Landbou

Een van die deelnemers aan die voorlaaier-kampioenskap in Kaapstad. Foto verskaf
Soortgelyk
Voorlaaier-skuts laat waai


Die internasionale voorlaaierskietkompetisie wat in September by die De Goede Hoop-skietbaan in Kaapstad ten einde geloop het, het verskeie wêreldrekords opgelewer.

Die kompetisie, wat tweejaarliks aangebied word, is hierdie jaar in Kaapstad aangebied omdat die De Goede Hoop-skietbaan een van slegs drie bane in die wêreld is wat die langafstandkategorie kan akkommodeer. Middelafstande van 300, 500 en 600 meter is geskiet terwyl die langafstandskiet op 800 en 900 meter geskiet word. Die kompetisie is amptelik geborg deur EcoFauna Africa, 'n vol filiaal van Vleissentraal. Laasgenoemde is reeds vanaf 1932 by landbou in Suid-Afrika betrokke.

Individuele prestasies
Die individuele presteerders was Josef A Ruoss van Switserland op middelafstand en die individuele langafstandpresteerder was Lee Shaver van Amerika.

Die Suid-Afrikaners het verskeie rekords opgestel. Japie Maritz het 'n nuwe wêreldrekord in die 500 meter opgestel met 'n totaal van 48 uit 50 met 3 V-kolle. Die jongste lid van die span, Jason di Bono, het ook 'n nuwe wêreldrekord opgestel in die 700 meter met 'n totaal van 47 uit 50 en 4 V-kolle.

Lee Shaver van Amerika was die algehele wenner met Japie Maritz in die tweede plek.

Wat die individuele kategorie betref, was dit die Suid-Afrikaner, Kobus de Villiers wat as wêreldkampioen uit die stryd getree het met sy uitsonderlike vaardigheid met 'n oorspronklike wapen.

In spanverband het die Suid-Afrikaners as kampioene uit die stryd getree toe hulle die eerste plek verseker het in beide die middel- en langafstandkategorie. Dit is interessant om te noem dat die Suid-Afrikaanse span na die 800m skiet in die tweede plek was met Amerika in die eerste plek. Die span het die agterstand op die 900 meter ingehaal en 'n nuwe wêreldrekord opgestel! Die vorige rekord van 409 met 10 V-kolle is deur Amerika in 2005 opgestel.

Die finale uitslag was as volg:
Middelafstand
1e - Suid Afrika - 486 met 19 V-kolle
2e - Frankryk - 455 met 10 V-kolle
3e - Amerika - 439 met 8 V-kolle
4e - Engeland - 433 met 11 V-kolle
5e - Switserland - 425 met 13 V-kolle
6e - Noorweë - 339 met 9 V-kolle
7e - Duitsland - 241 met 10 V-kolle
8e - Swede - 206 met 5 V-kolle

Langafstand
1e - Suid Afrika - 424 met 16 V-kolle - Nuwe wêreldrekord
2e - Switzerland - 393 met 21 V-kolle
3e - Amerika - 390 met 11 V-kolle
4e - Frankryk - 373 met 12 V-kolle
5e - Engeland - 306 met 4 V-kolle
6e - Noorwee - 269 met 1 V-kolle
7e - Swede - 218 met 3 V-kolle
8e - Duitsland - 206 met 3 V-kolle

Die Suid Afrikaanse span het bestaan uit:
Merwe van Rensburg - Middel- en Langafstand (kaptein)
Japie Maritz - Middel- en Langafstand
Tersius Smit - Middel- en Langafstand
Casper Badenhorst- Middelafstand
Kobus de Villiers - Langafstand
Willie de Beer (Afrigter)

19 September 2007