was muskette, maar soms word hulle ook roers of haakbusse genoem, laasgenoemde vanweë die haak aan die voorlaai. Hierdie haak is gebruik om wanneer oor 'n borswering geskiet is, die geweer vas te haak sodat 'n bietjie van die kwaai skop getem kon word. Die skuts is daarom ook haakbusskieters of kortweg bosskieters genoem.

Tydens hulle eerste ontmoeting met die plaaslike inwoners op 10 April noem Van Riebeeck die teenwoordigheid van "Schipper Davit Coninck, nevens 2 adsistente ende 2 soldaten, met vogelroers ende musquets". Die vogelroers was vroeë haelgewere wat veral gebruik is om voëls en kleinwild te skiet.

Die lontslot geweer is in die 16de eeu ontwikkel en was die eerste vuurwapen wat werklik met gemak deur 'n soldaat gedra en afgevuur kon word. Die gewere was lomp en swaar en moes vanaf 'n rusvurk afgevuur word. Hulle was 1,57 meter lank (vergelyk dit met 'n gewone moderne jaggeweer wat omtrent 1,1 meter lank is) en het ongeveer 6,5kg geweeg teenoor 'n moderne geweer se 4kg met teleskoop en al.

Alhoewel die gewere 300 meter ver kon skiet, was dit meestal van akademiese belang omdat die akkuraatheid op hierdie afstand baie swak was en dit eintlik net in 'n oorlogsituasie waar regimente teenoor mekaar gestaan en skiet het, van waarde was. Die gewere was redelik ongeskik vir die toestande aan die Kaap, want soos die Khoikoi spoedig ontdek het, was hulle nutteloos in die reën waarvoor die Kaap so goed bekend is.

So word daar vroeg in die volgende eeu (1707) dan ook aan die Here XVII geskryf dat hulle aan die Kaap baie dankbaar is dat die muskette deur vuursteen gewere vervang word, want die sterk Suidooster wat vir 'n groot deel van die jaar waai, maak die muskette dikwels onbruikbaar deurdat die kruit uit die pan gewaai word. Dat hulle op 'n heel ander manier wel ook van nut was hoor ons wanneer Van Riebeeck skryf dat die flikkerende lonte van die gewere waarmee die wagte snags die fort gepatrolleer het, wel soms die leeus afgeskrik het.

Omdat dit die mees algemene gewere was, is hulle dikwels natuurlik ook aangewend om mee te jag en moes ongediertes soos leeus en luiperds ook met hulle aangedurf word. Die lontslotgewere was redelik goedkoop om te vervaardig en is daarom tot selfs in die 18de eeu nog op sommige plekke as militêre geweer gebruik.

Gelukkig was dit nie die enigste gewere nie. Reeds in ongeveer 1550 is daar in Nederland die sogenaamde snaphaan of vuursteenslot ontwikkel. By hierdie onstekingsmetode word 'n skerpgemaakte vuursteen in die bek van die sogenaamde haan vasgeknyp en wanneer die sneller getrek word slaan die vuursteen op 'n slagstaal wat 'n rits vonke veroorsaak wat die kruit in die pan aan die brand steek en sodoende die hooflading in die loop laat ontplof. Die woord snaphaan kom van die beweging van die haan se "pikbeweging" wanneer die sneller getrek word.

Die amptelike "wilt schut" het 'n "snaphaen" of vuursteenslot geweer gebruik en op 3 November 1654 "op versoeck vande hottentoos een leeuw dootgeschoten , wel soo groot als een redelijke koebeest". Óf die beeste was kleinerig, óf die leeu baie groot!!! Dit het die wildskut geluk om die yslike leeu met een skoot van sy snaphaan neer te vel tot groot verwondering van die Khoikoi dat so 'n groot dier met een skoot so gou neergevel kon word.

In Junie van die volgende jaar kom Van Riebeeck in die Kompanjiestuin op 'n leeu af. Die sersant en 'n paar soldate met snaphane sit hom agterna. Die sersant skiet hom op agt tot tien treë mis (dalk bokkoors), maar die wildskut skiet raak "met 3 kogels recht in sijn hooft, dat hij datelijck doot te neder viel. Prof. Felix Lategan bespiegel dat die wildskut se geweer dalk met drie lopers gelaai was.

