Landbou
Word op kommersiële boere gepik?
Soos ek dit sien - Manie

Dit lyk asof daar op kommersiële boere gepik word met die toepassing van die bepalings van arbeidswette wat eersdaags die betaling van minimum lone gaan insluit. Arbeidminister Membathisi Mdladlana het boere gewaarsku dat ontduikings of die verontagsaming daarvan ernstige probleme kan beteken.

Op die wal van die Limpopo kondig hy aan dat onwettige plaaswerkers uit Zimbabwe geregtig is op dieselfde voordele as hul Suid-Afrikaanse kollegas en dat die uitbuiting van dié werkers stopgesit gaan word.

Wat is die werklike toedrag van sake? Boere daar behandel alle werkers eenders, daar is 'n ordelike permitstelsel wat deur die Soutpansbergse distrikslandbou-unie ingestel is sodat elke Zim-werker en sy werkgewer gemonitor kan word en gelyke lone word betaal.

'n Groot bohaai word nou opgeskop oor die sowat 10 000 werkers wat by sowat 100 boere werk, maar niks word gesê van die miljoene onwettige immigrante wat binnelands werk- en sakegeleenthede van plaaslike mense roof nie.

Daar is 'n goeie rede hoekom soveel Zim-werkers langs die Limpopo op plase werk. Hulle is honger en wil werk om hul gesinne oorkant die rivier, waar geen werk of kos is nie, te onderhou.

Hierteenoor stel plaaslike werkers groot eise aan boere wat arbeidsintensiewe bedrywe het en waarvoor 'n stiptelike werksmag noodsaaklik is vir oorlewing.

Plaaslike werkers se woongebiede is ver van die plase en die werkers wil saans huis toe. Hiervoor verskaf die boere vervoer, maar as die werkers die volgende dag gehaal word, daag net die helfte of minder op. Tog word ses plaaslike werkers in diens geneem vir elke vier uit Zimbabwe.

Feit is, boere wil nie vreemdelinge op hul plase hê nie en sou graag 'n volle Suid-Afrikaanse werksmag wou gebruik.

En wat het minister Mdladlana uit sy blitsbesoek aan Zimbabwe wys geword? Hy het verklaar ons kan daar gaan leer oor arbeidsake. Later het hy gesê hy het bedoel ons kan leer wat hulle verkeerd gedoen het en nie dieselfde foute maak nie.

As hy pres. Thabo Mbeki se opdrag uitgevoer het en mnr. Japie Grobler van Agri SA saamgevat het, sou 'n mens geweet het wat hy presies wou sê.

Maar dit lyk tog of sy en die Regering se siening van die plaaswerker-kwessie oppervlakkig en kortsigtig is en dat die konsekwensies nie besef of in ag geneem word nie, soos Manie al uitgewys het.

Onsimpatieke arbeids- en ander wette het reeds veroorsaak dat talle plaaswerkers vandag in plakkersdorpe sit waar baie werkloos en arm is. Met die instelling van 'n minimum loon word verwag dat nog 10 % tot 15 % hul werk gaan verloor. Groter werkloosheid en meer armoede.

Daarby ontneem dié nuwe wetgewing die werker sowel as die boer sy grondwetlike reg van onderhandeling. As 'n werker bereid sou wees om vir R500 per maand eerder as die voorgeskrewe R650 te werk, kan hy en die boer nie eers daaroor onderhandel nie.

Die wette is nodig om uitbuiting te voorkom, maar Manie reken dit kan buigsaam toegepas word om die ware uitbuiters kort te vat. Maar om die gesonde verhouding tussen boer en werker deurgaans te versteur, lei tot 'n verloor-verloor-situasie.

Die landbou sal, waar nog nodig, sy huis in orde moet kry. Sedert 1994 het die beeld wat swart mense van boere gehad het, al baie verander. Baie werk is nog nodig om te verseker dat die beeld van die boer tot by die man op straat, die kieser, verander word en dat hy waardeer sal word as die verskaffer van voedsel en werk.

GOEDKOPER SKAAPVLEIS: Lamsvleis staan bo-aan ons mense se voorkeurlys. Maar toe loop neuk hulle die week tussen Kersfees en Nuwejaar die kole skoon onder die pot uit met só 'n sterk vraag dat met die skryf hiervan verbruikersweerstand in rat gekom het en die groothandelprys (abattoir na groothandel) met R2/kg gedaal het. Tot net vóór hierdie sogenaamde swart week vir lamsvleis (die derde week in Januarie) was die gemiddelde pryse (karkasgewig) vir die streek R24/kg aan die boer; R23/kg van die abattoir na die groothandel en R35/kg tot R38/kg in die kleinhandel. Die beste snitte, veral dié met 'n handelsmerk, was vir tussen R40/kg en R60/kg op die winkelrakke.

Dié pryse blyk uit 'n opname wat Manie se spioene in die Kalahari, Upington, Kenhardt, Prieska, Douglas, Strydenburg, Colesberg en De Aar gedoen het. Dis die gebied wat die skaapvleispotte vanaf Gauteng tot in Kaapstad aan die gang hou.

Die daling in die prys van lamsvleis is hoofsaaklik die gevolg van twee faktore: Een is die feit dat die goeie seisoensprys die lamaanbod feitlik totaal gedreineer het. Dit het pryse in die tweede week van Januarie tot 'n weerstandvlak laat styg.

Die tweede faktor is die stille steun wat lam- en skaapvleispryse van die sogenaamde vyfde kwart - veral die vel - verkry. Dis velpryse wat dit moontlik maak dat die karkasprys vanaf die abattoir na die groothandel feitlik dieselfde is. In die geval van lammers van die hoogste gehalte vir die handelsmerkmark kan boere 'n premieprys van tot R1/kg verdien. Gedurende die feestyd was velpryse nog R60 vir 'n Dorpervel en R30 vir 'n Merinovel. Weens 'n sterker rand het dié pryse egter in die tweede week van Januarie met sowat die helfte gedaal.

Te min skaapvleis word vir binnelandse verbruik geproduseer. Dit was deels daarvoor verantwoordelik dat skaapvleispryse meer as 'n jaar gelede al op hoër vlakke gestabiliseer het. Terselfdertyd het nismarkte (hoewel klein) met premiepryse in die binneland begin vorm aanneem - en selfs beperkte uitvoermarkte begin 'n werklikheid word. Hierteenoor raak skaapweiding kommerwekkend minder namate wildplase in die gevestigde skaapgebiede toeneem.

Net soos sommige skaapboere welslae behaal deur veediefstal op hul plase te bestuur, lyk dit vir Manie beter bemarkingsbestuur is die weg om risiko's die hoof te bied. Wat van die lammer-oes in drie verdeel: Een deel teen gewaarborgde pryse vir 'n jaar op die uitvoermark; 'n deel teen die premieprys vir plaaslike nismarkte; en nog 'n deel vir die ope mark waarmee die voordele van seisoenale hoër prysvlakke benut kan word?

24 Januarie 2003