
Donkernag, ons eerste in Wes-Virginië, skrik ons kort-kort onder die kwiltkomberse wakker as nog 'n bakkie straat-af dreun. Aan die dreuning kan jy hoor dis gróót goed wat hier neffens ons gastehuis-venster verbyratel - in die lyn van Ford F250 en Dodge Ram. Bostrokke; "pick-ups" of "trucks", soos die Amerikaners sê.
Die volgende oggend eet ons ontbyt langs 'n ongeskeerde man in kamoefleerdrag. Aan sy een sy hang 'n indrukwekkende mes in 'n lang skede. Aan sy voete is die soort gevoerde stewels waarmee 'n mens 'n toegesneeude berghang in die skadu van 'n dennebos kan aandurf. Hy slurp 'n beker koffie en wag vir sy wegneem-toebroodjie.
Voor die restaurant staan 'n handvol geparkeerde bakkiesmet aangesweisde rakke vir gewere en karkasse. Ons neem aan dis die einste rygoed waarmee die middernagtelike ryers die bergdorpie ingeval het.
Later ry ons 'n draai langs agterpaaie in die Alleghenie-berge. Dis die opregte "boondocks"; 'n mens sal vér soek om dieper platteland te kry, het 'n oom van in die tagtig vertel terwyl ons langs die ysterstoof in sy plaaswinkel opgewarm het.
Skielik draai 'n jagter op 'n vierwielmotorfiets, geweer oor die skoot en met 'n keelaf bok agterop, voor ons in die pad. 'n Ent verder draai hy by 'n klompie huise af en met prooi en al kies hy koers oor 'n grasperk- paadjie.
In die dorpskoerantjie op my skoot trek 'n vreemde advertensie my oog: Dit vertel die storie van Esau die bokjagter met 'n lys teksverse daarby - om te wys die Bybel regverdig jag.
Ons was in Wes-Virginië vir die Dankseggingsnaweek, maar het gou besef dat dit ook midde-in die bedrywigste twee jagweke in die Alleghenie-berge is. Die laaste twee weke in November is die oop seisoen vir bokjagters met gewere en duisende ruk jaarliks na Wes-Virginië op om daaraan deel te neem. Dis benewens die skare plaaslike inwoners wat die berge invaar om 'n bok of drie vir die pot plat te trek.
Almal in dié deel van die wêreld jag - mans, vroue en kinders, van busbestuurders tot onderwyseresse, van kafee-eienaars tot boere. Voor elke derde huis hang 'n bok-karkas of meer, soms aan spesiale staanders of sommer aan die basketbalpaal of 'n boomtak.
In nog 'n dorpskoerantjie is 'n lys van graadeens wat gevra is waarvandaan hul kalkoen vir Danksegging gaan kom. Amper elkeen het vertel hoe vanjaar se kalkoen die dag voor Danksegging in die bosse agter hul huis gejag gaan word. Verskeie van die haasbekke was van plan om met die jagwerk te help.
Volgens Wes-Virginië se afdeling vir natuurlike hulpbronne, 'n staatsdepartement, is meer as 350 000 jagters elke jaar in die staat se woude agter die een of ander prooi aan. In die meeste gesinne in Wes-Virginië jag minstens een lid gereeld.
"Ons moet net jag," beduie een vrou - asof vanselfsprekend - terwyl sy en nog 'n vrou met hul gewere oor die skouer teen 'n berghang langs die pad afgestap kom.
Ronda Teter, die posmeester van Harman (rondom 120 inwoners,met die naaste winkel 32 km weg), bevestig dat jag vir haar en haar mense 'n lewenswyse is. Hulle jag ook met voorlaaiers en boë, in spesiale seisoene vir dié wapens. Die prooi is uiteenlopend - bere, bokke, watervoëls, jakkalse, wildekatte, selfs kraaie, kwartels,muishonde en eekhorings.
Teter is 'n gebore en getoë Harmanner.
"Sien jy daardie huis? Dis waar ek grootgeword het," wys sy 'n entjie teen die bult op na 'n huis met 'n blou dak. Haar suster, wat die afgelope 20 jaar al in die voorstede rondom Washington D.C. woon, het hul ouerhuis onlangs gekoop en beoog om binnekort na hul geboortedorp terug te trek.
