Landbou
Wit landbou onder die skalpel
Deur MANIE

Moenie dat ons vandag doekies omdraai nie: Die wêreld om ons is teen 'n wit landbou. Dus, hoe gouer ons hierdie landbou van ons inkleur, hoe beter.

Toe Corwyn Botha van Kaap Agri nou die dag op die kongres van Agri Wes-Kaap oor die beeld van die landbou praat, het hy dit weliswaar nie in soveel woorde soos hierbo van die verhoog af gesê nie, hy't die flitskaartjie met dié sleutelwoorde per abuis oorgeslaan, sê hy agterna aan Manie.

Maar daar staan dit duidelik in sy toespraak wat aan die media uitgedeel is, en wat meer is, Manie kan dit gerus maar oordra, laat weet Corwyn.

Ek het tydens die kongres afgelei daar was manne wat nie mooi kon (of wou) verstaan wat Corwyn probeer oordra het nie. Ander weer had lof vir sy openhartigheid oor een van die grootste brandpunte in landbou.

Corwyn reken dié "inkleur" van 'n oorwegend wit sektor is die beste geleentheid wat daar is vir beeldbou in die landbou. "Los die kleurgeveg vandag in hierdie saal, los dit net hier," het hy herhaal.

Kom, Manie haal nog so 'n paar sinne aan uit sy toespraak.

"Kom ons aanvaar nou ons weet wie ons belanghebbendes is. Hoewel, in die werklike lewe dink ek nie ons leierskap in die landbou het dit al vir ons gedefinieer nie. So, ek dink nie ons weet regtig nie. In elk geval, wat moet ons dan nou doen om ons beeld by hulle reg te stel sodat hulle ons ondersteun?

"Ons moet hulle versorg en laat groei. Met ander woorde, hulle moet beter doen en hulle moet ontwikkel omdat ons in die landbou is.

"Daar is niks wat die goeie, voordelige bedoeling van die landbou klop nie. Dit gaan oor die voedsel wat ons eet, die vesel wat ons klee en die wyn wat ons drink. Dis die kernrede waarom landbou bestaan. Sodoende raak ons elke lid van ons nasie elke dag, en al dié dinge kom van 'n produserende plaas af. Dus rus die hele sekondêre sektor op hierdie produserende plase."

En dan aan die einde hierdie sin: "Miskien is die belangrikste om te onthou dat ons beeld maar net in ons eie hande is, dat ons self daarvoor verantwoordelik is en na niemand anders as onsself kan kyk om ons beeld te skep nie." Herkou en laat weet gerus wat julle dink.

AL WEER!: Maar dit het Manie toe ook aan iets anders laat dink.

Dis opvallend hoe dikwels op kongresse amper met smaad geboor word op mislukkings met grondhervorming, hoe min oor die suksesverhale gepraat word.

En ek laat my nie vertel daar is nie genoeg suksesverhale om oor te praat nie.

Nou die dag se Agri Wes-Kaap-kongres had ook maar 'n slaperige onderwerp of wat. (Skuus, Christof, maar Manie sê mos maar pal hoe dit is.) Gee dié goed eerder op skrif vir kongresgangers en laat drie of vier boere wat werklik al sukses behaal met grondhervorming, dié tyd benut om hul resep aan die res te verduidelik.

Ek kry die indruk daar is hope boere wat sit en smag na 'n stukkie praktiese raad oor hoe om byvoorbeeld hul plaaswerkers te bemagtig, hetsy dit deur die aankoop van 'n buurplaas is, of wat ook al.

Dan stap boere mos daar uit met iets tasbaars in die hand.

Terloops, daar was 'n Suid-Kaapse boer wat van die vloer af genoem het van 'n resep wat by hulle werk. Wat Manie se antennas laat opspring het: Hoe lyk sulke resepte?

As ek my notas reg lees, het die Wes-Kaapse landbouminister, Cobus Dowry, ook die versugting oor meer suksesstories in sy kort repliek uitgespreek.

Ag, hemel tog, maar toe gaan 'n Kaapse koerant weer en maak 'n helse bohaai oor daar glo te veel kritiek op die kongres teen Dowry was.

Natuurlik moet ons tog nooit só politiek korrek raak dat daar nie kritiek gelewer kan word, of só kleinlik dat dit nie gevat kan word nie, maar, genugtig, daar is soveel belangriker goed as om in die koerant verwyte heen en weer te slinger oor 'n skewe opmerking.

Nou neem die koerant Agri Wes-Kaap kwalik, terwyl dit hulle (die koerant) is wat 'n beuselagtigheid 'n klomp warm lug loop gee het.

Nietemin, terug by Corwyn, en veral dié opmerking: "Hoekom vat ons soveel houe? Omdat ons hierdie mikrofone gebruik om te sê hoekom swart boere nie sukses gaan behaal nie.

"Wat bereik jy deur tot vervelens toe voorbeelde hieroor aan te haal?

"Onthou, jou intensie bepaal jou beeld."

SÊ HAAR, DIRK!: Nog 'n laaste kongres-opmerking deur 'n boer van die Weskus. "Dis maklik om te bemagtig. Kry boere se 'goodwill', haal die politiek uit grondhervorming, en ons haal nie 30 % nie, maar 50 %; ons sal vinniger beweeg as wat julle ooit kon droom."

Manie het 'n versoek vir ons adjunk-minister: Ou Dirk, vertaal bietjie daar en stuur vir Lulu, man! Manie weet jy lees gereeld hier, maar oor haar is ek nog nie seker nie.

BLY WEG: Terwyl ons oor die beeld-ding praat: Nou die dag in n radioprogram bel iemand en maak beswaar omdat die koerante die woord "boer" in 'n hoofopskrif gebruik het by 'n berig oor iemand wat daarvan aangekla word dat hy 'n meisie vermoor en toe in 'n tenk op sy plaas versteek het.

Ons moet darem nou nie naïef wees nie. As byvoorbeeld 'n dokter of 'n SAL-vlieënier droogmaak en die koerante haal, gaan die opskrif nie bloot sê: "Man oor moord aangekeer" nie. Dit gaan lui "vlieënier" of "dokter".

Só is dit met boere, en so sal dit bly. Oor redes wat dikwels totaal onregverdig is, kleef daar by baie 'n slegte betekenis aan die woord boer. Maar as boere oortree, sal daardie woord vinnig in hoofopskrifte uitgepluk word. Dis maar hoe die media werk.

Sorg dan bloot dat julle wegbly van die goed wat jul naam kan beswadder.

WIE'S HULLE?: Ná dertig jaar in die landboujoernalistiek leer Manie wragtag steeds nuwe goed. Soos dat daar 'n Aalwynraad van Suid-Afrika is.

Wat doen hulle, hoeveel lede het hy, waar boer hulle, wat maak hulle als met die aalwynsap en hoe winsgewend is dit? En oes jy hom nog soos toeka?

Met die enorme wêreldswaai na als wat natuurlik is, kan ek my indink die aalwynmanne is goed geposisioneer, of hoe?

Landbouweekblad 10 Augustus 2007