Landbou
Die 'regte' manier van jag
Deur BEN FOURIE

Die derde metode is natuurlik die lekkerste en bring die grootste bevrediging, maar is ook die moeilikste.

'n Springbok in die oop wêreld is nie 'n maklike ding om te voet te jag nie. Gordon Cumming het eerstehands gevind hoe moeilik dit was om die bokke te perd te jag en toe hy 'n dag of wat later weer nie nader as vier of vyfhonderd treë aan die bokke kon kom nie, het hy in sy eie woorde: "...I left my horses and afterrider and set off on foot to a low range of rocky hills, where I performed two difficult stalks upon a springbok and a wildebeest, both of which I wounded severely, but lost. When stalking in upon the springbok I took off my shoes, and had very great difficulty in finding them again. " Dit was hierna dat hy geleer het om die bokke voor te sit.

Nadat ek vir 'n paar jaar lank op skoonpa se plaas meestal vanaf die bakkie en soms met voorsit gejag het, wou ek ook bitter graag te voet jag. Ek het nou ernstig begin lees veral ook dr Lucas Potgieter se rubriek ook jag en gewere in Landbou Weekblad. Hier en op ander plekke het ek gelees van te voet jag en ek wou ook graag op hierdie "regte" manier jag, maar dit sou eers 'n paar jaar later gebeur toe ek op Graaff-Reinet gewoon het en baie koedoes en rooiribbokke te voet gejag het.

Hierna was dit my droom om 'n springbok in Namibië te voet te jag. Alhoewel hy baie graag saam met my in die berge te voet agter die ribbokke aangegaan het, het my swaer gedink ek is 'n bietjie mallerig om in hulle wye oop wêreld te voet te probeer springbok jag, maar hy het my tog darem in die veld gaan aflaai.

Na baie rantjies op en af en sandriviere deur, het ek skielik gesien hoe 'n bok teen 'n rantjie by 'n oop plek in die draad deurgaan en gaan staan. My korrel was in en die bok het net daar geval. Groot was my teleurstelling toe ek daar kom en in plaas van die verwagte mooi ram, 'n oeroue ooi kry. Sy was brandmaer en die rede was baie duidelik toe ek in haar bek kyk. Ek dink dit is redelik seldsaam dat 'n springbok so oud word dat die tande so totaal afslyt, maar dié een s'n was al so afgeslyt dat sy nie meer veel kon vreet nie. Die lengte van die horings was besonder lank vir 'n ooi, seker maar omdat sy so oud was, en dit het my met die haastige aangooi en skiet geflous en laat dink dit is 'n ram.

Die tweede te voet bok in Namibië was heeltemal onbepland. Ons het die dag nie beplan on veel te jag nie, maar het sommer net in die veld rondgery om na die wild te kyk. Omdat dit die gebruik is om maar altyd gewere saam te neem vir die onverwagse jakkals of rooikat wat jy kan teëkom, het ek my .243 by my gehad. Toe ons al wou omdraai huis toe, het ek 'n skoot op 'n paar springbokke probeer. Almal het gedink dit is mis, maar ek was redelik seker dat dit 'n raakskoot was.

Net toe begin die Landrover probleme gee sodat ons daarmee in die pad kon ry, maar glad nie in die veld nie. Ons het 'n paar druppels bloed gekry waar ek op die bok geskiet het en swaer Koot het die vrouens met die Landy huis toe gestuur om die ander bakkie te gaan haal terwyl ons die bloedspoor volg. Die bloed was egter so min dat ons na 'n rukkie die spoor heeltemal verloor het, want dit is so klipperig dat jy maar baie sukkel om 'n gewone spoor te hou en as dit eers met die van ander bokke deurmekaar raak, is dit gans onmoontlik. Ons het besluit het om maar op die geluk af 'n paar draaie te stap en te kyk of ons nie die bok kry nie. Die paar draaie het spoedig 'n kilometer of drie geword en net toe ons oor 'n riffie stap het die "kwesbok" reg voor ons opgespring. Die aangooi en snellertrek was een beweging en die bok het net daar geval. Ek was uiters verlig dat ons die kwesbok gekry het, maar swaer Koot het verbaas gevra hoekom ek die bok geskiet het. Dit was nie die kwesbok nie, maar 'n pragtige groot ram wat niks makeer het nie. Die volgende skok was dat ons op die plek amper drie kilometer ver van die naaste punt was waar jy met 'n voertuig kon kom.

