Landbou
Dit gaan glo beter met Lulu
Deur MANIE

Dit lyk op die oog af of die botsing vroeër vanjaar tussen Agri SA en Landbouminister Lulu Xingwana tog ook sy voordele gehad het.

Manie verneem uit ingeligte kringe die venyn wat na bo gedryf het in haar vergaderings met Agri SA in die maande ná haar aanstelling het plek gemaak vir 'n meer opbouende benadering, hoewel beklemtoon word dat sy nie haar sakelys dramaties verander het nie, veral oor beweerde menseregteskendings op plase.

Sy is duidelik baie sterk daarop ingestel om sulke voorvalle op plase uit te krap. Al verskil is sy weet nou sy gaan nie wegkom met veralgemenings hieroor nie, dus is sy 'n raps meer konserwatief in haar benadering, sy werk nou deur die regte kanale.

Manie hoor ook die minister is ook meer as voorheen geneë om te luister na die ander kant van die munt.

Maar dat menseregteskendings op plase 'n bitter teer punt by haar bly, is onbetwisbaar. Die feit dat sy ál nege haar provinsiale landbouministers opdrag gegee het om pertinent vir sulke bewyse te laat rondsnuffel, asook die Menseregtekommissie se opdrag in dié verband, is maar alles tekens dat hier 'n gróót vergrootglas bokant boere hang.

Waarmee die landbou nie 'n probleem behoort te hê nie (of altans, ons hoop nie so nie), want vergrype kom immers nie op so 'n massiewe en onbeheerste skaal voor as wat voorgegee word nie.

Dat daar egter nou só 'n opvatting bestaan - en dat die minister daartoe bygedra het - is ook gewis. Jy hoef nie veel verder te kyk as die Menseregtekommissie se formulering van sy taakopdrag nie. Dit skep die indruk hy het as ' ware klaar besluit boere is skuldig, hy soek nou net die stawende inligting.

SEB-TYD?: Van die Minister gepraat, sekerlik 'n goeie aanduiding oor hoe sake nou vorder met die finale handves vir swart ekonomiese bemagtiging, het nou die dag uit die Oos-Kaap gekom toe sy 'n projek vir braaikuikenproduksie geopen het. Laat September of vroeg Oktober is wanneer sy hoop die landbou sy handves bekend gaan stel, laat weet sy.

Dit lyk dus daar word hard agter die skerms gewerk.

Maar, ja, die haakplek gaan sekerlik steeds die afsnypunt wees. Gaan boere met 'n omset van minder as R5 miljoen werklik vrygestel word? Of gaan Lulu druk dat meer boere bemagtig en dat sy haar sin kry met 'n afsnypunt van R1,5 miljoen in omset?

Dit gaan 'n belangrike besluit wees. Dis daardie debat wat nog lank nie uitgepraat is nie: Politiek of ekonomiese redelikheid.

Want met haar eis vir R1,5 miljoen is sy steeds stroomop met Handel en Nywerheid se algemene kodes.

KEELVOL: Manie het laas week gesê die gerug dat die Garsbedryfskomitee 'n ooreenkoms met SAM, die bierreus SABMiller se vermoutingsfiliaal, het om nie met die media te praat nie, kan darem nie waar wees nie.

Inderdaad is dit nie waar nie, maar dit wys jou net hoe vinnig inligting onder boere in 'n verkeerde rigting kan loop.

Want wat dit in werklikheid is, is dat die komitee self besluit het om nie gedurig nuusverklarings oor hul onderhandeling met SAM uit te reik nie, hoewel hulle bereid is om openhartig met ons oor dié sensitiewe kwessie te praat.

Manie skat natuurlik die sluise kan maar oopgetrek word oor die behandeling wat garsboere van SAM kry. Want, wragtag, gatvol is 'n sagte woord om boere se emosies hieroor te beskryf.

Hier het ons nou vir die eerste keer 'n situasie waar die wêreldprys van gars hoog is - baie hoog, en reeds weer hoër as die R2 400/t wat Manie laas week genoem het. Maar SAM laat garsboere nie toe om in daardie oplewing te deel nie.

Veel eerder loop dreig hulle garsprodusente met 'n tender wat SAM glo op die punt staan om met die Aussies te sluit teen R1 700/t. Wat Manie aan iets herinner: Het SAM dan nie al by geleentheid uitdruklik gesê Australiese gars is nie na sy sin nie?

Nietemin, wat ons hier sien, is 'n monopolie in snelrat. SAM eis van Suid-Afrika se garsboere om die beste gehalte ter wêreld te produseer, maar teen die laagste invoerprys wat jy kán uitkrap.

Wat seker hul goeie reg is. Dis 'n vrye mark. Dan weer, boere gaan ook net so lank staan en toekyk hoe die skaalbak altyd in SAM se guns swaai.

Wat' die oplossing? Los gars! En dit, vrinne, was die sterkste boodskap wat Manie laas week op die Mega Week op Bredasdorp opgetel het. Soos een boer vir my sê: Ons het 'n gedenksteentjie vir gars op die kop bokant Bredasdorp geplant. Die roudiensie was ook maar kort.

BLUF HY?: Maar Manie wil terugkom na daai Australiese tender waarmee SAM die boere dreig. Ek stuur toe 'n e-pos aan Andrew Marshall, redakteur van The Land, Landbouweekblad se eweknie in Australië.

Sê my bietjie, vra ek hom, wat praat julle daar oor gars?

Uitvoerprys in Newcastle ('n uitvoerhawe in Nieu-Suid-Wallis), was laas week $335/t (R1 965), maar dis nog die ouseisoen-prys. Want lees bietjie wat sê hy, en ek los dit net so in Engels: "The upcoming crop is worth a bomb this week, with prices jumping almost daily."

Dan noem hy ook dat daar toenemende kommer is oor hul droë winter. Hitte is besig om die vog vinnig uit die grond te tap.

Terug na Suid-Afrika. Of oubaas Charles Coe van SAM ons boere net bluf, weet ek nie. Indien daardie tender waar is, piets hy duidelik ook 'n klomp Aussie-boere, gegewe wat Andrew hierbo sê.

Ook uit Nieu-Seeland verneem Manie hul Federated Farmers se graanafdeling sê kopers druk hul boere om vir $300/t te teken terwyl die prys baie hoër is.

Hul raad aan garsboere daar? "Don' sign a contract at the moment unless it' got a four in front of it." (Dis in die koers van R2 018/t.)

Iemand ingelig sê my 75 % van ons garsboere het klaar geteken. Dan weer, daai kontrak het ook maar sy ontsnap-roetes. Met mielies wat Desember skaars en duur gaan word, gaan ons dalk groot hoeveelhede moutgars na die voermark sien vloei.

Die ding gaan jou dalk vinniger pik as wat jy dink, oom Charlie!

Terloops, en steeds by graan: 'n Ingeligte sê my laas week 'n koringprys van R3 500/t aanstaande jaar Junie is nie onmoontlik nie, hoor.

Hel, ek weet darem nie . . .

Landbouweekblad, 7 September 2007.