Landbou
Plan nommer hoeveel?
Deur JEAN DU PREEZ

Die Regering het pas sy soveelste grondplan bekend gemaak. Die verskil dié keer is wel dat dit 'n eerste is om soveel plaaswerkers van grond te voorsien.

En soos met die bekendmaking van vorige planne met grond-oordrag, is dié een ook vir eers in groot onsekerheid gehul.

Niemand weet presies wat die Departement van Grondsake wil doen nie, hoe hy dit wil doen nie, en - selfs belangriker - wat die moontlike gevolge kan wees nie.

Wat weer duidelik is, is dat kommersiële boere die een of ander onbedoelde belang in die opstel van die plan het. Met die jongste plan word gesê plaas-uitsettings is die rede hoekom sowat 5 miljoen hektaar grond aan 2 miljoen plaaswerkers voorsien gaan word.

Plaaswerkers is arm, weerlose mense. Dit is dus goed dat die Regering sy plig nakom om hulle te beskerm.

Daar ís gevalle waar boere en hul werkers verskil en 'n werker gevolglik die boer se diens verlaat. Daarby fouteer boere ook wel wanneer die uitsettings onwettig is.

Die Regering se optrede teenoor die landbou - en veral by grond-aangeleenthede - het die laaste drie jaar of wat intenser geword. Die belangrikste ontwikkeling is die verandering in wetgewing oor onteiening wat die Regering die geleentheid bied om in te gryp. Die tekens toon dat daar wel in dié rigting beweeg word.

Met die jongste aankondiging kan die Regering se program om grond oor te dra, bemoeilik word met grondpryse wat skerp styg. Grond gaan geïdentifiseer word vir oordrag na plaaswerkers. Die jongste inligting toon dit is vir boerdery én behuising.

Die kans is goed dat die grond bo produksiewaarde aangeskaf kan word. En die Regering besef dit. As oplossing vir só 'n dilemma kan die Regering oorgaan tot groter ingryping.

Met die Departement van Grondsake wat lank reeds sukkel om dienste te lewer, behoort die Regering meer te doen om sekerheid te skep.

Landbouweekblad, 7 September 2007.