
Ek was self nog nie by wanneer 'n bespreking oor watter kalibers en patrone die beste is amper by 'n vuisslanery omgedraai het nie, maar 'n paar maal was ek by waar sommige manne redelik warm geword het.
Dit is net soos met motorfabrikate. Elkeen het sy of haar voorkeure wat op 'n verskeidenheid van persepsies gebaseer is, sommige werklik prakties van aard, maar ander weer meer na die emosionele kant. As jy baie goeie diens van 'n sekere vervaardiger se produk gekry het, is jy geneig om weer daar te koop. Die voorkoms speel 'n rol en dan natuurlik is die verrigting van groot belang.
As jy by was waar iemand met een of ander Super-Dooper Magnum 'n gemsbok met een skoot op 300 treë laat val het, sal jy geneig wees om dié kaliber op jou kortlys te sit. Maar kom ons raak heeltemal prakties. Wat nodig is, is 'n koeël met genoeg gewig wat teen 'n genoegsame snelheid beweeg vir die betrokke aanwending en wat genoeg energie het en akkuraat genoeg is om die wildsoort waarna jy mik vinnig en doeltreffend te dood sonder om te veel vleis te beskadig in die geval van ons gewone ouens wat liewer biltong wil hê as 'n stel horings.
Eers moet ons die veld vernou. Ons skakel dadelik groot gevaarlike goeters wat kan byt of krap of trap heeltemal uit. Die beste kaliber vir die groot goed word na al die jare se grootwildjag nog steeds gedebatteer deur manne wat al self agter die kolf gestaan het wanneer koning leeu sy misnoeë met hulle teenwoordigheid te kenne gee. Self het ek die ou grotes nog nooit kon jag nie en as my finansiële status die volgende paar jaar dieselfde bly, sal ek dit ook nooit kán doen nie.
Een keer was daar die geleentheid toe ek 'n uitnodiging ontvang het om 'n leeu met my Martini Henry te skiet sodat daar gesien kan word wat die ou geweer op 'n leeu kan uitrig. Toe ek egter hoor dat dit 'n ou mannetjie is wat nie meer in 'n teelprogram benodig word nie en dus eintlik maar net vakant gemaak moes word, het ek die aanbod van die hand gewys. My jare lange droom om 'n leeu te skiet, wou ek nie só beleef nie, want die droom is juis om hom tydens 'n werklike jagtog te skiet en nie iewers in 'n klein kampie nie, al sou laasgenoemde in die geval my niks gekos het nie.
Die tweede veld wat ek wil uitskakel, is die skiet van ongediertes of soos die Amerikaners dit noem varminting. Hier gaan dit oor klein kalibers wat oor dikwels lang afstande besonderse verrigting moet lewer en omdat dit 'n soort jag is wat nie deur so baie Suid-Afrikaners beoefen word nie, kyk ons nie na kalibers wat daarvoor geskik is nie, alhoewel baie van die kalibers in ons gesprek oor gewone jagkalibers ter sprake sal kom.
Wanneer ons dus hier oor die keuse van 'n kaliber praat, gaan dit oor die doodgewone ou soos ekself wat 'n paar keer of dikwels maar een keer per jaar in die veld kom waar ons iets vir die pot en die biltonghaak wil skiet. Binne hierdie groep kry ons drie tipes terrein wat in ag geneem moet word aangesien die terrein waar jy die meeste van jou skietwerk doen 'n groot invloed sal hê op die geweer wat jy gaan koop of gaan herlisensieer.
1. Oop wêreld soos in groot dele van Namibië, die Karoo, Vrystaat en Noordweste waar die skote meestal langafstand is.
2. Die regte Bosveld waar die meeste skote op korter afstande geskiet word.
3. Gemengde veld waar jy langafstand skote skiet, maar dikwels ook baie ruie bos kry waar die skote dikwels naby is soos ons bv hier in Oos-Kaapland kry.
As jy nooit op 'n ander plek as die Kalahari jag nie, is die keuse van 'n kaliber baie makliker as wanneer jou jaggeleenthede omtrent 50/50 tussen oopwêreld en boswêreld verdeel word.
Die volgende belangrike vraag is watter wild jy die meeste gaan skiet. As jy byvoorbeeld 95% van die tyd niks groter as 'n blesbok gaan skiet nie, is dit so half sinneloos om 'n kaliber te koop wat meer geskik is vir daardie een keer in tien jaar wat jy dalk 'n koedoe gaan jag as wat dit geskik is vir jou elke jaar se springbok. Daar is kalibers wat redelik veelsydig is en 'n mens moet jouself afvra watter soort wild jy die meeste gaan skiet om te bepaal na watter kant van die spektrum jy moet koop.
Ons gaan die kategorieë wild as volg indeel en die terrein volgens bogenoemde:
1. Grootliks wild soos springbokke, rooibokke en tot en met blesbokke.
2. Grootliks wild soos koedoes, gemsbokke, wildebeeste, ens.
3. Omtrent 'n 50/50 verdeling van bogenoemde twee.
In die res van die artikel kyk ons na die terrein waar gejag word en die soorte wild en stel sekere parameters waarbinne ons kalibers sal kies. In 'n volgende artikel sal ons dan kan kyk na 'n paar kalibers wat binne die parameters val asook na watter koeëlsoorte die mees geskikte is.
Terrein
Alhoewel daar baie veranderlikes is en 'n ander skrywer dalk ander keuses sou maak of selfs nog dinge kon byvoeg, is die volgende parameters myns insiens die belangrikste.
Oop wêreld waar die meeste skote 200 meter en verder is.
Bosveld waar skote op redelike kort afstand geskiet word, is die volgende die belangrikste.
Sommige skuts sal hier nog die vermoë om deur bosse te kan skiet wil byvoeg, maar ek glo nie 'n mens moet ooit willens en wetens deur 'n bos probeer skiet nie. Dure ondervinding met 'n koedoe en my destydse .375 H&H het my gewys dat selfs 'n swaar stadige koeël te maklik deur 'n takkie gedeflekteer word, wat nog te sê deur die klomp takke van 'n bos. Vergeet maar liewer van deur die bos skiet.
Gemengde terrein
Wat die verskillende soorte wild betref is daar eintlik net een parameter en dit is dat die koeël genoeg doodmaakvermoë moet hê vir die grootte van die betrokke bok. Sommige wildsoorte soos wildebeeste is wel bekend vir hulle taaiheid, maar om dit ook in aanmerking te neem, sal beteken dat ons letterlik elke boksoort apart moet bespreek wat prakties nie uitvoerbaar is nie. Gaan sit solank en maak vir jou 'n kort lysie van watter kalibers jy by elkeen van die terreine en boksoorte sal verkies.
In 'n volgende artikel sal ek dan my voorkeure bespreek en kan jy sien waar ons saamstem en waar ons verskil.
9 Julie 2007