Die jongste onderonsie tussen die Regering en kommersiële boere is vir die landbou 'n reuse-terugslag, gegewe die enorme uitdagings wat in dié sektor wag.
In wese beteken die nuwe vertrouensbreuk dat die bedryf sedert Landbouminister Lulu Xingwana se aanstelling in 'n jaar se tyd water getrap het.
Die ooglopende somtotaal van die jongste bekgeveg is eenvoudig: Die twee groeperings praat nie reguit met mekaar nie!
Veel eerder vlieg beskuldigings en dreigemente nou van openbare verhoë af heen en weer tussen die Regering en die kommersiële boere.
Dit kan nooit werk nie.
Allerhande verklarings word gegee vir die jongste onderonsie. Soos dat dit gesien moet word in die lig van die komende leierskapstryd in die ANC.
Ook word uit bronne na aan die Xingwana genoem dat daar wantroue is in kommersiële boere se leiers, dat hulle een ding sê, maar dat boere iets anders doen.
Daarby word die stadige pas van transformasie in die landbousektor uitgelig as 'n bron van groot irritasie by die Regering.
Maar eweneens is daar aan die kommersiële landboukant agterdog oor Xingwana se agenda. Haar lyftaal met die jongste uitlatings, maar veral die smaad waarmee sy haar "skop-skiet-en-donner"-verwysing nou vir die tweede keer opgehaal het, laat boere wonder. Probeer sy sê die vorige regering het so opgetree, hoekom nie sy ook nie?
Dis dalk musiek op die ore van die populiste wat Xingwana aan hul kant probeer hou, maar vir die landbou is dit 'n rampspoedige mynveld - bloot omdat dit 'n verharding bring wat reeds trae vordering in die sektor net verder ontwrig.
Dis tyd dat die twee groeperings reguit vir mekaar sê wat hulle van mekaar pla. Die landbou is 'n te ingewikkelde bedryf om emosioneel van openbare verhoë af te probeer omvorm. Mislukte grondhervormingsprojekte en stygende voedselpryse is goeie rigtingwysers hiervan.
'n "Skop-skiet-en-donner"-benadering gáán Suid-Afrika in 'n tweede Zim laat verval.
Landbouweekblad, 28 September 2007