Landbou
Die plesier van jag
Deur BEN FOURIE

Ek het die afgelope jagseisoen presies drie skote in die jagveld afgetrek. Een was 'n goeie raakskoot, een amper mis en een heeltemal mis.

Vir iemand wat tans besig is om te probeer om toegewyde jagterstatus te kry, beslis nie 'n rekord om mee te spog nie en die hoeveelheid dae in die veld en wild aan die biltongdraad sal dalk ook nie kwalifiseer nie. Dit het my laat wonder wat maak van 'n mens 'n toegewyde jagter en wat presies maak 'n jaguitstappie 'n sukses.

Eersgenoemde vraag is sekerlik nie maklik om te antwoord nie en ek gaan nie hier probeer om dit volledig te doen nie, want soveel menings as wat jy vra soveel antwoorde is daar. Daarom net enkele opmerkings. Om vir dié status te kwalifiseer moet jy by 'n geakkrediteerde jagvereniging aansluit en 'n teoretiese en praktiese toets aflê. Laasgenoemde bevat onder andere 'ntoets van jou skietvernuf. Na beide die toetse sien ek nogal uit, want ek glo hoe meer 'n mens kan weet en leer van enige onderwerp, hoe beter.

Maar as ek nou die toetse geslaag het, is dit maar nog net 'n paar meetbare maatstawwe waaraan ek voldoen het en maak dit my nie per se 'n toegewyde jagter nie. Die man of vrou met die hoogste punte in so 'n toets mag dalk op die ou end deur onetiese jagmetodes of 'n oordrewe sug na die grootste trofee of wat ook al, blyk glad nie by my idee van 'n toegewyde jagter in te pas nie.

Verder kan 'n mens vra of die persoon wat baie geld het en dus ses of sewe kaar per jaar kan jag meer toegewy is as ons minder gegoede ouens wat lank spaar en afknyp om 'n spesiale jag of wildsoort te kan bekostig. Is die hoeveelheid kere wat ek per seisoen jag belangrik of gaan dit dalk juis om daardie een besondere ervaring per jaar of selfs dalk elke tweede jaar. Moet ek aan sekere kompetisies deelneem om 'n toegewyde jagter te wees of is ek dalk meer toegewyd as ek stokalleen met 'n doodgewone .303 'n bok gaan jag? Soos reeds gesê is dit 'n baie meer gekompliseerde saak wat meer tyd as die paar woorde verg.

Hierby sluit die vraag dan aan oor wat maak 'n jaguitstappie suksesvol. Kom ek illustreer met een van my eie jagervarings die jaar. Jare gelede het ek een dag hoog in die berge van die Kamdeboo gelê en afgekyk na waar die hoë kerktoring van die dorpie Aberdeen soos 'n baken op die vlakte staan, maar kort hierna het ek stad toe getrek en nie gedink ek sal gou weer in daardie wêreld jag nie.

So was dit ook, maar na 'n afwesigheid van amper 12 jaar nooi 'n vriend my die seisoen om saam met hom koedoes in daardie wêreld te gaan soek. Dit was al 'n bietjie laat in die seisoen, maar omdat dit daar gewoonlik wemel van die koedoes, was ons baie optimisties dat ons iets sou kry.

My tyd was ongelukkig baie beperk en toe ons net na middag op die plaas aankom, het ons dadelik ons goedjies in die kamer neergesit, die gewere gevat en dadelik koers gekies veld toe. Vir my was dit 'n wildvreemde plaas, maar Schalk ken die grond baie goed. Omdat ek twee weke vantevore met die .30-06 'n bosbok geskiet het, was ek tevrede dat die geweer presies op skoot is met die 165gr Nosler Partitions koeëls waarmee ek graag skiet.

Ons was werklik net 'n kilometer of so van die huis af weg op pad veld toe met die bakkie toe ons skielik 'n troppie van sewe koedoes in 'n digte doringleegte gewaar.

Wat se plan nou? As 'n mens rustig bly voort ry gebeur dit dikwels dat koedoes wat hulleself veilig voel, doodstil sal bly staan, maar hierdie troppie was nie so rustig nie en het dadelik weggespring. Schalk het gestop sodat ek kon afspring. Hy het omgedraai en is weer met die pad terug terwyl ek versigtig deur die ruie doringbome begin bekruip het met die hoop dat die koedoes nie ver sou hardloop nie.

Dit het maar stadig gegaan, want die doringbome staan ruig en daar lê baie droë takkies met lang pendorings aan rond. Omdat daar 'n mooi skietbare bul by die troppie was, het ek dit die moeite werd geag om te probeer. Ek het gereeld plat gaan sit en onder die takke deurgeloer of ek hulle nie kon sien nie, maar hulle was te skelm. Hulle het net daar in die ruigte gebly en Schalk wat omgery het, het hulle ook nêrens gewaar nie.

Ons is die middag teen die berge uit, maar het niks weer gesien nie. Schalk het gelukkig 'n mooi rooiribbokram met 'n goeie skoot deur die kop platgetrek.

