
Ek sit onlangs hier by die werk en gesels met 'n boer by wie ek in die verlede baie dikwels kwartels geskiet het. Natuurlik beweeg die gesprek mettertyd na jag en gewere en sommer so bied hy aan dat ek die winter vir my 'n bosbok kan kom skiet, een van die boksoorte wat ek al verskeie kere gejag het, maar nog nooit geskiet het nie.
Verder is die beplanning om 'n paar springbokke in Aberdeen te gaan skiet en 'n ribbok of twee in Middelburg. Die bosbok is gratis en die ander wild sal ook nie te duur wees nie. Reëlings is maklik om te tref, 'n jaglisensie sommer spotgoedkoop by die naaste geweerwinkel te koop en dan is dit net weer seker maak die gewere is op skoot en daar gaan ek.
Toe ek so daaroor sit en nadink, het die ou Hallelujalied by my opgekom: "Tel jou seëninge, tel hul een vir een . . " Die seëninge waarvan die lied praat is sekerlik ander soort seëninge as dié waaraan ek dink, maar dan wil ek graag my jag-seëninge tel veral nadat my internetvriend in Nederland, Theo de Wit, vir my 'n paar dinge oor jag aldaar vertel het.
Ek het Theo per e-pos ontmoet nadat hy van die artikels op www.landbou.com gelees het en met my begin korrespondeer het. Wat 'n openbaring om te sien hoe dit daar gedoen word en hoe gelukkig ons eintlik hier in Suid-Afrika is wanneer dit by jag en selfs gewere kom, ten spyte van die nuwe drakoniese wapenwet. Wat vir my verder baie lekker is, is dat ek in Afrikaans skryf en Theo Nederlands, en ons verstaan mekaar baie goed.
Nederland is 'n baie klein landjie van net 41 500 vierkante kilometer. Hiervan is net 100 000 ha bebos en die ander is natuurlik stad- en dorpsgebied, nywerhede en boerderybedrywighede. Van hierdie beboste deel is 9 700 hektaar die sogenaamde "Koninklijke Houtvesting Het Loo" 'n stuk grond vir gebruik van die koninklike familie.
Die Nasionale Park met die naam "de Hoge Veluve" beslaan 5 500 hektaar. Albei hierdie parke is deeglik omhein en is die blyplek van grootwild wat uit edelherte, damherte ("fallow deer" - ook na Suid-Afrika ingevoer en redelik volop in die Bedford, Adelaide en Cradock-distrikte) asook wilde varke. Geen gewone Nederlander mag in hierdie parke jag nie. Dis slegs vir beroepsjagters in diens van die "Staats Bosbeheer", Nederland se ekwivalent van ons Natuurbewaring.
Verder mag lede van die Koninklike familie hier jag. Die getalle word geraam op 600 edelherte, 400 damherte en 2 000 varke. Om net 'n perspektief te kry oor hoe klein dit werklik is, dink ek aan my swaer in Namibië wat op drie stukke grond boer wat 'n totale oppervlakte van 22 000 hektaar beslaan en daar is enkele plase in daardie geweste wat nog heelwat groter is. Sy wildkamp alleen is bykans 1 000 hektaar groot.
Met 16 miljoen inwoners en groot dele wat uit polders of grasvelde bestaan, asook die groot dele onder water, is daar vir die gewone jagter min plek en min "grootwild" te jag. Nederlanders wat 'n bokkie of twee wil skiet, moet meestal uitwyk na ander Europese lande, soos Duitsland of Oostenryk, en natuurlik na lande in Afrika.
Vir die gewone jagter in Nederland is die prooi beperk tot hase, konyne, duiwe, eende en fisante. As jy wel die ander beskermde wild soos reebok, wildevarke, vosse en herte wil jag, moet jy spesiale toestemming daarvoor kry.