Swaer Koot het aangebied om my geweer te dra, en nadat hy my gehelp het om die bok op my skouers te kry, het die swaar dra begin. Die aand was ek behoorlik moeg van "te voet" skiet, maar daar was 'n groot bevrediging ná die harde werk. Die volgende dag is die kwesbok gekry. Hy het 'n skoot baie hoog deur die skof gehad en sou waarskynlik oorleef het, maar ek was bly dat hy gekry is, want daar is niks wat my jag so bederf as 'n kwesbok wat nie gekry word nie.

Die laaste jaar of so het daar ook meer jagters by hom gekom wat te voet wil jag. Die afgelope seisoen was daar 'n man en vrou kombinasie wat ses springbokke en twee gemsbokke te voet gejag het. Die metode het 'n bietjie van myne verskil waar ek graag heeltemal alleen te voet rondloop en soek na bokke. Hulle het saam met die bakkie gery en wanneer die wild gewaar is, afgeklim en die wild dan te voet bekruip. Dit kan 'n mens alleen doen as jy bereid is om vir vyf dae daar te bly en die koste daaraan te betaal.

Watter kaliber die beste is vir springbokke?

Gordon Cummings het sy tweegroef dubbelloop gebruik. Ongelukkig weet ons nie wat die kaliber was nie, maar wat ons wel weet is dat hy dit sy bruikbaarste geweer noem, waarskynlik omdat dit akkurater was as die ander en dit is natuurlik nog steeds die belangrikste kriteria. Springbokke se doodmaak area is klein en jou geweer moet baie akkuraat wees.

Persoonlik het ek die meeste springbokke met 'n .243 geskiet, maar enige geweer met 'n redelike plat trajek soos 'n .270, 25-06, 7x64 is natuurlik uiters geskik, behalwe as jy op korter afstande lyfskote skiet, want dan mors die vinnige kalibers soms baie vleis. In die Karoo het ek nog selde met voorsitjag nodig gehad om skote verder as 200 treë te skiet sodat selfs ander kalibers soos die .308 en 7x57 heeltemal goed werk. Ek het al gesien hoe 'n jagter wat mal is oor die groot kalibers springbokke met 'n .375 H&H en soliede koeëls jag en hy het baie groot sukses daarmee gehad, maar dit is natuurlik die uitsondering en nie vir elkeen nie.

'n Jagter het onlangs by swaer Koot met 'n .338 Magnum opgedaag en alles, vanaf gemsbok tot springbok baie suksesvol daarmee geskiet. Verder het ek ook al gesien hoe 'n goeie skut met 'n .22-250 baie goed vaar, maar dit beveel ek nie vir die gewone jagter aan nie. Die toestande en omstandighede kan ook bepaal waarmee 'n mens skiet. Verlede jagseisoen het ek net een dag gehad om te jag en toe ons die oggend opstaan, het 'n sterk wind gewaai. In plaas van die ligter kalibers, het Koot my sy 7mm Remington Magnum geleen en kon ek die wind ten spyt, vier mooi bokke plattrek. Die ander sou in die wind maar gesukkel het.

Daar is vanweë die kommersiële waarde van wild vandag waarskynlik baie meer springbokke in Suid-Afrika as dertig, veertig jaar gelede, maar natuurlik baie, baie minder as in Gordon Cumming se tyd. Die afgelope seisoen het my skoonseun en my jonger dogter se vriend ook elkeen sy eerste springbok in Namibië geskiet en ek hoop daar sal vir nog baie jare genoeg van hierdie sierlike bokke wees sodat ekself, my kinders en hopelik kleinkinders nog lank die vreugde sal hê om hulle te jag en hulle lekker biltong te geniet.

  • Ben Fourie is 'n geweer- en jagentoesias van Port Elizabeth. Kontak hom by tel. 041 364 1138 (w) of e-pos: fourie@biblesociety.co.za

    7 November 2007