
Ná baie jare se jag met verskillende gewere en kalibers op verskillende wildsoorte, begin jy na meer uitdagings soek as net die gewone jag. Party jagters skakel oor na boogjag en ander na handwapens. Ek het oorgeskakel na 'n baie mooi Martini-Henry sportgeweer, kaliber 577/450.
Met my eie ou geweer het ek al baie gejag, maar nie noodwendig baie wild doodgeskiet nie. Jy moet jouself totaal anders instel, jou bekruipvermoë opskerp en vir jouself 'n beperking van 100 treë stel. Hoe belangrik laasgenoemde is, het weer onder my aandag gekom.
My vriend Hendrik Putter het grond naby Waterford en alhoewel 'n paar vriende gereeld met gewone gewere by hom jag, skiet hy self deesdae omtrent uitsluitlik met 'n mooi ou militêre Martini wat deur Westley Richards gemaak is. Dié jaar het hy 'n baie ambisieuse projek aangepak. Hy wou dat ons op een dag uitsluitlik met die Martinis 'n blesbok, 'n springbok, 'n blouwildebees en 'n koedoe skiet. Dries Trollip van Cradock is ook genooi en sy Martini is 'n militêre geweer wat deur BSA vervaardig is. Die dag voor die jag is daar koeëls gelaai en Dries se geweer wat jare laas 'n skoot geskiet het, is baie deeglik ondersoek. Dit is werklik verbasend hoe goed al drie die gewere se lope nog is, gesien die feit dat die swartkruit waarmee hulle almal geskiet het, baie verwering veroorsaak. Hulle moes eienaars gehad het wat baie mooi na hulle gekyk het. Ek skiet self met swartkruit maar die ander twee laai albei met moderne kruit. Al drie van ons gebruik loodkoeëls wat ek self giet met 'n mengsel van 75% suiwer lood en 25% drukkerslood. Dit gee 'n redelike sagte koeël wat lekker in die groewe van die ou gewere uitsit, maar tog hard genoeg is om goeie penetrasie te verseker. Nadat Dries met sy geweer geskiet het en ons tevrede was dat hy reg is, het ons reikhalsend uitgesien na die volgende dag.
As iemand weer vir my sê 'n blouwildebees is dom, sal ek hom nie kan glo nie. Dit was my eerste ondervinding met die ou lelikerds, maar hulle het my lekker om die bos gelei. Vroegoggend het ons hulle teengekom waar hulle teen die sonnige hang van 'n rantjie gestaan het. Ons het die bakkie net daar gelaat en die groot bekruip het begin. Ek het al teen die voet van die rantjie langs gegaan, en Hendrik skuins oor die rant om hulle af te sny as hulle my gewaar. Daar was twee mooi bulle by die troppie, maar ons aantog met die bakkie vroeër het hulle te veel op die hoede geplaas en die oomblik toe ek die skuiling van die bosse verlaat om 'n skoot te probeer, het hulle my gesien en oor die rantjie weggestorm. Ons beplanning was nie te sleg nie, want hulle het naby Hendrik uitgebars, maar nooit weer gaan staan om 'n kans te gee nie. Ek het mooi gekyk waarheen hulle is, en het deur 'n laagtetjie begin om hulle te bekruip waar ek gehoop het hulle net agter 'n ander koppie sou gaan staan. Weer het ek reg beplan, maar bees se kind het seker geweet ek skiet met 'n ou roer. Agter die koppie is 'n stuk redelike oop veld en hulle het net mooi hier gaan staan. Daar was nie meer verder bekruip-moontlikheid nie en dit was té ver vir 'n skoot met die Martini. Die naaste wat ek die res van die dag aan hulle gekom het, was omtrent vierhonderd treë.
Dries Trollip was egter gelukkiger. Hy en Matie van Niekerk ('n ander vriend en jagter wat sy .308 saamgedra het om te help as ons dalk iets met die ou gewere kwes), het hoog teen 'n ander koppie gesit toe 'n paar bloues teen die oorkantste hang vassteek. Dries het dadelik begin bekruip, maar vanweë die ongelooflike digte bosse kon hy glad nie die prooi sien nie. Matie het bly sit en met handgebare vir hom beduie hoe om te bekruip. So goed het die plan gewerk dat toe Dries in 'n stadium agter 'n noorsdoring regop kom, was die wildebeeste skaars 40 treë van hom af. Hy moes baie vinnig 'n bok kies, uit die vuis uit aanlê, en skiet. Omdat ons dit by hom ingedril het dat die ou gewere se trajek maar so 'n bietjie soos 'n piesang lyk, het hy 'n raps te hoog gevat en die jong bul se rug net agter die blaaie afgeskiet. Dié het natuurlik soos 'n os neergeslaan en sou baie gou dood gewees het, maar Dries het deur die bosse gestorm en hom 'n genadeskoot in die kop gegee. Die eerste van die vier was plat. Intussen was Hendrik self ook nog agter 'n klompie wildebeeste aan en hy het 'n baie mooi bul met een skoot agter die blaaie platgeskiet. Die afstand was ongeveer 90 tree.