Die meeste jagters jag dus die eersgenoemde vyf spesies en wel met 'n haelgeweer. Die jaggeleenthede vind langs riviere plaas en as jy self wil jag moet jy of 40 ha grond daar besit, of jy moet uitgenooi word om te kom jag, welke uitnodigings, soos deesdae in Suid-Afrika, ook nie juis volop is nie. Eienaars span dikwels saam en het dan ongeveer 70 ha grond waarop hulle twee keer per jaar gedurende die herfs 'n dryfjag reël.
Om selfs net hierdie spesies te kan jag moet jy 'n "jachtdiploma" verkry. Dit is nie 'n maklik sertifikaat om te bekom nie, want 'n eksamen oor die natuurbewaringswette moet afgelê word en van die 400 hoopvolle kandidate elke jaar, slaag maar net 60% die eksamen.
Ek wil nou nie te veel slapende honde wakker maak nie en sekere manne sal my wil kruisig, maar as ek sommige sogenaamde jagters se gedrag en swak kennis van wette en wapens in die veld bekyk, is dit dalk nodig dat ons ook so iets hier in Suid-Afrika moet kry. As jy die diploma verwerf het, mag jy in beginsel 'n haelgeweer besit. Om 'n koeëlgeweer, of wat Theo 'n grootkaliber noem, (enigiets vanaf .22) te mag besit moet jy bewys kan lewer dat jy ook moontlik grootwild sal kan jag.
Verder moet jy jaarliks 'n jaglisensie, wat jou 85 euro uit die sak sal jaag, by die plaaslike polisie aanskaf. Met die huidige wisselkoers dus meer as R800. Die lisensie kry jy alleenlik as jy jou eie stukkie jagveld besit of bewys kan lewer dat jy na 'n jag genooi is. Dink nou weer aan hoe spotgoedkoop ons eie jaglisensies kos en dan koop 'n groot klomp van ons plaaslike jagters dit nie eers gereeld nie.
Omdat Theo jaarliks in Duitsland, Oostenryk of elders jag, besit hy 'n Sauer 80 in kaliber 7x64 wat na my beskeie mening een van die beste kalibers is wat nóg gemaak is. Skietafstande wissel vanaf 80 tot 100 meter vir herte en reebok en in die berge waar hy 'n bokkie jag wat hy 'n berggems noem, is die afstand 150 tot 250 meter waarvoor die 7x64 met sy plat trajek natuurlik uiters geskik is. Wat vir my verder baie interessant is, is dat sy teleskoop 'n 3-12x56 is dit wil sê baie vergrotingsmoontlikhede en 'n groot objeklens. (Die foto hieronder is van Theo se Sauer 80 in kaliber 7x64 en sy Laurona-haelgeweer.)

In Suid-Afrika is die 3-9x40 seker die gewildste van die verstelbare teleskope en selfs 'n vaste 4X of 6X is meer as genoeg vir ons helder sonskyn. In Europa is die lig natuurlik nie so helder nie en word daar ook vanuit die sogenaamde "hochsitz" tot redelik laat skemer nog geskiet en is die groter objeklens wat baie meer lig versamel, natuurlik van groot waarde.
Wat ek nie geweet het nie, is dat daar in Nederland ook verskeie klubs is waar gereeld met swartkruitgewere geskiet word. Die meeste gewere is, soos ook by ons, replikas. Muskette uit vervloë dae is meestal in museums, maar tog ook nog hier en daar in individue se besit.
As ek hierdie komende winter weer iewers in die veld sit met of die pragtige Oos-Kaapse berge rondom my of op die vlakte naby Aberdeen, sal ek van voor af dankbaar wees om ten spyte van misdaad en 'n beperkende wapenwet nog my oë te laat feesvier oor 'n pragtige jagtersland. Ook wanneer ek 'n stukkie droë springbokbiltong soos 'n stokkie knak en rustig stukkie vir stukkie eet, sal ek bly wees, én dankie sê.
29 Maart 2007