Die heel eerste keer wat ek springbok biltong geëet het, was ook die dag wat my groot liefde vir dié boksoort begin het.
Dit is nou al meer as veertig jaar later en nog steeds bly dit vir my van die lekkerste biltong en bly dit een van die lekkerste bokke om te jag. My werk neem my dikwels die platteland in en na al die jare en letterlik duisende springbokke wat ek al gesien het en die talle wat ek al geskiet het, bly dit nog die boksoort wat my langs die teerpad laat stop om sommer net te kyk hoe 'n troppie wei en speel.
In die Noord-Kaap waar ek langs die Grootrivier grootgeword het, was dit maar die enigste boksoort wat baie voorgekom het. Oom Hans van der Westhuizen het gemsbokke gehad wat soms naby die pad gesien kon word, maar springbokke was maar die mees algemene. Dit was egter tien jaar na my eerste proe van springbokbiltong dat ek my eerste eie een in wat toe Suidwes-Afrika was, kon skiet.
Springbokke kom deesdae oral voor op wildplase en ook plase wat vir gewone boerdery gebruik word, selfs in gebiede waar hulle nie van nature voorgekom het nie. Hulle natuurlike habitat is die droër dele van die land soos Namibië, die Kalahari, Noordweste en Karoo. In die middel van die negentiende eeu het nog van die geweldige groot migrasies van springbokke voorgekom waar letterlik miljoene bokke in 'n oneindige stroom oor die vlaktes sigbaar was. Verhale bestaan van trekkers en jagters wat met hulle waens soos in 'n eiland vasgekeer is terwyl die stroom bokke vir twee of drie dae rondom hulle verbytrek. Eddie Young noem in sy boek "African Wildlife and Safari Guide" dat so 'n trop bokke oor 'n afstand van sestig kilometer en verder gestrek het. Groot slagtings het soms ook by sulke geleenthede plaasgevind waar hope bokke doodgeskiet is en slegs 'n klein hoeveelheid vleis benut is.
Op 23 Oktober 1843 vertrek R Gordon Cumming op 'n jagtog na die binneland van Suider Afrika. Hy beskryf sy avonture in 'n boek getiteld "A Hunter's Life in South Africa". Hy het self ook van die migrasies waargeneem en sê dat dit vir iemand wat nie die toneel met sy eie oë gesien het nie, na 'n liegstorie klink. Dit is fassinerend om te sien wat hy alles as voorraad op die tog saamneem, maar dit is nie hier ter sprake nie behalwe om te kyk na sy wapens. Dit sluit in drie dubbelloopgewere deur Purdey, William Moore en Dickson met laasgenoemde 'n tweegroef geweer wat hy as die mees bruikbare van al sy gewere noem. Verder 'n swaar Duitse geweer, 12 op die pond, of te wel 12 boor. Hierbenewens het hy nog drie gewone sterk dubbellope gehad wat vir die rowwe toestande gebruik sou word. Hy neem ook koeëlvorms, lood, 10 000 reeds gegote koeëls, 300 pond growwe kruit en 50 000 slagdoppies, asook 2000 vuurklippe saam, wat beteken dat sommige van sy roers nog van die vuursteentipe was. Verder is daar loodhael van verskillende groottes en 50 pond pewter om die koeëls waarmee hy die grootwild wou aanpak te verhard.
Daar is gewoonlik drie maniere waarop springbokke gejag word en ek het al drie beproef. In hierdie artikel kyk ons na die eerste twee en volgende keer na die derde. As 'n mens lees wat Gordon Cumming oor springbokjag skryf, sien jy dat hy ook op die drie maniere gejag het. Hy noem dat baie van die boere 'n trop windhonde gehad het waarmee hulle baie groot sukses met die jag van springbokke gehad het, maar dit is 'n metode wat geen jagter seker meer vandag gebruik nie. Dit lyk ook nie of hy self ooit daarvan gebruik gemaak het nie. Ons frons dalk vandag oor dié "onetiese" manier van jag, maar dan moet ons onthou dat ons na 'n heel ander era meer as 150 jaar in die verlede kyk. Cumming het vir sport gejag en soms het die boere dit ook gedoen, maar merendeels het laasgenoemde gejag vir vleis, velle en horings en dan het die metode nie veel saak gemaak nie.
My heel eerste bok het ek vanaf 'n bakkie geskiet. Dit was meer as dertig jaar gelede en in die suide van Namibië was dit toe, soos ook nou nog, die mees praktiese metode as jy op een dag 'n hele paar bokke moet skiet. Plase is daar tot 20 000 hektaar groot. Ek het al op ander plekke gejag waar die hele plaas kleiner is as een kamp op 'n Suide-plaas. My swaer se wildkamp is byvoorbeeld 1260 hektaar groot. "Bakkiejag" is ook nie iets nuuts nie. Toe Gordon Cumming die eerste keer springbokke in die omgewing van Somerset-Oos gewaar, het hy dadelik twee perde opgesaal en soos volg berig: "I rode forth with Cobus, taking my two-grooved rifle to endeavour to obtain a shot. I found them extremely wild, and after expending a considerable deal of ammunition, firing at distances of from six to eight hundred yards, I rejoined my waggons, which I found drawn up on a Dutchman?s farm, and left the antelope scathless". Die ou jagters het dikwels vanaf hulle perde (ons bakkies) geskiet. Ek kan amper vir Cumming sê: "welkom by die klub" want die Namibiese bokke wat ek ken is meestal ook bitter wild, maar ek sou ook vir hom kon sê om met 'n voorlaaier (of selfs 'n moderne geweer met teleskoop) op seshonderd en agthonderd treë 'n springbok te probeer skiet, is wensdenkery. Óf hy het regtig sulke haas onmoontlike skote probeer, óf hy het afstand bitter swak geskat.
