Landbou

'n Collage van geweer, patrone, horlosie en foto van 'n wildjag op by 'n Skotse das.
Foto: Ben Fourie

Soortgelyk
Jagter reël sy eie Macnab
Deur BEN FOURIE

Ek het nie 'n druppel Skotse bloed in my nie en is nie eers besonder suinig nie, inteendeel, wanneer dit by jag en gewere en allerlei toebehore daarvoor kom, is ek volgens my vrou redelik spandabelrig. Ek was nog nooit in Skotland nie. Die bekende Skotse dis met die naam "haggis" wat van die harslag, ens., gemaak word, klink vir my al te veel na 'n gereg met die naam haksel wat my pa baie graag van dieselfde bestanddele gemaak het en waarvoor ek nog nooit 'n smaak ontwikkel het nie.

Mans wat rok dra (al word daar in die kous 'n mes gedra) was ook nog altyd vir my, sal ons maar sê, ietwat eksentriek. Doedelsak-musiek is soms vir my heel mooi, veral as hulle "Scotland the Brave" speel, maar te veel daarvan maak ook jou tande stomp. Wat ek darem moet sê is dat die elikser wat deur die Skotte (die Iere sê dit is eintlik hulle wat dit ontdek het) onder interessante name soos Haig en Dimple en Teacher verkoop word, is seker die beste medisyne ná 'n lang koue dag in die veld. Dan is daar niks wat daarmee kan vergelyk om in die aand langs die kampvuur weer warmte en 'n gevoel van gemoedelikheid in 'n mens se lewe te bring nie.

Tog het Skotland en die Skotte se geskiedenis my nog altyd geïnteresseer. Hulle oorloë, dapperheid en sommer dit wat ek van die land gelees het, het my laat dink dat hulle 'n besondere volk is. En dan is daar die sogenaamde Macnab. Waar dit sy oorsprong het, weet ek nie en of dit hoegenaamd iets met Skotte te doen het weet ek nie, maar dit is iets wat ek nog altyd baie graag wou doen. Die Macnab is 'n jaggeleentheid waar 'n jagter probeer om binne die verloop van een dag een bok en een voël te skiet, en 'n vis te vang. Die manne daar in Lady Grey waar 'n Macnab elke jaar plaasvind, het my al genooi, maar ek kon dit nog net nooit haal nie. Gewoonlik skiet hulle 'n ribbok, tarentaal of bergpatrys en vang 'n forel, alles van sonop tot sononder.

Omdat ek dit nog nooit kon bybring nie, het ek besluit om my eie Macnab te beplan. Bokke en voëls het ek al baie gejag, maar glo dit of te nie, ek het nog nooit in my lewe eers probeer om vis te vang nie. Op my vriende se plaas naby Cradock waar ek die geleentheid beplan het, is in elke geval geen visse nie. Daarom het ek besluit om my eie Macnab te doen deur eerder te probeer om die drie soorte wild wat daar voorkom op een dag te jag. Dit is naamlik rooiribbok, springbok en takbok.

Gelukkig kan 'n mens al drie die soorte met een kaliber jag en my keuse het op my .243 geval. Die plaas is wel ranterig en daar is bosruigtes, maar oor die algemeen is dit oop wêreld waar die .243 lekker werk. My gebruiklike jagsakkie waaroor ek verlede keer geskryf het is gepak, patrone gelaai en toe die lang wag - 'n volle week, wat as ek op pad veld toe is, baie lank voel om te wag. Op die plaas aangekom het ek laatmiddag gou 'n paar skote geskiet net om weer seker te maak die geweer is nog reg ingestel.

Soms kom ek agter dat my kolesterol telling 'n raps te laag is en dan moet ek hom so 'n bietjie bybring met 'n stuk vet skaaprib of iets anders!!! By Lena is daar altyd geleentheid hiervoor en na 'n groot bord mieliepap met, let wel nie melk nie, maar baie vars room, het ek gevoel die telling is nou weer hoog genoeg om 'n paar dae te hou. Agter op die bakkie het Juniemaand se rypwindjie my gou na een van daardie klapmusse laat verlang, maar gelukkig sou ons nie te ver ry nie. Daar sou nie 'n skoot van die bakkie af geskiet word nie. Elke bok moes te voet gesoek en gejag en aangedra word. Ons was drie jagters, maar die twee ander manne sou hulle eie ding doen.

Die rooiribbok was amper 'n antiklimaks. Dit is nou reeds 25 jaar gelede wat ek my eerste rooiribbok geskiet het, en steeds bly dit vir my 'n uitdaging om hierdie bokkies te jag. As jy hulle op die regte manier daar in die hoë berge jag, is dit fisies en andersins 'n wonderlike uitdaging. Verder is dit nog vir my een van die heel lekkerste soorte wildsvleis en biltong. Dié een was eintlik te maklik. Ons het eers probeer om 'n paar takbokke te skiet en my medejagters het dan ook al twee of drie gekry, maar ek het geen kans gekry nie. Omdat Lena altyd baie graag vir eie gebruik 'n paar ribbokke wil hê, het ons besluit om hulle nou eers te soek. Dit sou 'n kilometer of wat se stap beteken om by 'n lang klipperige hang uit te kom waar hulle lief was om te hou. Soos gewoonlik het hulle my verras deur uit te spring waar jy hulle die minste verwag.