"Sy mis die platteland te veel," sê Teter.
'n Jagter van Montana, wat elke jaar vir die jagseisoen Wes-Virginië toe trek, het onlangs een van die buurhuise gekoop.
"Ek skat meer as 90% van die mense hier rond jag," sê Teter. Sy vertel hoe haar dogter net die vorige dag 'n swartbeer platgetrek het. Haar man hou veral van die voorlaaier-seisoen. Hy skiet gereeld hase en fisante vir die pot. Teter verwerk die vleis self by die huis. Sy maak jerky - die Amerikaanse weergawe van biltong - en bak die beste snitte in die oond. Die fynvleis lê sy met speserye in bottels in. Dit hou sy op rakke in haar koel kelder om die res van die jaar in soppe en bredies te gebruik. Haar man en dogter is veral lief daarvoor om dit sommer so koud uit die bottel te eet, sê sy.
Die jag-tradisie bied 'n laaste kans op oorlewing vir plattelandse dorpe soos Harman, waar die laaste winkel se deure al 'n paar jaar gelede toegespyker is en werkgeleenthede die res van die jaar skaars is.
Die staat se afdeling vir natuurlike hulpbronne beraam dat jag vir meer as 5 000 werkgeleenthede in die staat verantwoordelik is, en dat die jagters se besteding aan kos, verblyf, vervoer en toerusting bykans $270 miljoen in die ekonomie pomp. Dié inkomste is op die mees afgeleë dorpies van die grootste waarde.
Maar selfs nog waardevoller as die geld waarmee die jagters kwynende dorpsekonomieë stut, is hul bydrae tot natuurbewaring. Amerika se hedendaagse jagters beskou hulself graag as opvolgers van die land se grootste jagter-bewaarders van die verlede, soos oud-president Theodore Roosevelt. Lank voordat volhoubare benutting in die mode geraak het, het Roosevelt, 'n ywerige jagter, hengelaar en ontdekkingsreisiger, besef dat Amerika se natuurlike hulpbronne bewaar moet word. Hy het 785 000 km² vir nasionale parke en natuurreservate, onder meer die Grand Canyon, opsy gesit - meer as al 25 sy voorgangers saam.
Vandag finansier jaglisensies en ander belastings wat jagters betaal, driekwart van die begrotings van die staatsdepartemente wat Amerika se openbare natuurlewe bestuur, het National Geographic onlangs berig.
Jagters skenk ook jaarliks miljoene dollar aan nie-regeringsorganisasies wat die omgewing bewaar. Volgens die artikel in National Geographic het jagters in 2006 altesaam $280 miljoen (amper R2 miljard) bygedra tot organisasies wat die grootste deel van hul inkomste vir bewaring gebruik, soos Ducks Unlimited, die National Wild Turkey Federation, die Rocky Mountain Elk Foundation en Pheasants Forever.
Ted Turner, die media-magnaat wat CNN gestig het en deesdae Amerika se grootste private grondeienaar is, hang ook die filosofie van jag vir bewaring aan. Turner, self 'n jagter en vooraanstaande omgewingsbewaarder, het die afgelope twee dekades 800 000 ha plaasgrond aangeskaf. Hy besit uitgestrekte stukke grond in elf state, die meeste in Nieu-Mexiko, Nebraska, Montana en Suid-Dakota, waar hy onder meer buffels, salm en wolwe hervestig. Sy een buffeltrop bestaan uit 45 000 diere en is die grootste in die land.
Turner verdien 'n gesonde inkomste uit jag,maar bestee ook miljoene aan bewaring. Op een van sy jagplase, in Nieu-Mexiko en Colorado, betaal 'n jagter $12 000 (sowat R84 000) per trofee-takbokjag.
Die Turner Endangered Species Fund verrig op sy beurt 'n ontsaglike bewaringstaak. Dié fonds, deel van die Turnerryk, is 'n organisasie sonder winsoogmerk wat werk vir die herstel van biodiversiteit en bewaring van by die twintig bedreigde plant- en diersoorte op die Turner-plase, tot so ver as in Argentinië.
