Gedink jou oupa se ou voorlaaier wat nog in die Anglo Boere-oorlog gebruik is, sal maar in die kluis moet bly? Moenie glo nie. As jy 'n passie het vir gewere en daarvan hou om teiken te skiet en selfs te jag, dan het jy 'n nut vir daardie ou wapen!
Sluit aan by die Die Internasionale Voorlaaierskietvereniging en plaas jouself terug in die geskiedenis, maar hierdie keer nie om jou gesin en eiendom te beskerm nie, maar om deel te wees van een van die vinnig groeiende sportsoorte in Suid-Afrika: Voorlaaierskiet! Die internasionale voorlaaierskietkompetisie - met trots aangebied deur die Suid-Afrikaanse Biskruitunie (Black Powder Shooting Union - BPSU) - word vanaf 1 tot 8 September by die De Goede Hoop-skietbaan in Kaapstad, gehou.
Dit is die tweede keer wat hierdie internasionale gebeurtenis op Suid-Afrikaanse bodem aangebied word. Behalwe vir die Suid-Afrikaners, neem lande soos die VSA, Frankryk, Swede, Noorweë, Switserland, Duitsland en Engeland vanjaar deel. Voorlaaierskiet word ook as 'n sport deur die Suid-Afrikaanse Olimpiese Komitee erken.
Daar word jaarliks kort- en langafstandskietkompetisies aangebied. Slegs die VSA, Brittanje en Suid-Afrika het egter die fasiliteite om 'n langafstandskietkompetisie aan te bied en dis dan ook een van die redes hoekom die bod aan Suid-Afrika toegeken is vir hierdie jaar se kompetisie.
Die Suid-Afrikaanse span is op Vrydag, 16 Augustus 2007 aangewys. Corena de Beer, die enigste vrou in die span, se kundigheid met die voorlaaiers is merkwaardig en daar is groot verwagtinge oor haar prestasie vir die kompetisie. Die jongste persoon in die span, Jason di Bono, is slegs 19 jaar oud en is reeds 'n uitstekende skut waarmee rekening gehou moet word. Die span is op meriete gekies en elke skut moes dus sy/haar plek met akkurate skietwerk verdien.
Volgens die spankaptein en ook voorsitter van die BPSU, Merwe van Rensburg, sien almal baie uit na die kompetisie. "Die sport het reeds in 1958 posgevat toe nege entoesiaste die Historiese Skietvereniging van Suid-Afrika in Kaapstad gestig het. Van toe af het dit net gegroei en vandag is daar meer as 320 professionele skuts in ons land."
Wat hierdie kompetisie so uniek maak, is dat slegs historiese wapens gebruik mag word. Vernuftige hantering van die wapen en akkuraatheid is die belangrikste eienskappe van die kompetisie. Elke keer wat 'n skoot gevuur moet word, is daar 'n paar voorafgaande stappe: gooi die kruit voor by die wapen in, druk dit vas, sit die wolprop in, dan die koeël, kry jou posisie, mik na die teiken en vuur. Dan moet 'n mens weer deur die hele proses gaan voordat die volgende skoot gevuur kan word. M.a.w. nie alleen akkuraatheid nie, maar ook spoed, sal bepaal hoe goed jy in die kompetisie kan vaar. Wapens word voor elke kompetisie geinspekteer. Elke land wys 'n persoon aan wat deel van die span vorm wat die inspeksies uitvoer. As jy nie 'n wapen geërf het nie, dan mag jy 'n nuutvervaardigde wapen gebruik. Laasgenoemde moet egter in die gees van die oorspronklike vervaardig wees, m.a.w 'n presiese replika van die oorspronklike, selfs in die metodes van vervaardiging.
Volgens Johan Vosser, direkteur van EcoFauna Africa, amptelike borg van die kompetisie, is die kompetisie nie alleen daar is om die beste skut te bepaal nie. Dit gaan ook oor bewusmaking van die sportsoort in die hoop dat al hoe meer persone deel daarvan sal word. "Ons hoop dat al hoe meer mense sal besef wat die waarde van hul historiese wapens is en dat hulle deur middel van hierdie hedendaagse sportsoort ook op hierdie manier ons land se geskiedenis kan vereer."
Merwe van Rensburg is reeds vanaf 1981 by skyfskiet betrokke en het later by voorlaaierskiet betrokke geraak. Beide sy kinders deel sy passie. Velmé, Merwe se dogter, is vanjaar 19 en skiet reeds saam met haar pa vanaf die ouderdom van 9 jaar! Net nog 'n bewys dat hierdie sportsoort vir enige iemand 'n uitdaging kan wees. Die kompetisie word vanjaar amptelik geborg deur EcoFauna Africa, 'n vol filiaal van Vleissentraal, en 'n maatskappy wat hulle daarop toespits op omgewingstoerisme, toere en jagekspedisies te reël.
3 September 2007