Omdat die wêreld daar vroegoggend maar wit van die ryp is, is ons eers teen agtuur die volgende oggend weer by die huis weg. Ons plan was om weer by die doringleegte aan te gaan en dan koers te kies berge toe, maar ook die dag het geen koedoes opgelewer nie. Met middag het ons besluit om baie hoër op na die berge te gaan waar daar 'n troppie blesbokke loop. Hulle is gewoonlik nie die heel moeilikste wild om te jag nie. Toe ons bo kom, het daar egter 'n baie sterk wind gewaai wat ons kanse sou belemmer.

Ek het afgeklim en hoog teen 'n hang opgestap van waar ek 'n groot deel van die kamp kon dophou terwyl Schalk en die twee plaaswerkers wat saam was die bakkie so 'n twee kilometer verder gelos het en begin stap het. Die idee was dat die bokke in my rigting sou kom. Ek het my tweepoot wat ek van 'n ou kamera driepoot gebou het reggekry en so agter 'n bos stelling ingeneem dat ek die grootste moontlike area kon sien sonder dat die bokke my kon sien. Ek was veral versigtig dat die son nie op my geweer se loop of teleskoop sou blink nie.

Die wind het nog sterker begin waai, maar omdat dit reg van hulle af na my toe gewaai het, sou hulle my glad nie kon ruik nie. Ek was wel bekommerd omdat my ondervinding is dat as die wind baie sterk waai, wild geneig is om aanmekaar wind op te beur, wat sou veroorsaak dat hulle nie na my kant toe sou kom nie. Dit is dan toe ook wat gebeur. Ek kon sien hoedat die bokke elke slag as die ander hulle roer begin beweeg, maar net 'n entjie wind af en dan spook hulle weer teen die wind op.

Met die wat ek die hele tyd die trop sit en dophou, maak ek een van die mees elementêre foute in die veld en dit is om nie elke nou en dan reg rondom jou te kyk nie. Toe ek uiteindelik weer in die vlaktetjie aan my regterkant afkyk, staan twee blesbokke vir my op so 'n 200 treë en kyk. Alhoewel hulle my gewaar het, was hulle nog nuuskierig genoeg om te probeer uitmaak wat hulle sien en ek het tyd gehad om die geweer stadig om te draai en op die tweepoot te laat rus.

Die bokke het reg na my staan en kyk en albei was ramme. Soms is dit nogal moeilik om tussen die ramme en ooie te onderskei, maar die son het mooi op hulle horings geval en ek kon aan die wit op die horings sien dat ramme is. Die kruishaar het op die grootste van die twee se bors vasgesuig en ek het die sneller gedruk.

As groentjie jagter baie jare gelede, het my skoonpa my die geheime van 'n goeie skut geleer. Een van die dinge wat hy telkens baie beklemtoon het was dat jy altyd jou skoot moes kon "nomineer" - dit wil sê die oomblik as jy die sneller druk moet jy presies weet waar die koeël gaan tref of dit op wild is of op 'n teiken. In daardie breukdeel van 'n sekonde toe my vinger die sneller druk, kon ek my skoot nomineer.

Mis, aan die regterkant verby en dit was presies waar die stofwolkie geslaan het. En dit was dit.

Ek het nog baie ver daardie dag gestap, maar nie weer 'n kans gekry nie. Gelukkig het Schalk 'n mooi blesbok geskiet wat hy vir my present gegee het. My fout was dat ek die sterk wind nie in aanmerking geneem het nie. Dit was nie die wind wat die koeël van koers af gevat het nie, want daarvoor het ek gekompenseer, maar daar waar ek oop en bloot teen die hang gesit het, het die wind my fisies beweeg net toe ek die sneller druk.

Nadat ek meer as 700 kilometer gery het, het ek een skoot geskiet, wat bowendien mis was. Was dit 'n geslaagde jag?

Natuurlik was dit, want ek was vir amper twee dae in 'n pragtige omgewing in die veld. Ek het vir amper twee dae die gewig van my getroue ou 30-06 op my skouer gehad. Ek het die plesier gehad om die mooi blink patrone in die magasyn te druk en was weer daaroor so opgewonde soos toe ek op skool die eerste keer 'n 30-06 gesien het en besluit het so 'n geweer wil ek eendag hê.

Dit was 'n reuse sukses omdat ek twee dae in die veld was met 'n goeie vriend wat 'n wonderlike kennis het van veld en wild en perde en honde en ou Kaapse geskiedenis en nog wat. Ek meet nie meer die jagsukses van hoeveel wild daar aan die haak hang nie, alhoewel 'n mens prakties gesien darem nie elke dag sonder iets by die huis kan aankom nie, want waar kry jy dan biltong vandaan?

Maar die plesier van jag lê soveel wyer en om 'n toegewyde jagter te wees, kan ook soms beteken dat die een skoot wat jy in twee dae kry, mis is.

  • Ben Fourie is 'n geweer- en jagentoesias van Port Elizabeth. Kontak hom by tel. 041 364 1138 (w) of e-pos: fourie@biblesociety.co.za

    7 September 2007