
As die gemsbokke soos dié op die foto hiernaas vir jou 'n kans gee, is daar nie nog tyd om te wonder watter geweer, watter patrone of watter kaliber sal die beste wees nie. Dan moet jy binne sekondes skiet of die kans is verby. Tog is bogenoemde die drie vrae wat seker deur elke skut ten minste een keer in sy of haar lewe gevra word.
En, hoe meer gewere jy reeds besit, hoe moeiliker raak die vrae oor:
Alhoewel ek al op ander plekke hieroor geskryf het, het die baie kere wat die vraag die afgelope tyd gevra is, my laat besluit om weer daaroor iets te sê. Dit is veral die kaliber en die soort geweer wat ter sprake is, want baie manne en vroue moet nou met die nuwe Wapenwet besluit watter een of twee van die verskeie gewere wat hulle besit, hulle wil herlisensieer en watter gewere verkoop of dalk selfs vernietig moet word. Nie almal wil registreer as toegewyde jagters nie en moet daarom besluit watter gewere behou sal word.
Ek moet net gou so 'n bietjie afwyk. Toe ek nou net my speltoetser gebruik, herken die rekenaar nie die woord "wapenwet" nie en vra of dit nie "vaspenwet" moet wees nie. 'n Beter beskrywing vir die nuwe wet sou ek nie kon uitdink nie. Ons arme vuurwapen-liefhebbers word inderdaad deur die wet vasgepen.
Ek sal so half verkeerdom by die derde vraag begin en in twee volgende artikels die ander twee vrae onder die loep neem. Watter geweer moet ek koop, of dan in die geval van herlisensiëring, behou?
Om oor die verskillende soorte aksies soos enkelskoot, slot-aksie, dubbelloop, hefboomaksie ens te probeer antwoord, is 'n haas onbegonne taak. Elke aksie het sy aanhangers en elke aksie het sy plek in die skietwêreld en jagveld. Omdat die grootste gros van ons gewone jagters en skuts nie een van die ander aksies gebruik nie, sal ek die veld verskraal tot slot-, of soos dit ook genoem word, grendel-aksies.
Verder wil ek ook nie eers raak aan die veld van versamelaarsitems en eksotika nie, want ek weet daar hopeloos te min van. Wat ek wel vir diegene wat moet herlisensieer kan sê, is dat die meeste dubbelloop-gewere redelik baie werd is. Dit geld ongelukkig nie alle dubbelloop-haelgewere nie, want daar kan die prysklas wissel van 'n duisend of wat tot honderdduisende rande.
Moet tog asseblief net nie enige geweer maar net inhandig om vernietig te word nie. As jy nie self kennis het nie, vat dit na 'n wapenkenner wat kan vasstel of dit nie dalk werklik 'n besondere versamelaars item is nie. Die ou verwaarloosde wapen mag dalk net van groot historiese waarde wees.
By die koop van 'n nuwe geweer geld die geykte reël seker ook maar om die beste te koop wat jy kan bekostig en vir my is dit ook baie belangrik om te koop waarvan jy hou. Dit help nie jy koop 'n geweer omdat dit 'n bekende fabrikaat is, maar jy hou nie van die geweer nie of dit pas jou nie. Die geweer moet in jóu smaak val. As jy van 'n blink kolf met 'n wit spasiërder hou, koop hom, al sal die puriste wat van klassieke kolwe en Londen olie-afwerking hou, dalk die aapstuipe kry. Ek voel deesdae die lewe is werklik te kort om goed te koop om ander mense mee te beïndruk of wat hulle smaak pas. Ek koop wat ek graag wil hê, al sal die geweersnob dalk sy neus daarvoor optrek.
Die belangrikste is om 'n geweer van goeie gehalte te koop en veral een wat jou liggaamsbou pas. Ons kan nie almal pasmaak gewere laat bou nie, maar jy hoef ook nie lewenslank met 'n geweer te sukkel wat jou nie goed pas nie. Die grootste fout wat 'n mens kan maak is om 'n geweer te koop wat jou nie pas nie, maar omdat dit 'n groot winskoop is, kan jy dit net nie laat verbygaan nie. Betaal liewer meer vir 'n geweer waarmee jy jou lewe lank lekker sal skiet.
