Landbou
So amper 'n hengse flater
Deur MANIE

Die woord risiko het so amper-amper 'n nuwe betekenis gekry. Daar word mos gereeld gesê boerdery is 'n riskante besigheid; ook dat jy jou risiko's goed moet bestuur. Maar dan is daar goed wat nie by dié interpretasie ingesluit is nie - byvoorbeeld iets soos 'n doodgewone bokkerop. Kortom, optrede deur iemand wat só aanjaag dat hy jou hele besigheid in gevaar stel.

Dis presies wat pas byna gebeur het.

Manie tel die storie nou die dag op die Megaweek op Bredasdorp op. So tussendeur al die uitstallings en bladskud met 'n klompie ou én nuwe vriende, besluit Manie om te gaan luister wat in die kerksaal op die dorp aangaan. Dis daar waar die Melkprodusente-organisasie (MPO) vergader.

Op die verhoog praat dr. Hinner Kôster, voorsitter van die Vereniging vir Veevoervervaardigers (Afma), oor melanien en veevoer. En so terloops verwys hy na die registrasie van veevoer - ook hoe lank dit vat.

Maar toe laat val Hinner 'n bom: Die nuutste regulasie van Landbouminister Lulu Xingwana is dat elke mengsel van veevoer - by implikasie ook jou eie op die plaas - geregistreer moet word voordat dit aan vee gevoer kan word.

Hoe nou? wonder Manie toe.

In 'n gesprek sê die doktor later dis soos dit in die afkondiging in die Staatskoerant staan. En hy' reg, Manie het self gaan kyk. Maar dit blyk toe dat amptenare opgevolg het, en gesê dit is dalk nie so duidelik uiteengesit hoe die proses gaan werk nie.

Dis nou presies wat Manie 'n bokkerop noem. Want met só 'n kennisgewing kon die Regering die vee-, melk en pluiveebedryf tot 'n absolute stilstand gebring het.

En dit net oor 'n verduideliking wat in die proses weggelaat is.

Ons het nie ligte mistykies soos dié nodig nie . . .

TE LANK!: Steeds by die veevoer-saak. Nou-ja, hoewel daar nou vir duidelikheid gewag word, is een ding duidelik: Die bedryfsliggaam wat moet toesien dat veevoer veilig en geskik is, is ook maar erg gefrustreerd. As Manie mooi luister, voel die manne hulle kan doen met bietjie meer steun van staatskant. "Jy wag minstens ses maande vir 'n doodeenvoudige aansoek wat moet deurgaan. Ons sou graag wou sien dat meer mense aangestel word. Hulp is aangebied, maar dit word nie aanvaar nie. In dié stadium doen ons self-polisiëring - en ons is strenger op onsself as wat die staat eintlik vereis," is hoe dit aan Manie verduidelik word.

OU LIEFDE: Die geheim is uit. Prof. Gill Marcus, 'n voormalige adjunk-minister van finansies en deesdae voorsitter van die Absa-groep, het 'n besondere liefde vir beeste.

Toe sy die anderdag die Pretoria-skou moes open, het sy voor die tyd, tot die onsteltenis van die organiseerders, 'n tyd lank verdwyn.

Later het sy erken dat 'n skou haar aan haar kinderdae herinner en dat sy nie 'n skou kan besoek sonder om die beeste te gaan bekyk nie. Sy moes eers daar 'n draai maak.

Sy sê haar pa het 'n besonderse Ayrshire-bul, Capex Gladiator, op hul plaas by Kroonstad gehad. Die bul het graag by die buurkoeie gaan kuier en omdat hy só mooi was, het die bure altyd die besoeke verwelkom. "Die gevolg was dat omtrent ál die beeste in die omgewing later rooi en wit was. Ons het die bul gehad, maar die bure al die kalwers."

GEVOELIG?: Dit lyk my Manie se onlangse ondeunde opmerking dat ons ná vanjaar se koringoes straks 'n fris getal nuwe bakkies en Cruisers in boeregeledere kan sien, het 'n klomp manne opgewen.

Op die afgelope Megaweek het 'n paar boere van Bultfontein Manie glad prontuit daaroor gepak.

Nou hoekom so liggeraak? Wat' daarmee verkeerd as boere nuwe voertuie aanskaf? Jy hoef mos nie skaam daarvoor te wees as sukses jou beloon nie.

Dis soos die landbou werk. Soms rol hy jou in die modder rond, ander kere wys hy sy mooi kant. En as dit skeptyd is, is dit skeptyd, te dêm met wat die res sê. Nou die dag raps 'n ander boer Manie ook oor hy oor die hoë koringprys skryf. Is dit nodig dat jy die goed so uitbasuin, blaf hy in die telefoon, die kunsmismanne lees dit - en verhoog hul prys daar en dan.

'n Ander een sê dit is só, melkboere vaar nou beter, maar moet tog net nie sê ons maak nou geld nie, netnou verlaag kopers weer hul prys.

Manie dink regtig hy' geen invloed op die kunsmisprys nie, nog minder op melkkopers se somme.

Nietemin, ek het al baie gewonder wat die ware sielkundige verklaring daarvoor is dat boere so graag kla, en as dit die slag goed gaan, bly hulle huiwerig om dit te erken.

Terloops, van koring gepraat: In daardie einste stukkie het Manie verwys na die allerbelangrike Septembermaand vir Wes-Kaapse koringboere. In die Swartland het dinge laas week nog uitstekend gelyk, maar in die Rûens en veral verder Suid-Kaap toe het droë toestande met die skryf hiervan begin byt.

Kom ons hoop die weer draai reg.

ADVIES: Die Regering het sekerlik nog nooit goed gereageer op ongevraagde advies nie, maar dalk moet 'n mens tog die gedagtes oor die volgende laat gaan: Clem Sunter, bekende strateeg en spreker, het op die einste Megaweek gesê daar moet dalk weer gedink word hoe nuwe boere in die landbou ingetrek word.

Nou-ja, op die oomblik het die staat eintlik net een model. Verskeie kommersiële boere het al met hul eie planne vorendag gekom. Dus, daar' nie een standaard-resep vir hoe grondhervorming aangepak behoort te word nie.

Tog sê Clem hy kan nie sien dat nuwe, swart boere op groot skaal gaan slaag as hulle op die huidige manier ingetrek word nie. Hy voel sterk daaroor dat die nuwe boerdery-onderneming die vorm van 'n maatskappy moet aanneem, en dat aandele aan die swart boere uitgereik word.

Daarby meen hy ook dat nismarkte 'n sterk fokuspunt behoort te wees. Nuwe boere - en die advies geld selfs huidige boere -gaan toenemend moeilik meeding op kommoditeitskaal. Want die enigste manier hoe jy op dié manier wen, is deur só groot te wees dat jou koste daal. Nismarkte, gehalte en toegevoegde waarde is eerder die gepaste roete.

Manie skat Clem gee dié raad met 'n diep insig van waarheen die wêreld en die landbou op pad is .

Landbouweekblad, 14 September 2007.