Verlede week se vergadering oor minimum lone vir plaaswerkers tussen Agri SA en Arbeidsminister Membathisi Mdladlana was op die ou end toe alles behalwe opbouend.
Mdladlana, wat al meer begin lyk soos 'n man wat nie oorloop van liefde vir kommersiële boere nie, was volgens Manie se inligting onverbiddelik: Sê wat julle wil, maar aan die minimum lone torring ek nie.
'n Mens kry die indruk hy sit in 'n skaakmatposisie waar hy nie aan boere se versoeke kan toegee nie weens 'n vrees om aansien te verloor. Hy't blykbaar op die vergadering erken daar sal werkverliese wees, tog het hy geweier om daaroor te praat.
Dit lyk ook of hy die georganiseerde landbou se versoeke oor 'n langer infaseringstydperk eenvoudig afmaak as 'n verskoning om werkers van hul plase af te sit. En oor die norme wat sal geld as 'n boer inderdaad aansoek doen om vrystelling van minimum lone, het hy ook nie 'n woord gerep nie.
Julle sal dalk onthou Mdladlana het in die jongste verlede gesê die georganiseerde landbou het genoeg tyd gehad om vooraf bydraes oor minimum lone te lewer. Wel, dit klink vir Manie die stel reëls wat hy nou afgekondig het, stem nie juis ooreen met dít waaroor die partye vooraf gepraat het nie.
Maar terug na sy klaarblyklike vrees om aansien te verloor - waarvan hy klaarblyklik nie 'n geheim maak nie. Wat weeg die swaarste: Die minister se aansien of werkloosheid? Persoonlike aansien, nogal van 'n minister van arbeid, tel nie wanneer daar só 'n ingryping in die ekonomie kom soos met minimum lone nie.
Ewenwel, nou is minimum lone op plase 'n voldonge feit. 'n Mens glo die meerderheid boere betaal darem reeds dié tipe van loon waarvan gepraat word, maar, ja, werkverliese sal daar vir seker wees namate produktiwiteit onder die arbeidsmag op plase die gonswoord gaan word.
Een ding is redelik seker: In natura-vergoeding soos ons dit oor jare leer ken het, is nou koebaai - en dís iets wat werkers moeilik gaan verwerk.
Manie verneem daar is reeds plaaswerkergroepe, soos in die provinsie Limpopo, wat diep bekommerd is oor die implikasies van die nuwe lone en wat daaraan dink om die minister hof toe te vat. Die kans is seker goed dat daar van kommersiële kant ook sulke optredes kan opduik.
Wat hiervan sal kom, sal 'n ou maar moet sien. Blykbaar het die minister te kenne gegee dat hy later in die jaar weer na die hele kwessie sal kyk. Manie het egter nie veel hoop nie. Onthou, ons is eintlik al in die aanloop tot volgende jaar se verkiesing, en julle weet hoe politici se koppe in sulke tye kan uithaak.
'n Mens vertrou enige moontlike hofgeding sal met die grootste omsigtigheid benader word, want dit kan maklik ontaard in 'n nuttige stok waarmee kommersiële boere bygedam kan word.
Duidelik sit ons hier al weer met daardie onding wat hulle noem "polarisasie". Dit waarin Derek se Esta so uitgemunt het . . .
MOEITE WERD?: Steeds by dié onderwerp: Manie sien die TLU is die hel in omdat "gerugte tans die veld ingestuur word dat die Minister van Arbeid aan Agri SA sou gesê het die TLU SA aanvaar die minimum lone vir landbou".
Wel, of dit Mdladlana se presiese woorde was, kan Manie nie sê nie, maar dat hy inderdaad op nou die dag se vergadering gepraat het van TLU-lede wat hom sekere goed meedeel, is waar.
Vergeet egter vir 'n oomblik presies wat hy gesê het. Lyk hierdie vir julle nie na 'n klassieke voorbeeld van groepe wat teen mekaar afgespeel word nie? Amper iets soos: "Julle sê so, die ander groep sus. Wie moet ek ernstig opneem? Dus volg ek maar my eie kop."
TLU SA se Gert Ehlers verwys na die gerugte as " 'n gegryp na strooihalmpies, ten einde die verspreider daarvan se eie onvermoë, samewerking en ooreenkomste te verdoesel. TLU SA sal die oorsprong en motief navors en op gepaste wyse reageer en verwerp die aantygings met die minagting wat dit verdien."
Val dalk mooi op die oor, maar, ai toggie, vir wat nou tyd mors op onbenullighede as daar ander brandende landskwessies is!
Die verskillende boeregroeperings in Zim sê deesdae hoeka ál harder een van hul grootste foute was dat hulle nie uit een mond gepraat het nie.
Terloops, Manie hoor 'n voëltjie fluit van TLU SA-leiers wat stilweg oor die grensdraad met Agri SA praat, maar ek kan julle 'n briefie gee dit sal in ewe sterk taal as hierbo ontken word.
LUISTER: Op Nafu se afgelope kongres is vurige pleidooie vir groter eenheid tussen swart en wit boere gelewer - wat samewerking op georganiseerde vlak impliseer. Nafu-voorsitter Peter Rammutla, sy adjunk, Motsepe Matlala, Limpopo se Landbou-LUR Aaron Motsoaledi, en Adjunk-landbouminister Dirk du Toit het daaroor gepraat.
Veral rigtinggewend is Matlala se opmerking dat nou op landboufeite gefokus word, en nie op politieke kwessies nie. 'n Mens vertrou dit val nie op dowe ore nie, gegewe die Zim-boere se opmerking hierbo.
Dis natuurlik wyd bekend dat die Regering Nafu met 'n stewige miljoen of twee help om 'n infrastruktuur op te bou - wat sommige mense ondeund na Nafu as "His Master's Voice" laat verwys.
Maar, ag, vrinne, dit kan mos nie juis anders nie, gegewe die Regering se fokus op swart bemagtiging. As Agri SA finansieel sukkel, hoe het Nafu dan 'n kat se kans om regop te kom?
Boonop is ons geheue ook maar kort oor hoe dit onder die vorige bewind was.
BOTTELBABA?: Hoewel ons briefwisseling oor die voorblad van 20 Desember reeds afgesluit is, is daar steeds meningsverskil of ons nou te veel of te min bors gewys het.
Johan Jordaan van Groot-Marico se wêreld skryf kostelik dis oor sy lewe daarvan afgehang het - van geboorte tot hy gespeen is - dat hy dié vroulike anatomie vandag nog so bewonder.
Nou vra hy maar net: Was diegene wat so kla dalk bottelbabas?
Manie wonder nogal wat die beswaardes sal sê as hulle die jongste Wolboer in die hande kry. Dáár's 'n veilingsadvertensie in met 'n welbedeelde en feitlik kaalbas-meisie wat letterlik als in die skadu gooi.
Goeie opkoms by jou veiling gehad, Willem van Aardt?
7 Maart 2003