Landbou

Verskillende kalibers vanaf 'n .223 tot by 'n 9.3 x 62. (.223, .22-250, .220Swift, 7 x 57, .270W, 7 x 64, 7mm Rem Mag, 9,3 x 62) Foto: Ben Fourie
Soortgelyk
Kaliber-keuses vir jagveld
Deur BEN FOURIE

Jare gelede het ek iemand in Namibië geken wat al sy springbokke met 'n .220 Swift geskiet het en alle ander wild met 'n .264 Winchester Magnum. Ek het self een of twee springbokke met die Pre-64 Winchester Swift wat ek destyds besit het, geskiet.

Die mees aanskoulike skoot wat ek ooit met 'n geweer geskiet het, was juis met die Swift op 'n springbokram wat op volle spoed op die dwarste verbygekom het. Toe was ek nog jonk en onverantwoordelik genoeg om 'n skoot in die hardloop te skiet. Weliswaar het ek in daardie dae baie beter geskiet as deesdae en die Swift was gelaai met 'n Hornady-punt wat vir wild bedoel was en nie vir ongedierte nie. Dit was 'n perfekte hartskoot en die bok het bolmakiesie geslaan dat die stofwolke so staan.

Vandag met baie meer jare en hopelik meer wysheid agter die rug, sal ek ernstig frons oor sulke onverantwoordelike maniere van jag. Deesdae skiet ek op hardlopende wild net as dit iets is wat reeds gekwes is en 'n mens enigiets sal probeer om die gekweste dier so gou moontlik dood te kry.

Die Swift en ander .22 kalibers soos die .222 en .223 is na my mening spesialiskalibers wat meer geskik is in die hande van hoogs bedrewe skuts wat bokke oes, want hulle skiet meesal kopskote, maar vir gewone jag vertrou ek nie die baie vinnige koeëltjies wat eintlik nie vir wild gemaak is nie. Sou jy egter self herlaai en veral die 70gr koeëls wat wel vir die skiet van kleinwild gemaak is, gebruik, kan 'n geweer soos die baie gewilde .22-250 in ideale omstandighede wel uiters doeltreffend wees op springbokke.

Self beveel ek egter nie graag so 'n klein kaliber aan nie en sal dus in die res van die artikel konsentreer op kalibers van 6mm en groter. Verder skakel ek die sogenaamde wildcats ook dadelik uit. Dit is kalibers wat dikwels ontwerp is om 'n nie-bestaande probleem aan te spreek. As 'n mens hou van dit wat so 'n bietjie anders as die gewone is, kan jy natuurlik vir jou só 'n kaliber kry wat niemand anders het nie en wat jou so 'n bietjie laat uitstaan, maar daar is meer as genoeg gewone alledaagse kalibers op die mark beskikbaar wat alles kan doen wat vir die gewone jagter nodig is.

Ons konsentreer eerste op wildsoorte in die springbok-, blesbok- en rooibok-klas in oop terrein soos die Kalahari, die Suide van Namibië, die Karoo, en so aan. Wat hier nodig is, is 'n koeël van genoegsame energie om gou dood te maak op die langer afstande van die oop wêreld en genoeg spoed het om 'n goeie trajek te gee sonder om te veel deur die wind van koers af gewaai te word. Hier praat ons van 'n gemiddelde wind, want as die wind werklik sterk waai het jy in elk geval 'n probleem.

Noem my maar konserwatief, maar myns insiens is 300 treë die verste wat 'n gemiddelde jagter 'n skoot moet waag met die klem op waag. Ek dink 'n trajek waar die geweer ingestel is om op 200 treë in die kol te wees, moet vir die kleiner diere nie veel meer as 7 duim (2.8cm) laer wees op 300 treë nie. In die oop wêreld is dit dikwels beter om die geweer in te stel om op 300 treë in die kol te wees.

Daar sou sekerlik van baie ingewikkelde formules gebruik gemaak kan word om nou 'n paar kalibers uit te soek, maar self dink ek ons kan volstaan met 'n koeël van minstens 100 grein gewig, 'n snelheid van minstens 3000 vps en 'n trajek soos hierbo genoem. Jy moet nou self die kaliber waarin jy belang stel se gegewens aan bogenoemde toets.

Lesers wat nie toegang het tot ballistiese tabelle nie, kan op die soekenjin, www.google.com, net intik ballistic tables en die soekenjin sal jou by 'n verskeidenheid hiervan uitbring. Die webwerf van Guns & Ammo het byvoorbeeld 'n redelike volledige tabel. Hulle kan my ook kontak sodat ek vir hulle die kaliber waarin hulle belangstel se gegewens kan gee.

Ek noem net die volgende drie baie bekende kalibers se gegewens ter vergelyking:

Die volgende kategorie is groter wild soos koedoe, gemsbok en blou- of swartwildebees in oop terrein. Hier het 'n mens 'n swaarder koeël nodig om die nodige energie te gee om die groter wild betroubaar dood te maak. Omdat die hart-long area hier groter is, kan die trajek ook so 'n bietjie minder plat wees. Dit is hier waar die Magnums soos die 7mm Remington Magnum of .300 Winchester Magnum hulle staal begin wys.