Die meeste Amerikaners is ten gunste van jag en visvang. 'n Onlangse landwye peiling deur die konsultasie-maatskappy Responsive Management het getoon dat drie uit elke vier Amerikaners wettige jag steun, en meer as nege uit elke tien is ten gunste van visvang vir ontspanning.
Amerikaners besef toenemend die belangrike rol van jag in natuurlewe-bestuur; ook hoeveel geld hengelaars en jagters tot bewaring bydra, sê Mark Damian Duda, die hoof van Responsive Management. Steve Williams, 'n vorige direkteur van die nasionale regeringsdepartement US Fish and Wildlife Service, sê jagters en hengelaars is onmisbaar in natuurbewaring.
Wildbestuurprogramme wat met jagters se dollars gefinansier word, het talle dier- en voëlsoorte se getalle vanaf ongesond lae vlakke laat herstel - soos wilde kalkoene, bewers, takbokke en Kanadese ganse. Met jagters en hengelaars se geld is ook al miljoene hektaar grond gekoop waarop vis- en wildsoorte bewaar word.
"Sonder jagters en hengelaars sou die state se natuurlewe-agentskappe eenvoudig nie hul werk kon doen om die natuur en wild vir alle Amerikaners te bewaar en te bestuur nie,"sê Matt Hogan, uitvoerende hoof van die Association of Fish and Wildlife Agencies.
Tot groot bekommernis van mense soos Hogan jag al hoe minder Amerikaners. 'n Nasionale peiling deur Responsive Management het getoon dat die land se jagtergetalle in die dekade tussen 1996 en 2006 met bykans 1,5 miljoen afgeneem het. Die Amerikaanse sensusburo het in 2006 altesaam 12,5 miljoen jagters getel - net 5 % van die totale volwasse bevolking.
Responsive Management meen verstedeliking is die hoofrede vir kwynende jagter-geledere. Meer as 'n derde van die land se bevolking het in 1950 nog in landelike gebiede gewoon, maar teen 2000 was nog net 22% plattelanders. En die verwagting is dat versnellende verstedeliking gaan voortduur.
Navorsing toon 'n sterk verband tussen jag en 'n woonhuis in 'n landelike omgewing. Stedelinge is normaalweg nie omring deur jagters nie, wat toetrede tot die jagveld en voortgesette jag bemoeilik. "Jagters maak jagters," sê Responsive Management in sy verslag.
"Omtrent alle langtermyn-jagters word aan die jagveld bekend gestel voordat hulle 20 jaar oud is, gewoonlik deur 'n pa of ander vaderfiguur. Ander familielede wat jag, en die teenwoordigheid van 'n jagkultuur is van die uiterste belang om nuwe jagters te vestig," lui die verslag.
Die gaping wat die krimpende jagbevolking laat, word toenemend gevul deur ander buitelewe-geesdriftiges, soos voëlkykers en natuurlewe-fotograwe.
Dit is egter nog onseker wat 'n toekoms sonder miljoene verlore jag-dollars vir bewaring sal inhou.Almal is nie alte seker dat die alternatiewe natuurliefhebbers genoeg sal bestee om die geldskaal se balans te herstel nie.
Amerikaanse biltong
Só maak 'n mens jerky, Wes-Virginië-styl. Die resep is van die Farm House-gastehuis
in Montrose, Wes-Virginië:
Sny 2,2 kg tot 3,3 kg wild-steak in dwarsskywe, elk sowat 1 cm dik. Meng 'n kwart koppie Worcester-sous, 'n kwart koppie sojasous, 'n derde teelepel knoffelpoeier, 'n derde teelepel peper, 'n derde teelepel uiepoeier en rooipeper na smaak in 'n bak. Marineer die vleis vir 24 uur daarin. Pak die vleisskywe op 'n bakplaat uit. Droog vir agt uur tot tien uur in 'n koel oond uit, op so 65°C, met die oonddeur half oop. Draai die skywe elke twee uur om, tot dit heeltemal droog is.
Landbouweekblad, 15 Februarie 2008