Landbou

Dié foto illustreer die items wat die skrywer, Ben Fourie, graag saamvat as hy gaan jag.
Soortgelyk
Wat vat ek saam veld toe?
Deur BEN FOURIE

Dit is vir my fassinerend om te sien wat vrouens alles in hulle handsakke kan saamdra. Nie dat ek 'n gewoonte daarvan maak om in vrouens se handsakke te krap nie, want as jy gevang word, is dit seker maklik een van die gevaarlikste ondernemings in die wêreld, maar omdat ek 'n vrou en twee volwasse dogters het, sien ek soms wanneer hulle 'n handsak se inhoud op die tafel omkeer om iets te soek.

Verstommend om te sien wat alles (sommige artikels waarvan ek nóg die oorsprong nóg die gebruik daarvan kan raai) in so 'n klein ruimtetjie ingepak kan word.

Dalk selfs meer fassinerend is wat jagters met hulle saamdra wanneer hulle veld toe gaan. Ek bedoel nie hier al die kampgereedskap en potjies en verskillende soorte bottels met verskillende kleure vloeistof wat op die jagtog saamgaan en in die kamp benodig word nie, want dit is 'n studie op sy eie. Nee, dit gaan hier oor dit wat in die baadjie se sakke of in 'n klein bladsakkie saamgedra word na daar waar die bokke geskiet gaan word.

Daar moet dadelik onderskeid gemaak word tussen 'n dag in die veld, waar die meeste tyd met voorsit deurgebring sal word, bv. met springbokjag in die Karoo of waar daar hoofsaaklik te voet gejag sal word en daar dalk baie kilometers gestap en in bergagtige terrein rondgeklim sal word.

Baie van die artikels sal natuurlik oorvleuel, maar vir 'n voorsitjag kan 'n mens maar so 'n bietjie luukser gaan, want gewoonlik word jy tot by die plek aangery of as jy moet stap dan kom jy darem na 'n ent se stap tot ruste op 'n plek waar jy die grootste gedeelte van die dag sal sit.

Elkeen moet maar self besluit wat hy of sy ekstra wil saamvat op so 'n jag. Ons gaan nou meer konsentreer op daardie jag waar jy die grootste deel van die dag stap en dus alles so lig moontlik in 'n klein rug- of bladsakkie moet pak. Hier kry 'n mens ook dié manne van wie ek al baie gesien het wat net 'n paar patrone, 'n knipmes en 'n lemoen in die baadjiesak druk en dan reg is vir 'n lang dag. Ek hou egter daarvan om die lewe 'n bietjie gemakliker te maak.

Ammunisie
Die meeste jagters (ek inkluis) dra hopeloos te veel ammunisie saam. Dit is swaar en ongemaklik en jy bring gewoonlik meer as die helfte terug. Onthou weer eens dat dit hier om voetslaan gaan waar jy waarskynlik een of twee bokke gaan skiet.

Tel 'n bietjie hierdie jagseisoen presies hoeveel skote jy per jag skiet. Te veel patrone in jou sak gee jou dikwels ook 'n valse gerustheid en dan is 'n mens geneig om kanse te waag wat jy nie sou waag met minder ammunisie in die sak nie.

Daar egter is ook die keersy waar daar spoggerige ouens is wat net drie patrone saamvat en dan moet ander jagters dikwels hulle gekweste wild vir hulle doodskiet. So gaan ek op 'n dag daar in Koës (toe nog Suidwes) se wêreld springbok skiet met een van dié mense. Dit is bakkieskiet-wêreld daardie en die kêrel spog met 'n paar patrone en 'n R1-geweer, natuurlik onwettig om mee te jag, maar daar in die middel sewentigs het dit maar baie gebeur. Elke patroon sou 'n bok huis toe bring.

Ek het my ou dasblad by my, dit nou synde 'n omgeboude .303 met oop visier. Patrone vir die .303 was daardie tyd skaars soos hoendertande en ek het skatryk gevoel met die amper vol magasyn met sy 8 patrone wat ek gehad het. Ek sou net skiet indien werklik nodig. Laat die middag kry ek toe kans en skiet twee bokke met die oop visier. Toe het ons 'n totaal van drie bokke en sy patrone was op. Ek het nog vier oorgehad, maar was te suinig om hulle ook weg te skiet.

Verkyker
'n Klein kompakte verkyker is vir my onontbeerlik. 'n Werklik goeie verkyker is 'n vreugde. Onlangs kyk ek met 'n Leica wat meer kos as 'n goeie geweer en sien toe waaroor al die bohaai gaan. Wat 'n fantastiese instrument, maar met sy prys van R20 000 vir my net 'n droom.

Nadat ek 'n goeie, en vir my sak redelik duur, verkykertjie in die veld verloor het, gebruik ek tans sommer een van die goedkoper soorte aangesien ek dit nie vir ure aaneen gebruik nie, maar net om gou-gou daardie ruigte of die vreemde voorwerp in die skadukol te bekyk. As jy lang tye sit en die veld bespied of voëls kyk, is 'n goedkoop verkyker natuurlik nie goed nie, dit gee my gou-gou 'n erge hoofpyn, maar vir net vinnig kyk werk hy tog.

