Landbou
Permitstelsels benadeel jagters
Deur NICO VAN BURICK

Dit is duidelik dat tien verskillende permitstelsels (nege provinsiale en 'n nasionale stelsel) vir die jagbedryf nie werk nie. Een stelsel met eenvormige standaarde is noodsaaklik, sê mnr. Marthinus van Schalkwyk, Minister van Omgewingsake en Toerisme.

Hy het op die jaarvergadering van die Professionele Jagtersvereniging van Suid-Afrika in Boksburg gesê weens die gefragmenteerde en soms teenstrydige bewaringswetgewing in die provinsies, was dit nodig om 'n nasionale regulatoriese raamwerk te ontwikkel. Die eerste stap was die instelling van regulasies vir bedreigde en beskermde wildsoorte (TOPS). Dit is onder meer gemik op onwettige en onetiese jagmetodes en die formele erkenning van jagtersverenigings.

Die volgende stap is die aanvaarding van nasionale norme en standaarde wat as 'n raamwerk vir provinsiale regulasies kan dien en permitstelsels meer vaartbelyn kan maak. Hy het die versekering gegee dat dit met die samewerking van die bedryf opgestel sal word en dat dit rompslomp binne die jagbedryf sal verminder. Van die sprekers het gekla dat talle professionele jagters die bedryf verlaat weens probleme met permitte in sommige provinsies.

Van Schalkwyk sê Suid-Afrika betaal nou die prys vir te veel mag aan die provinsies. Tydens die grondwetlike onderhandelingsproses in die vroeë 1990's wou almal die sentrale regering se mag afwater en het mag na die provinsies afgewentel. Hierdie mag is in die Grondwet gesetel en kom nie van die Regering af nie. Daarom is dit nie maklik om dit te verander nie.

Van Schalkwyk sê dit is 'n wanindruk dat die Regering teen jag gekant is en die bedryf wil kortwiek. "Wildboerdery en jag dra aansienlik tot bewaring, toerisme-ontwikkeling, werkskepping en volhoubare ontwikkeling in landelike gebiede by. " Hy sê dit is ook 'n belangrike verdiener van buitelandse inkomste en hy is optimisties oor die toekoms van die bedryf.

"Die sleutelkwessie is volhoubare benutting. Ons is net so vasbeslote om te verseker dat ons wette en internasionale ondernemings gehoorsaam en gestand gedoen moet word en sal nie huiwer om teen onetiese en onverantwoordelike jagters op te tree nie. "

23 November 2007