Landbou
Bemagtiging kom op dreef
JEAN DU PREEZ

Uit pres. Thabo Mbeki se kommersiële werkgroepvergadering vir die landbou het pas 'n hele paar gunstige klanke gekom.

Dit klink of foute van die verlede in die grondhervormingsproses meer geredelik erken word, terwyl realisme oor die ekonomiese werklikhede van die landboubedryf duidelik al hoe meer begin seëvier. Mislukte grondhervormingsprojekte word nie meer, soos in die verlede, net weggepraat nie. Daarby word erken dat nie alle grondloses noodwendig wil (en kan) boer nie.

Nogtans stoomroller die proses voort en is daar geen twyfel nie dat grondhervorming deurgevoer sal word — met óf sonder teenkanting. Wat veral bemoedigend is, is dat die Regering hom nie meer blind staar teen grond alleen nie, maar omvattender kyk na waar transformasie in die hele voedselketting kan inpas. Vandaar die taakspan wat voor Februarie aanstaande jaar na 'n geïntegreerde landboustrategie moet kyk.

Die konsephandves oor swart ekonomiese bemagtiging in die landbou, waaroor min. Thoko Didiza pas gepraat het, is net nog 'n stap nader aan groter verteenwoordiging in die hele waardeketting.

Dit is in almal se belang dat hierdie prosesse deurgevoer word en slaag. As dit nie op 'n vrywillige basis met boere en die res van die sektor se samewerking slaag nie, sal dit in elk geval afgedwing word, met groter nadele vir die kommersiële landbou.

Dit is al bewys dat die landbou in Suid-Afrika nie 'n mededingende kommoditeitsverskaffer is nie. Daarom is dit goed dat daar binne die hervormingsproses gekyk word hoe kommoditeite aan sektore verskaf kan word waar waarde toegevoeg kan word.

Die hervormingsproses gaan groot eise aan die fiskus stel. Die waarde van landbougrond word op R70 miljard gereken. 'n Hap van 30 % vir herverdeling, plus die geweldige bedrae wat ook in die vestiging en ontwikkeling van nuwe boere moet ingaan, sê duidelik die land kan nie bekostig dat hierdie geld in die water beland nie.

14 November 2003