Dan vermeld Van Riebeeck ook weer 'n geval waar 'n mens wil glo dat baie van die skote wat dié dag op 'n renoster geskiet is, dalk met die ou muskette gevuur is. Op 6 Januarie 1655 stuur hy 6 manne uit om sout te raap en aanstons kom een van hulle terug om te sê dat hy 'n renoster gekwes het en dat dié nou so diep in die modder van die soutpanne gesink het dat hy nie kan uitkom nie. Alhoewel dit omtrent vyf myl van die Fort af is, gaan Van Riebeeck, soos hy self sê, uit nuuskierigheid saam en vind die renoster nog lewendig. Dan volg 'n toneel wat 'n mens skaars kan glo. Hulle skiet meer as 'n honderd skote op die dier sonder om hom te dood, want "stuijtende vele kogels op't lijff weder aff". Die koeëls kon duidelik nie deur die renoster se vel dring nie en het teruggebons. Op die ou end moes hulle byle bring en 'n stuk uit die arme dier se sy kap sodat hulle hom deur die gat in sy ribbes 'n doodskoot in die ingewande kon gee.

Naas die vuurwapens was ander wapens natuurlik ook nog in gebruik en die inhoud van die arsenaal aan die Kaap maak baie interessante leesstof uit. In 1662 word daar in die fort 'n wapenkamer opgerig waar roers, snaphane, karabyne en 103 paar pistole met hulle "hulsters" gebêre sou word. In 1676 word 'n inventaris opgestel. Daar word genoem van verskillende swaarde, dolke en lanse, maar die vuurwapens is verreweg in die meerderheid waaronder die reeds genoemde snaphane, en ook nog 411 van die ou roers of muskette. Daar word ook gepraat van "sygewere" en dan beteken dit nie soos ek eers gedink het pistole nie. Die woord "geweer" is afgelei van die idee dat jy 'n wapen gebruik om jou teen 'n vyand te verweer. 'n "Sygeweer" was dan gewoonlik een of ander swaard, sabel of rapier, dws 'n wapen wat jy aan jou sy dra en waarmee jy jou kan verweer. Vuurwapens, pistole en lang wapens is "skietgewere" genoem. Soos wat die ander wapens uitfaseer is, het die woord later eksklusief na 'n vuurwapen en dan in die besonder na 'n lang geweer verwys.

Tydens togte na die binneland is die geselskap goed bewapen en so sien 'n mens dat met Jonas de la Querre se tog in 1663 is 80 pond buskruit, 80 pond lood, 90 pond hael, ses bosse lont, tweehonderd vuurstene, 17 snaphane, sewentien pistole en twee donderbusse (wyebek roers) saamgeneem. Die lont was waarskynlik vir laasgenoemde.

Dat vuurwapens nie net vir jag en verdediging gebruik is nie blyk uit die jaarlikse papegaaiskiet kompetisie wat met Simon van der Stel se verjaardag op Stellenbosch gehou is en baie prestige en 'n goeie beloning aan die wenner daarvan besorg het. In 1735 moes daar vanweë die brandgevaar daaraan verbonde ook 'n verbod geplaas word op "het misbruijk van schietten des nagts, en wel voornamelijk op Nieuwenjaarsnagte, in of uit de huijsen en op de straaten deeser plaats in die Vlek" (Kaap). Die gebruik om met Oujaarsnag vuurwapens af te vuur het ek selfs nog in my kinderdae op Boegoeberg beleef.

S het die vuurwapen gesorg dat die eerste nedersetter hulle kon verdedig teen ondier en vyand en ook hulle soms karige voorrade deur jag kon aanvul.

  • My bronne wat vermeld moet word sodat ek nie van plagiaat beskuldig kan word nie, is Jan van Riebeeck se Dagregister, prof. Felix Lategan se Boer en sy Roer en Karl Schoeman se Armosyn van die Kaap.

  • Ben Fourie is 'n geweer- en jagentoesias van Port Elizabeth. Kontak hom by tel. 041 364 1138 (w) of e-pos: fourie@biblesociety.co.za

    9 Januarie 2007