Vroeër jare het ek en ander mense met wie ek saam gejag het, heel wild geraak wanneer die bokke so amper onder jou voete uitbars en dan is daar ook soms wild in die hardloop geskiet. Gelukkig het ek daardie jeugdige onverantwoordelikheid al lankal agtergelaat en kon ek die drang om dadelik te begin skiet bedwing. Die ses of sewe bokke het om die ronding van die rantjie verdwyn, maar een ram het gaan staan om terug te kyk. Hy was nog so naby dat ek hom uit die vuis uit kon platskiet. Nommer een was in die sakkie en dit was nog maar tienuur in die oggend.

Wat ek toe nog nie geweet het nie is dat Macnab 'n bloedeie neef van Ierse oorsprong met die naam Murphy het. Toe hy eers by die jag aansluit, het dit begin lol. Mede-jagter Matie het ook 'n bok geskiet, maar ek het só op myne gekonsentreer dat ek nie eers dié gesien het wat na die ander kant toe gehardloop het nie. Ons het die ribbokke uitgedra en toe alle aandag op die takbokke toegespits. Aan die springbok het ek nog nie gedink nie, maar dit was juis hulle wat toe volgende op die spyskaart beland.

Op pad na die volgende kamp waar daar takbokke is, het die paar springbokke sommer hier by die bakkie uitgespring. Daar was 'n mooi ram by, maar bakkieskiet was uit. Ek het afgespring en toe het een van daardie episodes gevolg waarvan baie jagters seker kan vertel. Die bokke het ook weggespring en so 'n paar honderd treë verder gaan staan. Ek het gesê die bakkie moet aanry, want ek wou nou opsluit eers my springbok skiet. Die terrein was redelik oop maar het tog genoeg beskutting gebied dat ek seker was ek sou hulle kon bekruip. Verder het ek my ou tweepoot gehad wat uit 'n ou kamera driepoot gemaak is en sou dus dooierus kon vat vir 'n redelike lang skoot. Ek het 'n rukkie gewag om die bokke eers rustig te laat word en het toe begin bekruip.

Murphy het al die pad saamgekruip. Net soos ek lekker sit om dooierus te neem, stap die ram agter 'n bossie in of verdwyn hy oor die glooiing van die volgende rantjie. So het dit telkemale gegaan. Een keer was die kruishaar al op sy blad toe die tweepoot se een poot gly en die skoot daar iewers in die niet verdwyn. Dit was later middag en skielik het die Macnab moeilik begin raak. Die bokke het weer op hulle stadige draffie oor die volgende rantjie verdwyn en toe ek bo uitkom en versigtig agter 'n groot klip uitloer, het hulle soos mis voor die son verdwyn. Einde van die springbok-jag.

Die takbok was weer nie so moeilik nie, om die waarheid te sê het ek die agtermiddag redelik gemaklik drie takbokke geskiet waarvan een 'n redelike ram was en twee ooie vir vleis. Takbokke het mos heerlike eetvleis, maar dan moet dit verkieslik ooie of baie jong ramme wees. Die ram wat dan nou die Macnab-deel moes volmaak, het rant-af in 'n vlaktetjie gestaan. Ek het al 'n hele ruk teen die koppie gesit en met my verkyker die wêreld bespied, voordat ek hom soos 'n donker skaduwee tussen 'n klomp bosse sien staan het. Die .243 het sy werk gedoen. Met die takbok-jagtery het dit nou al laat begin raak en die sonnetjie het al water getrek toe ek vir oulaas die Macnab probeer volmaak het.

Ver onder in 'n hoek het 'n paar springbokke gestaan en een het vir my na 'n ram gelyk alhoewel dit in die laat lig moeilik was om op dié afstand seker te wees. Daar was geen sin om hulle te probeer bekruip nie, want dit was te oop. Ek kon maar net bly sit waar ek is en hoop dat met die gewerskaf om die takbokke uit te dra en die ander jagters en plaaswerkers se stemme die bokke dalk onrustig sou maak. Hulle kon my in elk geval nie sien nie. Die son was al agter die berg toe daar skielik lewe tussen die klompie kom en hulle stadig in my rigting begin beweeg het. Toe die ram teen die draad gaan staan was hy maar omtrent 'n honderd treë weg en weereens het die .243 nie 'n fout gemaak nie.

My eie Macnab was afgehandel en die aand toe ons rooiribbok lewer sit en eet, was ek opnuut dankbaar vir dié land wat dalk nie so veilig is soos Skotland en baie ander lande nie, maar waar ek nog op 'n helder sonskyndag só 'n ervaring kon geniet.

  • Ben Fourie is 'n jag- en geweer-entoesias van Port Elizabeth.
    Sy e-pos-adres is: fourie@biblesociety.co.za

    22 April 2008