Alhoewel ek saam met die kenners stem dat 'n mens liewer te veel as te min geweer moet gebruik, is die Magnums met hulle duurder patrone en groter terugskop dikwels net nie vir die een keer per jaar jagter 'n proposisie nie. In 'n ideale wêreld sou ons almal met groot Magnums wat bokke soos weerlig tref, kon geskiet het, maar die gewone skut wat 'n veelsydige geweer soek, kyk gewoonlik na iets minder intimiderend.

Self skiet ek nog altyd met 'n 30-06 met 165gr patrone en alhoewel ek geen besonder goeie skut is nie, het die ou strydros my nog nooit in die steek gelaat nie, selfs nie in Namibië se Suide waar skote gewoonlik ver is nie. Dan moet ek dadelik bysê dat ek ook baie met my swaer se 7mm Remington Magnum geskiet het en hom baie akkuraat en dodelik gevind het op gemsbok en koedoe. Die vereistes is hier 'n koeël van minstens 160gr teen 'n snelheid van minstens 2800vps. As jy swaarder koeëls wil gebruik, moet die spoed nog steeds ten minstens 2800vps wees.

Vergelyk die volgende drie gewere se energie en trajek:

Daar sal natuurlik oorvleueling by bogenoemde twee kategorië wees, want die .270 kan ook 'n koedoe plattrek en die 30-06 'n springbok of blesbok, maar die gewere in die .243 klas is na my mening heeltemal te lig vir koedoes, ens. Ek het op 'n stadium my .243 met 100gr Nosler Partitions gelaai omdat 'n mens soms, wanneer jy ribbok jag, dalk ook 'n koedoe kan raakloop, maar ek het die praktyk laat vaar omdat die .243 darem regtig te lig is vir diere in die koedoe se klas.

Die laaste kategorie is dan die regte bosveld. Vir die omstandighede soek jy nog steeds genoeg energie om betroubaar dood te maak, maar die trajek is nie so belangrik nie. In bosveld toestande is swaarder koeëls die gebruik en omdat skote baie nader is, wil jy ook nie 'n te vinnige koeël hê nie, want dan is vleisbeskadiging soveel meer. Na my mening is 175gr die minimum gewig vir bosveld toestande en 'n snelheid van 2500 en selfs laer is meer as voldoende om met die swaarder koeëls genoegsame doodmaakvermoë te gee.

Die volgende twee doodgewone kalibers gee 'n goeie idee van wat benodig word.

As ons alles moet opsom, is die volgende duidelik. Alhoewel dit ideaal en lekker is om 'n geweer vir elke situasie en toestand te hê, is dit vanweë verskeie faktore meesal nie moontlik nie en daarom soek baie skuts na een kaliber om alles mee te doen. Onthou, ons praat van wild vanaf springbok tot nie groter as koedoe nie. As jy groter goed soos elande wil jag, moet jy na die heelwat groter kalibers soos die .338 en groter kyk, maar dit is 'n onderwerp vir 'n ander dag. Jy kan met een geweer basies al die kategorieë dek as jy slim koop, maar dan is die ideaal dat jy self jou patrone moet herlaai. Kom ons neem die voorbeeld van die 7x64. Met 139gr koeëls is hy baie lekker om springbok op langer afstande te skiet en met 162gr koeëls kan jy koedoes ens ook op langer afstande baasraak. Laai jy 'n 175gr koeël teen stadige spoed, sal hy jou ook nie in die Bosveld in die steek laat nie.

Nou bly nog net die kwessie van watter ammunisie die beste is. As jy fabriekspatrone koop, probeer uitvind met watter vervaardiger se koeëls dit gelaai is. Sommige vervaardigers gebruik maar hulle eie koeëls, maar ander gebruik ook koeëls van die spesialiste soos Hornady, Speer, Nosler en ander.

Persoonlik gebruik ek doodgewone Hornady InterLock-koeëls vir al my kleiner wildsoorte wat in oop wêreld gejag word omdat die koeëls op die langer afstande heelwat spoed verloor het en dus nie meer so maklik fragmenteer soos op korter afstande nie. Vir groter diere gebruik ek Nosler Partitions omdat ek glo dat 'n mens vir die groter wild 'n sterk koeël moet gebruik. Daar is egter baie goeie koeëls op die mark soos Rhino, GS, Swift en ander. My raad is om die beste moontlike koeëls te koop. As jy 'n duisend of twee rand vir 'n dier betaal, is dit swak ekonomie om 'n goedkoop koeël te gebruik waardeur jy dalk die dier kan kwes en verloor.

Skiet jou geweer in en oefen met goedkoop koeëls van dieselfde gewig as waarmee jy jag en maak net seker met twee of drie van die jagkoeëls dat die geweer met hulle op dieselfde plek skiet. My verskoning dat ek nog meesal nie van metrieke mate gebruik maak nie, maar ek sukkel om in meters te stap en vind treë baie makliker. Verder is voet per sekonde so ingeburger by almal wat skiet, dat dit ook maar swaar gaan om in meter per sekonde te dink. As jy duime na sentimeters wil verander, deel net deur 2.5. Die bok gaan hom ook nie bekommer of jy hom met imperiale of metrieke energie tref nie, hy soek net genoeg daarvan om nie te ly nie.

  • Ben Fourie is 'n geweer- en jagentoesias van Port Elizabeth.
    Kontak hom by tel. 041 364 1138 (w) of e-pos: fourie@biblesociety.co.za

    9 Julie 2007