Landbou
Daar haal Trevor toe "sonde" uit drank-taks
Soos ek dit sien - Manie

In Finansminister Trevor Manuel se opmerking tydens sy Begrotingsrede dat hy nie meer die woord "sondebelasting" vir aksyns op drank- en tabakprodukte gaan gebruik nie, lê (saam met die belastingpyn) nogal 'n stuk goeie nuus ook opgesluit.

Uit die wynbedryf se oogpunt is dit in wese 'n wegbeweeg van die gedagte dat jy sonde doen as jy wyn of brandewyn drink. Dit pas perfek in by die bedryf se sterk fokus op verantwoordelike alkoholgebruik en skep allerhande moontlikhede vir samewerking tussen die Regering en die wynbedryf om deel van daardie byna R1 miljard wat met aksyns ingesamel word, in so 'n veldtog terug te ploeg.

As die wynbedryf, die Regering en die Bedryfsvereniging vir Verantwoordelike Alkoholgebruik (ARA), wat in elk geval met so 'n veldtog besig is, hier met 'n wenplan vorendag kan kom, kan dit net beter wees as nuttelose waarskuwings teen alkohol op drankbottels.

Want 'n groot persentasie van die mense op wie sulke waarskuwings gerig is, kan dit waarskynlik nie eens lees nie, terwyl dit nie 'n duit se invloed gaan hê op diegene wat dit wel kan lees nie.

Terwyl ons oor die wynbedryf praat: Hulle is stilweg besig met 'n plan wat hulle WIP noem: Wynindustrie-plan. Wat 'n ou tereg kan laat vra: Wat het dan van hul meesterplan, Visie 2020, geword?

Wel, julle sal dalk onthou 2020 is opgestel voor daar nog sprake was van die sektorplan vir die landbou, of kortweg sommer die Mbeki-plan. En toe was swart bemagtiging waarskynlik ook nog nie so sterk op die voorgrond as nou in die Mbeki-plan nie.

Omdat die wynbedryf ernstig is oor 'n vennootskapsbenadering met die Regering, is die gedagte dus inderdaad om die twee planne nou te "trou - vandaar WIP (as Manie sy bronne reg verstaan). Dit impliseer samewerking wat nie net plaaslik nie, maar ook internasionaal gunstige uitvloeisels vir die land kan hê.

Binne WIP sal selfs turksvye soos die LNR - oor wie die bedryf inderdaad diep bekommerd is - gehanteer kan word sodat dié organisasie deel van die wynbedryf se beplanning bly.

Kortom, Visie 2020 gaan wip kry!

TWEE KAMPE: 'n Mens kan maar net jou kop skud dat BKB se senior bestuur die emosie rondom die stempoel so verkeerd gelees en toegelaat het dat dit soveel verdeeldheid in die maatskappy bring.

Hier het ons nou twee kampe wat op direksievlak seker redelik gelykop verdeel is: Voorsitter André Kolver en sy anti-stempoelspan aan die een kant, en ondervoorsitter Maans Nel en sy volgelinge aan die ander kant, met BKB-baas Don Slabber en sy vertrouelinge wat die ding kan swaai.

Soms wonder Manie of BKB se ongeveer 17 000 aandeelhouers werklik weet wat agter die skerms gebeur en waaroor die geveg eintlik gaan. Dit sal hulle dalk loon om maar gebalanseerd op dié aar te boor.

Want terwyl magte aan die roei is oor posisies en poste wat dalk bedreig word, is die koue feite dat BKB markaandeel verloor het. Trouens, Manie verneem uit opposisiegeledere hulle staan die hele petalje met groot belangstelling en dophou. 'n Mens kan aanvaar CMW se dok Jan trippel soos `n wafferse heelagter rond om die balle te vang wat dalk na hul kant toe deurglip.

Manie verneem van sy boerevrinne wat op die onlangse stempoelvergadering was, 'n voorstel is aanvaar dat die stempoel óf heeltemal geskrap word óf so gewysig word dat dit nét gebruik word om 'n vyandige oorname-aanslag af te weer. Op 'n volgende vergadering sal glo daaroor gestem word.

Daarna wag die deurslaggewende jaarvergadering, waar die balans in die direksie bepaal kan word . . .

WAARHEEN?: So gepraat van BKB, een van sy bekendste "handelsmerke" en 'n lewende legende in die wolbedryf, Jimmy Maritz, het pas afgetree. Jimmy, ook bekend as Sir James, het in sy tyd in die wolbedryf die soort netwerke en gewildheid opgebou waarvan baie in BKB seker nog droom.

Vra jy hom oor die BKB-binnegeveg, verwys hy jou na die ringkoppe", maar mense na aan hom laat deurskemer hy is in die Kolver-kamp. Én dat hy diep ongelukkig oor die hele sage is. Wat het dit met die prys van eiers te doen? Wel, as daar een ou is wat die vermoë het om die besigheid te swaai, is dit Jimmy. Hy tree wel nou by BKB af, maar beslis glo nie uit die wolbedryf nie.

Wat Manie laat wonder: Het die opposisie hom nie dalk al genader nie - veral oor hy en dok Jan die laaste tyd by twee geleenthede so druk in gesprek gesien is? Daar's hoeka mos geen klousules in die wolbedryf wat 'n óorlopery verhinder nie.

Kan nogal 'n gatslag vir BKB wees, maar, wag, dalk is dit heeltemal onskuldig. Dalk praat hulle oor windpompe, een van Jimmy se groot liefdes. Hoe sal Manie nou weet!

VRYVAL: 'n Suid-Kaapse boer bel Manie en sê hy kan nou geel mielies (YM1) teen R775/t in Marydale se wêreld koop. Dis 'n raps bokant uitvoerpariteit van rofweg R765 vir Maart - wat, terloops, nog op 'n wisselkoers van R8,45 gegrond was. Sedert dié som gemaak is, het die rand verder versterk.

Gelewer teen vervoerkoste van R190/t tot op sy dorp, sê Manie se vrind dit kos hom altesaam onder R1 000/t, terwyl sy koöperasie hom in Januarie nog R1 700/t gekwoteer het. Hy sê ook die voerfabriek op hul dorp het sommer nou die dag nog fluks mielies teen R1 500/t aangekoop. Kan julle nou dink onder watter druk dié arme man sal wees as boere hom begin peper oor wanneer sy voerprys dan ook begin tuimel?

Hoe vinnig het die wiel nie gedraai nie! Toe die prys hier rondom R1 850 gekook het, het die slim ouens mos gesê hy sal nooit weer laer as R1 200 val nie. En kyk met watter stink spoed het hy oor daai hekkie gespring. Met 'n mielie-oes van 9 miljoen ton in sig wonder 'n mens waar hy gaan stabiliseer.

Finansminister Trevor Manuel het natuurlik in sy Begroting ook na hierdie ommeswaai in die mielieprys verwys. En die vertroue uitgespreek dat dit dienooreenkomstig neerslag sal vind in kleinhandelspryse "sodat verbruikers by hierdie gunstige neiging baat kan vind".

Manie hoop iemand anders as boere se gatte gaan 'n slag brand. Ons hou jou en die Voedselpryskomitee dop, Johann Kirsten!

14 Maart 2003