Mes
Ek dra gewoonlik 'n kleiner knipmes in my sak om 'n lemoen te skil of 'n stukkie biltong te kerf en 'n groter mes vir keelafsny, ens., in die bladsak. Een of twee, dit is jou eie keuse, maar hulle moet skerp wees. Ek moes al dikwels vir ander jagters of spoorsnyers my mes leen. Daarom vat ek gewoonlik een van my ou Opinel-messe wat as hy eers skerp is sommer baie werk kan doen en as hy verloor, is dit wel skade, maar darem nie te erg nie. Jagters wat sonder 'n mes veld toe gaan irriteer my so 'n bietjie.

Kos
Elkeen van ons het natuurlik sy of haar voorkeure, maar vir my is dit belangrik om iets voedsaam te vat wat darem ook nie soos semels smaak nie. Twee piesangs (lekker baie energie vir die stap), 'n energiestafie en 'n sjokolade, soos 'n Lunch Bar, wat ook die honger lekker stil. Toebroodjies vat ek nie graag nie want dit druk gewoonlik plat en is teen middagete onsmaaklik. Drinkgoed is baie belangrik as jy ver gaan stap en ek wat liewer meer water en iets soos flouerig aangemaakte Energade in die plek van ekstra kos.

As jy regtig in wêreld gaan jag waar jy dalk kan verdwaal en lank op jouself aangewese moet wees, is dit noodsaaklik om soveel moontlik vloeistof saam te dra. 'n Mens kan redelik lank sonder kos klaarkom, sonder water gaan dit gou sleg met jou.

Medisyne
Nou kan 'n mens tereg vra wat loop soek jy met medisyne in die veld, maar omdat ek 'n ongeluksvoël is en al gesien het hoe 'n lekker jagtog in 'n nagmerrie ontaard omdat jy iets eenvoudig soos 'n pleister kortgekom het, vat ek die volgende saam: Klein rolletjie pleister, hoofpynpille en 'n rekverband en 'n naald om dorings uit te haal, want 'n doring in jou snellervinger of hand kan jou hele dag bederf.

Laas toe ek my enkel in die berge naby Graaff-Reinet verstuit het, was die rekverband baie nuttig om die hele spul sommer so bo-oor die stewel vas te draai. Daarsonder sou ek nie op my eie die bakkie gehaal het nie.

Allerlei
Altyd 'n halwe rolletjie toiletpapier vir 'n vanselfsprekende rede, maar ook om hoog in 'n bos 'n stuk te sit om die plek waar die bok lê te merk. Haal tog net weer af sodat die boer se veld nie oral met wit bome spog nie. Twee swart plastieksakke vir wanneer daardie onverwagse reënbui jou tref en jy die hartgeweer gou-gou wil toedraai. Jy kan ook 'n reënjas improviseer of dalk die harslag daarin toedraai. 'n Stukkie sterk tou kom nuttig te pas vir verskeie dinge en kan selfs as 'n nood veter vir jou stewel dien.

Selfoon
Soveel as wat ek eintlik dié ding haat omdat hy my nooit rus gun nie, so absoluut onontbeerlik is hy tog ook vir werk en veiligheid. Kry al jou jagmaats se nommers sodat julle kan kommunikeer. Ek sit hom graag heeltemal af, want as hy moet lui daardie oomblik wat ek dalk op die rekord-bul aanlê, gooi ek hom baie ver weg. Daarom sit ek hom net so nou en dan deur die dag aan om vir boodskappe te kyk. As ek alleen jag, is hy die hele dag afgeskakel, maar ek vat hom steeds saam vir noodgevalle.

Kamera
Laastens, maar vir my wat stories skryf en altyd foto's soek, is dit uiters belangrik. Dit hoef nie die beste kamera in die wêreld te wees nie (jy kan hom in die veld verloor of beskadig), maar dit moet goeie skerp foto's neem d.w.s. jou "pixels" moet na my mening minstens 5 of hoër wees. Steek hom in 'n klein plastieksakkie en knoop toe teen stof ens.

As dit moontlik is dra ek ook graag my Smith & Wesson .22-rewolwer saam. Al jag ek al só lank, hou ek nog steeds nie daarvan om 'n bok keelaf te sny nie en sal liewer 'n genadeskoot met die kleinkaliber gee. Dit is nie oral prakties om saam te vat nie, maar soms tog baie nuttig.

Pak jou eie sak na jou eie smaak, maar dink mooi wat jý kan nodig kry vir jou spesifieke jagtog. Soms kan die kleinste dingetjie 'n reuse verskil maak aan hoe lekker 'n dag in die veld verloop. Stuur vir my e-posse oor wat jy as baie noodsaaklik beskou, dan kan ons in 'n volgende artikel die lysie langer maak en so almal behulpsaam wees.

  • Ben Fourie is 'n geweer- en jagentoesias van Port Elizabeth.
    Skakel hom by tel. 041 364 1138 (w) of e-pos: fourie@biblesociety.co.za

    12 Maart 2008