Die tweede en mees algemene manier om springbokke te jag is om hulle voor te sit. Salomo sê daar is niks nuuts onder die son nie en so is die voorsit metode natuurlik nie 'n moderne uitvindsel nie maar dit kom uit die oertyd en word al gebruik so lank as die mens jag. Ook Cumming het gou by die boere in die omgewing geleer hoe om springbokke voor te sit. Op pad na wat hy "Thebus Mountain" noem, dit wil sê daar tussen Hofmeyer en Steynsburg sit hy en 'n boer met die van Strydom die springbokke voor, maar laat hy liewer self praat: "...having breakfasted, we shouldered our roers, walked nearly a mile across the plain, and took up positions behind two very low bushes, about three hundred yards apart, having instructed our Hottentots to endeavour to drive the springboks towards us." Hy skiet daar 'n ooi en 'n paar dae later lê hulle weer die springbokke in 'n nekkie voor waar hy 'n mooi ram op die blad skiet. Die ram hardloop vyftig treë en val dan dood neer. Hy sou die metode daarna nog dikwels gebruik.
Voorsit jag is maar oral min of meer dieselfde met net so 'n paar kleiner verskille. Die heel eenvoudigste manier is wat ons by my swaer op die plaas in Namibië doen. Hy laai my iewers in die veld af en ry dan self 'n paar draaie om die bokke te roer. Ek soek 'n geskikte plek by 'n bos of kliprif waar ek kan skuil en sorg dat die son nie op die geweerloop blink nie. Die windrigting is nie hier veel ter sprake nie omdat ek gewoonlik so sit dat ek reg rondom my kan skiet en die bokke dus ook van enige kant af kan kom. Alhoewel 'n mens in daardie wye wêreld nie baie bokke op die manier skiet nie, het ek darem al 'n paar so gekry, maar dit vra lank sit en baie geduld.
Die tweede manier is die algemene een waar 'n paar skuts op spesifieke plekke geplaas word en aan elkeen 'n bepaalde skietvak toegeken word. Werkers te perd of deesdae per motorfiets beweeg dan in die kamp rond om die bokke in die rigting van die skuts te laat beweeg. Soms is dit 'n heel eenvoudige saak waar elke skut sy eie skietstokke of dalk 'n Harris tweepoot bring asook sorg vir sy eie toebroodjies en koffie. Ander is heel spoggerige geleenthede met die skuts in skietstoele en waar daar met tweerigting radio?s gekommunikeer word. Middagete is dan ook dikwels 'n lekker braaiery daar in die veld. Een aand na so 'n jagtog het die boer vir ons 'n lekkerny gehad. Skaapstertjies is net so met wol en al in die vuur gegooi en dan dop jy die gaar stukkie uit die gebrande wol en smul te heerlik. In die donker sien ek toe nie mooi nie en hap die eerste stertjie met wol en al. Ek moes later 'n groot sluk brandewyn by een van die ander jagters bedel net om die aaklige smaak van die gebrande wol uit my mond te probeer kry. By so 'n voorsitjag tree ek gewoonlik afstande van 100 en 200 treë af en merk dit onopsigtelik. 'n Mens moet maar oppas vir 'n groot bol wit toiletpapier as merker in 'n bos, want die bokke met hulle baie goeie sig, sien dit maklik en hou wyd verby. Gebruik liewer 'n klip of opsigtelike stuk hout.
Wat baie belangrik is met voorsitjag is die veiligheidaspek. Jy moet mooi kyk wat jou skietvak is sodat jy nie ander jagters raakskiet nie. Verder moet jy gedurig bewus wees waar die aanjaers is. 'n Mens kan so konsentreer op die bokke dat jy vergeet om op te let waar die aanjaers is en dit is 'n baie soberende ervaring om op 'n bok aan te lê en skielik verskyn daar agter die bok 'n man te perd of op 'n motorfiets. Dit gee jou 'n koue gevoel wat jy nie sommer weer vergeet nie. Bly ook op jou sitplek sit en moet nie in die veld rondloop nie, want dan kan jy dalk raakgeskiet word deur 'n ander jagter wat nie weet jy is nie meer op jou aangewese sitplek nie.
Sommige puriste frons oor die voorsitjag, maar ek het dit nog altyd baie geniet. As jy dit nog nie gedoen het nie, probeer dit gerus. Die skrywer P H Nortjé het 'n kostelike storie geskryf oor so 'n jag in die Karoo. Dit is die moeite werd om te lees. Ongelukkig kan ek nie onthou in watter een van sy boeke dit voorkom nie.
Landbouweekblad, 04 Oktober 2007