Vir die wat moet besluit watter geweer herlisensieer moet word, geld baie van wat hier bo gesê is ook, maar 'n verdere saak wat bykom, is sentiment wat dalk 'n groot struikelblok kan wees. Hier is my raad om liewer die goeie bruikbare geweer wat jou pas te behou as oupa se erfstuk waarmee jy nog nooit eers die waenhuisdeur kon raakskiet nie. As oupa se erfstuk vir 'n versamelaar iets werd is, kan jy dit liewer verkoop.
Ons is, dank vader, nie almal dieselfde gebou nie, maar dit veroorsaak natuurlik dat een geweer nie almal ewe goed pas nie. Hoe weet ek of die geweer my pas? Gewoonlik het geweerbouers verskillende maniere hoe hulle vasstel of 'n geweer jou pas, maar ons is nie almal gerieflik naby aan 'n kenner wanneer daar oor die geweer besluit moet word nie. Die beste raad is om die geweer soveel moontlik te hanteer. Voel of die balans vir jou reg voel. Lê aan uit al die moontlike posisies waaruit 'n mens kan skiet soos staan, sit en lê. Die geweer moet in al hierdie posisies gemaklik voel en jy moet in elke posisie die visiere of teleskoop maklik op die teiken kan kry.
As jy jou kop in 'n ongemaklike posisie moet hou of jou nek moet rek om deur die teleskoop te kan kyk, pas die geweer jou duidelik nie goed nie. Ek het vir jare lank met 'n P14 wat na 'n 30-06 omgebou is geskiet, maar omdat die militêre kolf behou is, het ek altyd ongemaklik gevoel. Dit was eers nadat ek 'n kolf laat maak het dat die geweer lekker begin skiet het, en ek skiet vandag nog met hom. Verder moet die lengte van die snellertrek ook gemaklik wees. As jy lang arms het is 'n afstand van 36cm gewoonlik gemaklik en korter arms twee sentimeter korter. Die probleem kan gelukkig opgelos word deur 'n dikker skokrubber op te sit as die afstand te kort is en 'n stukkie van die kolf af te sny of 'n dunner skokrubber aan te bring as die kolf te lank is.
Iets wat baie skuts vergeet is dat die afstand van die handgreep na die sneller toe ook belangrik is. As die handgreep redelik ver na agter is en jou hand is stewig met kort vingers, gaan jy nooit die sneller gemaklik trek nie en omgekeerd as jy lang groot hande het met 'n handgreep wat naby die snellerbeuel lê. Verder moet die kam of bokant van die kolf so hoog wees dat jy gemaklik deur die teleskoop of visiere kan kyk.
Laastens raai ek aan dat jy by die koop van 'n nuwe geweer soveel moontlik gewere moet hanteer om seker te maak wat pas jou, wat voel vir jou reg en waarvan hou jy. Op die foto hierby (wat deur die skrywer se Great Dane, Alex, opgepas word) van die gewere kan duidelik gesien word dat die een 'n klassieke kolf het en die ander een 'n wangstuk. Albei behoort aan die skrywer en skiet baie lekker. My persoonlike smaak is egter die klassieke reguit kolf, maar die belangrikste is of dit jou gemaklik pas.

Ek weet dat sommige geweerwinkels nie hou van ouens wat al die gewere wil hanteer en daarmee op die vloer wil lê en sit nie, maar dit gaan dalk jou enigste geweer wees waarmee jy jare lank lekker wil skiet. As jy die veld dan vernou het tot een of twee, moet jy vra dat 'n teleskoop tydelik gemonteer word, sodat jy die gevoel kan kry van die geweer met die teleskoop. Soms gebeur dit dat die geweer sonder teleskoop lekker gebalanseerd voel, maar met die teleskoop op skielik lomp is. Neem jou tyd om die regte een uit te soek en jy sal nooit spyt wees nie, want 'n geweer waarvan jy hou en wat jou goed pas, is 'n goeie vriend jou lewe lank.
29 Maart 28 Mei 2007