Ek het ongelukkig nie die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) se navorsingsbevindings getiteld "National Profile and Economic Impact of Biltong Hunters in South Africa" gelees nie. As ek dit wel gedoen het, sou ek al lankal daaroor geskryf het.
Toe ek hoor dat my ou alma mater bevind het dat 87% van die biltongjagters Afrikaanssprekend is, dat hulle meer as R3 miljard per jaar aan jag bestee, dat hulle jag ter wille van 'n lus vir biltong en dat SA Jagter/Hunter die gewildste jagtydskrif in Suid-Afrika is, het ek vir myself gesê: "Ek moet daardie verslag in die hande kry." Toe stuur die PUK virmy 'n afskrif van die verslag en toe besluit ek dit het tyd geword om die pen op te neem.
Wie het die universiteit oortuig dat die antwoorde op vraelyste wat slegs aan lede van die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SAJV) en lesers van SA Jagter gestuur is, genoeg inligting is om die algehele jagprentjie in Suid-Afrika te bepaal? Indien hulle deur die wapen- en ammunisieregisters van geweerhandelaars sou blaai waarin die naam, adres, ID-nommer en ander inligting van elke jagter in Suid-Afrika verskyn, sou hulle gou uitgevind het dat aansienlik meer as 13% van die jagters in ons land nie Afrikaanssprekend is nie. Trouens, Engelssprekendes kla gereeld dat hulle afgeskeep word.
'n Mens wonder waar die illusie ontstaan het dat daar twee groepe jagters in Suid-Afrika is. Die een klomp skiet bokke dood vanweë hul lus vir biltong. Hulle is die sogenaamde biltongjagters. Die ander skiet diere dood "omdie bokke te vereer vir hul vermoë om'n lang horing te groei," aldus Charl van Rooyen in Landbouweekblad. Hulle noemhulself die trofeejagters.
Ek ken nie mense wat diere doodskiet ter wille van die biltong nie. Die meeste jagters, soos die navorsing bewys, is welaf mense. Hulle is per kop ryker (en skynbaar ook beter gekwalifiseerd) as die gemiddelde trofeejagter. Jag is vir hulle 'n heerlike ontspanning waaraan hulle en hul vriende saam deelneem. As hulle net biltong soek, kan hulle dit baie goedkoper by die slaghuis koop.
As hulle toevallig 'n dier met mooi horings of tande skiet, sal hulle die trofee bewaar om vir vriende te wys. Hulle gaan egter nie 'n bohaai daaroor maak nie. Dié jagters, wat meer as R3 miljard per jaar tot die staatskas bydra, is sekerlik nie biltongjagters soos die verslag na hulle verwys nie. Hulle is eerder sportjagters of plesierjagters. Dit is jammer dat die verslag nie een van hierdie twee begrippe gebruik nie.
Van mindere belang, soos die navorsers aandui, is die klein groepie in die land wat na hulself as trofeejagters verwys. Hulle is eintlik nie ware jagters nie,want hulle maak van buitestanders, spoorsnyers en professionele jagters gebruik omdie diere met die lang horings of swaar tande op te spoor. Al wat hulle doen, is om aan te lê en die sneller te trek. Soos wanneer jy skyfskiet. Dan eers begin hulle "jag".
Honderde DVD's wys hoe hulle deur die beroepsjagter en sy spoorsnyers aangeprys word. Die fotosessie waartydens só 'n persoon breedborstig vir die kamera poseer, kan ure lank duur, veral as die agtergrond spesiaal gerangskik moet word. Die fotograaf gebruik spesiale wyehoeklense om die indruk te wek dat die horings baie langer is as wat werklik die geval is.
Daarna word die dier versigtig afgeslag en na 'n taksidermis gestuur, waar hy opgestop word om uiteindelik glasogig teen diemuur te hang om iets te bewys. Ek weet nie wat nie.
Teen die einde van jaar is daar 'n trofeekompetisie om te sien wie se horing(s) die langste of tande die swaarste is. Die wenner kry 'n toekenning - die Musgrave-trofee of iets dergeliks. Die spoorsnyers en beroepsjagters wat eintlik die jagwerk gedoen het, word nie na die makietie uitgenooi nie. Seker maar om nie die kalklig te steel nie. Dit is jammer dat die trofeejagters voorgee dat hulle die eintlike jagters in die land is. Ek dink hulle het miskien die Potchefstromers beïnvloed.
Dit is onregverdig teenoor ander tydskrifte om te beweer dat SA Jagter die tydskrif is wat die meeste deur jagters in Suid-Afrika gelees word. Die feit is dat dit die enigste tydskrif is aan wie se lesers die vraelyste gestuur is.
Dit bringmy terug na my stelling dat dit verkeerd was van die navorsers om te aanvaar dat die SAJV die spreekbuis van die jagtersgemeenskap in die land is.
Daar is egter goeie nuus: Die instituut vir toerisme en vryetydstudies is besig met 'n baie omvattender navorsingsprojek. Hierdie keer sal alle lede van die Konfederasie van Jagtersverenigings van Suid-Afrika (Chasa) asook ander wildorganisasies by die ondersoek betrek word. Ek sien uit na die resultate van hierdie projek van dr. Peet van der Merwe en prof. Melville Saayman, albei verbonde aan die instituut.
Landbouweekblad, 30 November 2007