
Die dag wat die eerste kerskaartjie in die posbus geland het was vir my as kind ook die dag wat die groot opwinding om te wag vir Kersdag en al die geskenke begin het. Die kerskaartjies van my kinderdae was soos ek kan onthou vir ons altyd baie interessant omdat dit tonele van sneeu en winter uitgebeeld het, tonele wat in die snikwarm Desember van die Noord-Kaap vreemd was, maar juis vanweë die vreemdheid het dit ons gefassineer.
Vader Krismis (net die grootmense het van Kersvader gepraat) met sy slee en takbokke was veral baie interessant, want hy was die een wat die geskenke gebring het. Strydig met dié boodskap van die dag van vrede, was daar op my kersfeeslysie maar altyd een of ander speelgoed geweer of rewolwer ter sprake. Die veel begeerde windbuks kon my ouers ongelukkig nooit bekostig nie. Die gedagtes aan Kersfees het my by Vader Krismis se bokke uitgebring. Springbokke het ek geken en steenbokke en by oom Koot in die Kalahari ook gemsbokke gesien, maar takbokke was vreemd en eksoties.
Die takbokke wat ons in Suid Afrika kry is natuurlik nie inheems nie, maar is waarskynlik reeds sedert 1869 in die land toe daar 'n klomp van hulle op die terrein van Newlands House in Kaapstad losgelaat is. Volgens sommige bronne het Cecil John Rhodes die eerste takbokke ingevoer en hulle by Groote Schuur gevestig, maar dit was waarskynlik lank na die eerstes by Newlands House gevestig is.
'n Ander baie bekende persoon wat ook takbokke op sy plaas Fairfield gevestig het, is P K van der Byl. Mettertyd is van die takbokke in die distrikte van Adelaide en Bedford in die Oos-Kaap gevestig van waar hulle self stadigaan na omliggende ares versprei het en nou reeds tot by Cradock en verder gejag word. My eie takbok jagte is in die omgewing van Cradock waar daar op verskeie plase goed gevestigde troppe van die bokke is. Daar is natuurlik mense wat nie tevrede is met hierdie vreemde spesie se teenwoordigheid in Suid-Afrika nie, maar ek glo dat as hulle getalle so beheer word dat hulle nie die inheemse wild verdring of die fynbos vernietig nie, dit 'n interessante ander soort spesie is om te jag. Verder is dit vir my natuurlik van die lekkerste wildsvleis wat jy maar kan kry.
Alhoewel ons almal bloot van takbokke praat, is dit natuurlik maar net een van die talle bokke met 'n sogenaamde gewei dws wat ons die horings by 'n gewone wildsbok sou noem. Hulle strek vanaf baie klein tot die reuse sogenaamde Amerikaanse eland of "Moose".
Ons takbokke is beslis ook nie Vader Krismis se rendiere nie, maar is van die spesie Dama dama (familie Cervus Dama) waar die Duitse naam Damhirch en die Hollandse damhert en natuurlik ons eie damhert afgelei is. Die damhert is oorspronklik deur die Romeine dwarsoor Europa gevestig en later ook in Engeland waar die voorsate van ons bevolking dan ook kom. Sommige is van mening dat hulle eers ongeveer die 11 de eeu na Christus deur die Noormanne in Engeland gevestig is, maar nuwer navorsing dui tog op die Romeine as eerste vestigers.
Hulle pas baie goed by verskillende omstandighede en selfs veldtipes aan en vreet gras, blare, bessies en kruiesoorte. Behalwe die ou groot ramme (hy is blykbaar op Engels nie 'n "stag" nie maar 'n "buck") waarvan die vleis vir my nes enige ander ou bokram ruik en smaak, het die ooie en jong ramme werklik baie lekker vleis en is dit die vetste wildsbokke wat ek nog ooit teengekom het. Ek maak baie selde biltong van so 'n bok en gebruik omtrent al die vleis vir eetvleis. Van die rugbiltonge en haasbiltonge maak ek sosaties en hou die boude heel. Die res is vir wors en pasteie.