Nou het die blesbokke gewag. Weer was dit Dries wat eerste kans gekry het, maar hierdie keer was hy nie gelukkig nie. Ek het ook op 'n klompie blesbokke afgekom wat salig onbewus van my gestaan en wei het, maar weer eens het die geluk nie na my kant toe gekom nie. Dit was nie meer as 120 treë nie en ek het besluit om my selfopgelegde beperking van 100 treë die een keer opsy te skuif, want daar was 'n lekker dooierus beskikbaar en ek was seker ek sou nie mis skiet nie. Die ram het egter die hele tyd tussen die ander bokke gebly, en ek wou geen kans waag om dwarsdeur hom te skiet en 'n ander bok te kwes nie. Toe Dries se skoot 'n paar honderd treë verder klap, het hulle weggespring met my dadelik agterna. Alhoewel ek soms so naby as twintig treë van hulle af was, is die bosse daar só ruig dat ek nie 'n skoot ingekry het nie.
Intussen het Hendrik en een van die plaaswerkers wat by hom was ook op 'n paar blesbokke afgekom en synde die beste skut van ons almal, kon hy op 70 treë een netjies met 'n bladskoot neertrek. Nommer twee was plat. Nommer drie sou ook sommer net daarna sneuwel toe Hendrik, sonder dat hy dit so beplan het, 'n mooi springbokram platskiet. Ons het almal opdrag gekry om waar en wanneer ons springbokke raakloop, een te probeer skiet, want dit was die één boksoort wat ons nie spesifiek voor sou soek nie, maar so tussen die ander sou probeer kry. Net nadat Hendrik die blesbok geskiet het, het hy in die pad afgestap om die bakkie wat 'n ent daarvandaan gestaan het te gaan haal, toe die springbokram teen die hangetjie links van hom uitkom en vir 'n oomblik gaan staan, skaars 60 tree ver. Die ou lang Westley Richards het net een keer gepraat en nou het nog net die moeilikste oorgebly, 'n koedoebul.
Hiervoor sou ons na 'n heel ander deel van die plaas gaan, want ná die baie skote van die oggend sou geen selfrespekterende koedoe nog in die omgewing gebly het nie. Na 'n baie laat middagete het ons weer die pad gevat. Die son was al redelik laag en ons sou net een of twee draaie maak waar Hendrik geweet het daar 'n mooi bul hou. As ons niks sien nie, sou ons tevrede wees met die drie soorte wat reeds geskiet is.
Hendrik het sy Martini vir nog 'n lid van ons geselskap, André Horak, gegee sodat hy ook kon probeer om met die antieke geweer iets te skiet. Ons het vir André afgelaai om onder in 'n laagte stelling in te neem terwyl ons met die Land Rover verder ry tot waar ek sou afklim. Ons was nog nie 500 treë verder nie, toe 'n koedoebul 'n ent bokant André teen die hang uithardloop. Hy het duidelik nie van André geweet nie en het net vir ons in die voertuig dopgehou. Terwyl hy vir ons staan en kyk, het André vinnig agter die beskutting van 'n kol bosse nader gegaan. Ons het doodstil gesit maar kon nie glo dat André nie skiet nie. Dit was egter weer die digte bosse wat gemaak het dat hy nie 'n oop skoot kon kry nie. Toe hy uiteindelik 'n oop skootsveld kry, moes hy vinnig skiet. Hier het die trajek van die stadige ou koeël hom in die steek gelaat. Die bul was verder as wat hy gedink het. Die skoot wat vir die blad bedoel was, het die koedoe se been net onder die blad gebreek. Nou moes ons gou speel en ek en Hendrik (hy met sy .308 om as versekering te dien) het dadelik van die Land Rover afgespring en skuins vorentoe gehardloop om die gekweste bul te probeer afsny, maar hy was te vinnig vir ons en het in 'n digte kol pendorings verdwyn.
Ons het dadelik die bloedspoor gevat en met 'n groot gesukkel deur die doringbosse beweeg. Toe ons weer in die oopte kom, het die bul voor ons weggespring waar hy agter 'n bos gestaan het. Hy was swaarder gekwes as wat ons gedink het en toe hy 'n ent verder weer gaan staan, het ek plat op die grond gaan sit en versigtig korrel gevat. Toe die skoot klap, het Hendrik wat reg agter my gestaan het geskree dat hy die vlug van die koeël kon sien en dat dit reg agter die blad was. Dit is 'n baie interessante verskynsel wat ek al op die pistool-skietbaan gesien het dat 'n mens die beweging van 'n redelike stadige koeël deur die lug kan sien. Die bul se adrenalien was nou egter só hoog dat hy weer weggespring het. André, wat 'n baie ver ent moes hardloop, was stokflou toe hy by ons aankom, maar toe die bul 'n entjie verder weer gaan staan, het hy hom doodgeskiet. Een van die koeëls (sien foto) het ons onder die vel van die regterblad gekry.

Byskrif: Die Martini-doppie, koeël en die punt wat uit die koedoe gehaal is.
Dit is waarskynlik die koeël waarmee André die bul doodgeskiet het, wat beteken dat dit deur die ribbes, longe en 'n blad gegaan het. Die oorspronklike gewig was 510 grein en die stuk wat ons gekry het, het 234 grein of 45,9% van die oorspronklike geweeg. Ek het eers gedink die koeël het middeldeur gebreek, maar nadere ondersoek laat my dink dat die draaibeweging van die koeël soos dit deur die bene gepenetreer het dit letterlik afgeslyt het.

Byskrif: Andre Horak met die koedoebul.
Ons het Hendrik se droom om die vier wildsoorte op een dag met die ou gewere te skiet, verwesenlik. Alhoewel ek self eintlik niks geskiet het nie, was dit 'n onvergeetlike ondervinding.
5 Desember 2006