Landbou
Jag en wild in die vroeë Kaap
Deur BEN FOURIE

Jag en wild in die vroeë dae aan die Kaap. Toe die eerste nedersetters in 1652 voet aan wal in die Kaap gesit het, was daar 'n oorvloed van wild soos ons selfs in ons wildste verbeelding nie vir ons 'n prentjie van kan vorm nie. Tog skryf Mentzel minder as 'n honderd jaar later, gedurende die dertigerjare van die volgende eeu, dat daar omtrent geen wild binne 200 kilometer van Kaapstad te vinde is nie en dat die professionele jagters baie tyd moet spandeer om genoeg wild vir die goewerneur se gebruik te vind.

Reeds lank voor Van Riebeeck se koms word daar gewag gemaak van die oorvloed van haar- en voëlwild in Tafelbaai en omgewing. Só skryf Sir Edward Michelbourne reeds in 1605. "It doth abound with store of wild Beast and Fowles, as wild Deere in great abundance, Antelopes, Babious, Foxes and hare, Ostriches, cranes, Pelicans, Herons, Geese, Duckes, Phesants, Partridges, and diverse others . . of which Fowles wee killed great store with our Pieces." (Oorspronklike spelling behou.) Hierdie "Pieces" was waarskynlik spesiale langloop "haelgewere" of soos Van Riebeeck dit jare later sou noem "vogelroers." Leendert Janssens en N. Proot van die Haerlem wat in Tafelbaai gestrand het, het ook as een van hulle argumente vir die stigting van 'n Kolonie die oorvloed van vis, elande, steenbokke en alle soorte voëls gebruik.

Hoe belangrik die jag was sien ons in die feit dat reeds enkele dae ná die landing gaan skipper De Coninck, en nog vier ander op 10 April 1652 met vogelroers en muskette (lontslotgewere) langs die Soutrivier voëls jag. Tog was Van Riebeeck se mense nie aan die begin so gelukkig soos sir Michelbourne en sy geselskap wat 'n groot klomp voëls geskiet het nie.

Op 18 September 1652 is Van Riebeeck en die timmerman agter Tafeberg in om te gaan kyk watter soort hout alles beskikbaar is, en dan skryf hy ook oor die wild: "Herten, hinden, reetjens, elanden, hasen ende ander wilt vernemen nu ende alle daghen in groote mennighte, maer is soo schuw dat met honden noch roers ongenakelijck sijn; insgelijcks gansen, eenden, patrijsen, snippen ende veelderleij ander groot ende cleijn gevogelte hier seer overvloedigh sijn, maer door hunne wiltheijt mede niet te becomen." Die nedersetters was duidelik nog nie gesoute jagters nie en die ou lontslotgewere waarmee sommige gejag het was natuurlik nie baie geskik vir die taak nie.

Van die begin af was jag 'n noodsaaklike deel van die lewe aan die Kaap. Jag suiwer vir die sport daarvan het nie dikwels plaasgevind nie, maar is tog soms gedoen soos blyk uit 1663 toe Kommissaris van Hoorn wat die Kaap aangedoen het op 'n jag anderkant die Soutrivier getrakteer is. Hy noem dit 'n voortreflike jag van "harten, hinden, vogelstruysen, steenbocken, corhoenders, oock hasen." Die jag het egter grotendeels gegaan oor oorlewing. Eerstens was dit om die mense en vee teen ongediertes te beskerm en tweedens om die soms uiters karige voorrade aan te vul.

Hoe die mense deur die ongediertes geteister is lees 'n mens op gereelde basis in die Dagregister self asook in joernale van besoekers aan die Kaap. In 1664 lees ons van hoe die veewagters 'n "ijsselijcke wolff" in die Tafelvallei geskiet het en 'n paar maande later word vermeld hoe vryburger J. C. Visser ook 'n "wolff"geskiet het en toe hy en sy skoonseun Willem Willemse kort hierna op pad was na die Tygerberg om 'n renoster wat hulle die vorige dag geskiet het te gaan haal, is hulle deur "5 affgrijselijcke leewen" omsingel en bespring.

Selfs so laat as 1671 was Kommandeur Hackius glad nie geesdriftig vir 'n plan om bome agter die kompaniestuin aan te plant nie "overmits men hier bij regentijden den aenloop van die leeuw ende tiger, als andere wilde gedierte, dagelijcks subject is."