Hulle is nie vreeslik moeilik om te jag nie en ek het hulle al gejag deur voor te sit, maar meestal deur maar te voet agter hulle aan te stap. Die heel eerste keer is ons met die bakkie die veld in en soos gewoonlik wanneer ek 'n nuwe spesie vir die eerste keer jag, was die opwinding baie groot. Tot op daardie stadium het ek nog nooit eers 'n lewende takbok gesien nie. Ons was nog nie ver weg nie toe ons die eerste paar ooie sien en nie lank daarna nie 'n mooi ram. Omdat ons nie vanaf die bakkie wou skiet nie, het ek my maar net verwonder oor die interessante bokke.
In 'n tweede kamp het ons afgeklim, maar my eerste takbokjag het rampspoedig begin toe ek sommer vroeg in die dag teen 'n steil helling gegly en my half bedwelm geval het. Ek het daarna maar bitter swaar gestap en net een skoot met die 30-06 gewaag. Dit was so ver mis dat my vermoede bevestig is dat die teleskoop 'n harde stamp met die vallery gekry het. So het my eerste takbokjag dan bokloos geëindig.
Daarna het ek hulle al baie dikwels gejag en die op die foto bo regs is die eerste ram wat ek 'n paar jaar gelede geskiet het. Hy was nie baie groot nie en beslis geen trofee nie, maar ons het die trofee bokke vir die trofeejagters gelos en selfs tot vandag toe het ek nog nooit 'n werklike groot ram geskiet nie, want ek probeer vanweë hulle lekker vleis maar altyd die jonger bokke skiet. 'n Mens kan op die foto sien dat hy valerig van kleur is. Die damhert kom in verskillende kleure voor. Ek het al gesien wat baie donker is, maar ook die valeriges en een foto wat ek geneem het is van 'n amper spierwit ram.
Kalibers om takbok mee te jag is jou heel gewone .243, .270, 7x57 of .308 of enigiets in daardie groep. Na die eerste jag met die 30-06 het ek besef dat die .243 'n beter kaliber vir die bokke is omdat hulle volgens my ondervinding nie besonder taai is om dood te kry nie en jy daar in Cradock se wêreld soms langer skote skiet waar die .243 se plat trajek baie lekker is. My jagvriend het al sy takbokke met 'n .308 geskiet en sy seuns met 'n .270 en 'n .303.
Omdat hy sulke lekker vleis het maak ek graag 'n takbok boudjie in die Weber of die oond gaar. Hier is my baie eenvoudige resep wat ook vir ander wildvleis gebruik kan word: Moet nie ontbeen nie, want die been in die vleis gee ekstra geur, of so glo ek. Steek oral in die boud redelike diep gate met 'n skerp mes met 'n dun lem en rek die gate groter met jou vinger. In elke gat word 'n stukke vars knoffel gesteek. Sny varkspek in dun repe en laat lê vir 'n uur of twee in die marinade. Sit hulle terug in die vrieskas en laat amper vries, want dan hanteer hulle makliker wanneer jy hulle in die gate moet steek. Jy kan ook vir ekstra smaak stukkies ontbytspek bysit of die hele boud daarin toedraai voor jy hom gaarmaak. As jy nou die boud so met die spek gelardeer het, word die hele boud vir ten minste 24 uur in die volgende marinade gesit. Draai gereeld om.
150 ml sojasous
75 ml Worcester sous
50 ml Balsamiese asyn
200 ml olyfolie
200 ml wit of rooi wyn of Port afhangende van jou smaak
Dit is die basies marinade waarvan ek baie hou, want dit verdring nie die smaak van die vleis te veel nie. Jy kan egter eksperimenteer met verskillende soorte kruie of blatjang net soos jou hart begeer.
Maak gaar in die Weber of oond tot dit so gaar is soos wat jy van jou vleis hou. As wildsvleis te lank gekook word is dit droog en baie onsmaaklik so liewer korter as langer in die Weber. Ek was 'n paar weke gelede te lus vir die takbok boudjie wat ek nog in die vrieskas gebêre het vir Kersfees, so hy is al lankal deur die Weber. Nou sal ek dié Kersfees maar sonder 'n stukkie van die Krismisbok moet klaarkom. (Gelukkig is daar nog een weggesteekte springbokboudjie in die vrieskas).
12 Desember 2007