Op 21 November 1671 kom een van die vryburgers se vrouens om te kla dat 'n leeu een van haar beste melkkoeie gevang het. Algaande is die ongediertes egter uitgeskiet of het na die binneland uitgewyk. Tog het Adam Tas en sy vrou in 1705 nog op hulle plaas in Stellenbosch op 'n vars "leeuw of tijgerspoor" afgekom toe hulle rondom die koringland gaan stap het, maar in 1712 was die verskyning van 'n verdwaalde leeu op die plaas van Isaq Schriver as iets besonders aangeteken.

Tog kon die vryswarte Jan van Ceylon in die tyd nog geld verdien met die skiet van leeus en luiperds in die klowe en het hy in 1712 nog 24 gulden verdien vir die eerste leeu van die jaar. Daar was meer persone as Jan van Ceylon wat geld verdien het met die uitroei van ongedierte. In 1670 lees ons byvoorbeeld dat die beloning vir die uitroei van veral leeus op die vlakte tussen Tafelberg en Tygerberg verhoog is. Hierdie persone was waarskynlik saam met diegene wat wild geskiet het om die vleis en velle te verkoop, die eerste professionele jagters in Suid-Afrika.

Dat wildsvleis van die begin af gebruik is om die soms baie karige voorrade aan te vul sien 'n mens op baie plekke. Die heel eerste stuk wild wat waarskynlik vir die doel geskiet is, was 'n seekoei en dit reeds op 24 April 1652, minder as drie weke ná hulle die eerste keer aan wal gegaan het.

Van Riebeeck se beskrywing is so interessant dat ek dit graag volledig aanhaal: "Desen verleden nacht had 'tvolck aen lant een groote zeekoe gevangen, wel soo swaer als 2 gemene vette ossen, hebben een seer affgrijsselijck, monstreus hooft ende verscheide scherpe, uitsteeckende tanden, waer van de langhste 5/8 el langh waren, met een corte hals ende laenghe beenen, de voeten bij nae van fatsoen als renoceros voeten, edoch gekliefft in vier partijen:; was seer fel ende wreedt, ende hadden te doen om te bedwinghen, onaengesien met eenighe cogels achter de ooren door't hooft getrefft was, wesende de huijt wel 1 duijm dick ende soo hard dat op sommige plaetsen geen musquets cogel door coste geschoten worden; des hem recht voor in't hooft lieten doot schieten, ende 'tvolck eeten, alsoo van goeden smaecke was." Die ou lontslot muskette het maar gesukkel om die seekoei dood te kry, maar die vleis was darem na hulle smaak.

In 1665 kry ons die eerste aanduiding dat daar kommersieel gejag is wanneer ons lees dat die Politieke Raad nie net bees, skaap en varkvleis se pryse bepaal het nie, maar ook die van hartbeeste, elande, wildevarke, renosters en seekoeie. Van heel vroeg af was daar dan ook beroepsjagters wat uit vleis, velle en horings 'n bestaan probeer maak het. Van die 52 vryburgers wat daar in 1658 aan die Kaap was, was 16 boere, 11 bywoners, 14 knegte, 2 kleremakers, 2 jagters en nog 'n paar ander beroepe.

Ons era sluit min of meer af met Jan Harmensz van Stellenbosch wat in 1700 toestemming van Goewerneur WA van der Stel gekry het om in die omgewing van die huidige Riebeek-Kasteel " te mogen schieten een vragt elands, hartebeesten of renostersvleesch". Jag in Suid-Afrika het gekom om te bly, vir kos, beskerming of sport. Soos dit eeue gelede 'n deel gevorm het van die daaglikse lewe, is dit nog vir baie van ons deur wie se are die ou pioniers se bloed bruis, 'n wonderlike ervaring om met 'n roer in die hand op die wild se spore te gaan.

Bronne: Van Riebeeck se Dagregister
Karel Schoeman: Armosyn van die Kaap
Prof. Felix Lategan: Die Boer en sy Roer.

  • Ben Fourie is 'n geweer- en jagentoesias van Port Elizabeth. Kontak hom by tel. 041 364 1138 (w) of e-pos: fourie@biblesociety.co.za

    2 Maart 2007